Mediaverklaring

9 April 2024

Stigtingsdag is ’n dag waarop ons as Afrikaners ons herkoms kan vier.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Kultuurnetwerke in die sentrale streke van die land het op Saterdag 6 April Stigtingsdag gevier (die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap in 1652) met “Noot-vir-Noot”-geïnspireerde musiekpret.

Hierdie unieke viering het dus nie gepaard gegaan met vertellings van die geskiedenis nie, maar was ’n viering van ons musiekerfenis – ’n kosbare erfenis wat vandag steeds gevier behoort te word.

Op die FAK se kultuurplaas net buite Parys in die Vrystaat, Udolpho Rivierplaas, het 30 deelnemers byeengekom en ou volksliedjies saamgesing.

Die FAK-kultuurnetwerke, tesame met die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) se Vredefort-tak, het hierdie “Noot-vir-Noot”-saamsinggeleentheid aangebied. Oud en jonk het weer in die skatkis van ons Afrikaanse musiek gegrawe en werklik weer die mooi van Afrikaanse liedere ontdek.

Erna Rademan, voorsitter van ATKV Vredefort, beveel elkeen aan om by kultuursake betrokke te wees “omdat ons kan en moet”.

Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van FAK Sentraal, het die saamsing met die gemeenskap terdeë geniet.

“Dít is waarvoor ons hier is – onbaatsugtige diens aan ons gemeenskap en om ons kultuur in stand te hou,” sê Malan.

Daar word beoog om later vanjaar weer so ’n geleentheid op Udolpho Rivierplaas aan te bied. Gemeenskappe van oraloor word genooi om aan hierdie speletjie deel te neem. ’n Datum sal nog bevestig word en sal via die FAK se sosialemediablaaie gekommunikeer word.

Kultuurerfenis het verskeie fasette wat gevier en beoefen behoort te word. Die jeug van vandag ken nie altyd ons geliefde ou volksliedjies nie.

Die FAK-kultuurnetwerke bied dikwels geleenthede soos dié aan. Sluit aan by jou naaste kultuurnetwerk, of stig een in jou area om kultuur en erfenisbewaring te help bevorder en bewaar vir die nageslag.