BOEKRESENSIE
Hoek toe of hof toe?
Dr. Danie Langner
Deur Werner Human
Dit is amper asof daar ’n tinteling teen jou rug afbeweeg wanneer Frikkie, die “aanklaer” en protagonis in Hoek toe of hof toe?, besluit om Afrikaans voor die hof te daag. Die aanklag is nie gering nie. Dis geen oppervlakkige dispuut of emosielose eis vir skadevergoeding nie. Dit is eerder ’n aanklag in die sterkste bewoording: dat die hof eens en vir altyd moet verklaar dat Afrikaans se wortels in ellende, magsbeheptheid en uitsluiting lê. Meer nog, dat dit tyd is dat sy verantwoordelik gehou word en selfs bestraffende maatreëls opgelê word.
Hoek toe of hof toe? is dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, se nuutste publikasie en bied ’n boeiende reis deur die verskillende fases van die ontwikkeling van Afrikaans. In die besonder word die leidende figure in ons taalverhaal onder die loep geneem.
Frikkie, gevorm deur sý kennis van die geskiedenis, voel dit is onbillik om ’n las te dra waarvoor hy nie aanspreeklik gehou kan word nie. Tog is daar iets wat hom keer om Afrikaans sommer so te verwerp. Iets wat hom noop om te sê dat sy, deur alles heen, ’n kans gegun moet word. Miskien is dit sy regstudies wat hom laat besef: die “ander kant” moet ook gehoor word.
Reeds deur die eerste getuies word dit duidelik dat die aanklagte – wat eeue se gebeure beslaan – nie so eenvoudig is nie. Die vroeë ontwikkelingsjare van Afrikaans het ontspring uit gewone mense wat ’n bestaan probeer maak het; mense van uiteenlopende agtergronde en oortuigings wat sin van hul wêreld moes maak. Bo hulle was daar egter ’n owerheid wat sy greep al hoe stywer gedruk het.
In hierdie vroeë tyd hoor ons die stem van die Franse dominee Pierre Simond: “Identiteit maak saak”. Ons hoor Simon van der Stel, wat meen dat verskeidenheid verdeeldheid kan saai, en dat ’n nuwe identiteit deur Nederlands gesmee kan word. Ons ontmoet Piet Retief, wat glo dat die Afrikaner net ’n volhoubare en vrye bestaan wil voer; Lord Charles Somerset, wat die Britse beskawing as die mees nastrewenswaardige beskawing beskou; en Susanna Smit, volksheldin van die Groot Trek, wat die unieke rol van Afrikaans in godsdiensbeoefening beskryf.
Miskien wou Frikkie hierdie vroeë ontwikkelingsjare van Afrikaans sommer skuldig bevind – dit sou sy taak as aanklaer vergemaklik. Maar kan ’n taal in ’n onwetend-ontkiemende fase so eenvoudig afgeskryf word? Nee, dit is te vroeg. ’n Dieper ondersoek is nodig.
In die fases wat volg, sien Frikkie ’n taal wat stadig vorm kry. ’n Taal wat klein begin, maar groot droom. Hierdie eerste, beskeie stappe spruit uit ’n diep begeerte om in Afrikaans te skryf, ’n kultuurlewe te skep, en geloof uit te druk. Dié beskeie begin groei tot ’n taalbeweging. Die prag van Afrikaanse letterkunde, poësie en skryfkuns; die waagmoed van jongmense wat teen die tydsgees ’n Afrikaanse publikasie begin. Dit is niks minder as merkwaardig nie.
Hoe moes Frikkie hierdie getuienis beoordeel? Wat begin het as ’n eenvoudige aanklag, word nou ’n ingewikkelde saak: deur watter lens kyk ’n mens na eeue se geskiedenis om ’n skuldigbevinding te regverdig?
Die eerste taalbeweging het nie sonder weerstand, meningsverskille of struikelblokke gekom nie. Tog het die ideaal van ’n vrye voortbestaan helder gebly. Selfs ná die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog, toe die Britse owerheid die kans gehad het om Afrikaans te vernietig, het die taal in mense se harte bly leef. President M.T. Steyn getuig dat Afrikaans nie verlore mag gaan nie, selfs in die donkerste tye.
Die aanloop tot 1925, toe Afrikaans as amptelike taal erken is, bevestig vir Frikkie dat hierdie mylpaal meer as ’n simboliese oorwinning was. Dit was ’n bewys dat volgehoue toewyding en kultuurtrots ’n taal kan red.
Vandag, ’n eeu ná daardie mylpaal, staan Afrikaans steeds voor ’n hof van openbare mening – soms beskuldig, soms verdedig. Haar toekoms lê egter nie net in die hande van regsargumente of geskiedkundige feite nie, maar in die harte van dié wat haar praat, skryf en leef.
Hoek toe of hof toe? laat jou voel of jy midde-in die hofgebeure staan. Jy beleef saam met Frikkie opgewondenheid én vrees. Dié moet-lees-werk gee die leser die geleentheid om oor sy of haar boubydrae tot ’n volhoubare toekoms vir Afrikaans te besin.
Die vraag is nie meer of Afrikaans ’n verlede het nie – dit is onbetwisbaar. Die vraag wat in die leser se kop luier, is of ons die moed het om haar toekoms te bou. Want soos die getuienis leer: ’n taal oorleef nie bloot deur verdediging nie, maar deur skepping – deur die daaglikse daad om haar te gebruik, te vernuwe en aan die volgende geslag oor te dra. Dáár lê haar hoop, en dáár lê ons verantwoordelikheid.
- Werner Human is operasionele hoof van die Solidariteit Beweging.
