Die Duitse komponis Robert Schumann het eens gesê: “Musikante se plig is om lig in die duister van mense se harte in te stuur,” en min mense het dié plig so getrou nagekom soos oom Chris Lamprecht. Daarom het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) besluit om hom vanjaar te vereer.
In 2016 het die FAK vir die eerste keer die gesogte Andrew Murray-toekenning vir gewyde musiek aan die 89-jarige Chris Lamprecht, vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaanse kerkmusiek, oorhandig.
Op 16 Maart 2025 het die FAK hulde gebring aan die 97-jarige talentvolle komponis en musikant en aan hom die FAK-Prestigetoekenning vir sy lewensbydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek oorhandig.
Dié glansryke geleentheid by die NG Moedergemeente George is deur groot geeste in die Afrikaanse musiekkringe, soos Anneli van Rooyen, wat as jong hoërskoolleerling sangklasse by oom Chris ontvang het, bygewoon.
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, was dit vir hom en die FAK ’n reusevoorreg om in die jaar wat die Afrikaanse taal haar eeufees vier, hulde te kon bring aan ’n man wat ongelooflike diep spore in Afrikaanse musiek getrap het.
“Gister (16 Maart) het die FAK die herdenking van Afrikaans se eeufees begin met ’n spesiale ‘dankie’ aan ’n legende in Afrikaanse musiek, Chris Lamprecht,” sê Langner.
“Hy is in 1927 gebore; twee jaar nadat Afrikaans in 1925 as amptelike landstaal erken is. Toe die FAK in 1929 gestig is, was hy nog ’n klein seuntjie van twee jaar, onbewus daarvan hoe sy lewenspad en dié van die FAK oor dekades heen sou vervleg.”
Lamprecht se werk is ware volksbesit en het nie net ’n tuiste gevind in ons kerkbanke, skoolsale én die 1979-FAK-Sangbundel nie, maar in die harte van Afrikaanse mense reg oor die wêreld. Sonder dat ’n mens dit noodwendig besef, neurie ieder en elk van ons daagliks van Lamprecht se bekende komposisies wanneer ons ons gedagtes na God rig; daarom vier die FAK vanjaar die lewe en loopbaan van dié merkwaardige man.
Christian Engelbertus Lamprecht is op 1 Oktober 1927 in Bloemfontein gebore en matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal. Die grondslag van sy grootwordjare lê stewig in die kerk en in sy liefde vir musiek en na skool kry hy die geleentheid om hiérdie liefde behoorlik uit te leef ná hy sy BMus-graad in 1948 aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Daarna verwerf hy sy Voordraerslisensiate in klavier, orrel en sang aan die Universiteit van Suid-Afrika.
By die 50-jarige herdenking van die eerste Afrikaanse Bybelvertaling, soos in 1933 verskyn, was Lamprecht, op versoek van die FAK, verantwoordelik vir die bekende beryming van Totius se Psalm 8, wat vandag nog in Afrikaanse kerke gesing word.
Barry Müller, die FAK se hoof van nasionale projekte, sê dit is vir hom en die FAK ’n reusevoorreg om saam met Lamprecht sy nalatenskap van opvoeding, bewaring en bou te kan vier.
“Dit is vir my ’n groot eer om hulde te bring aan ’n legende soos prof. Chris Lamprecht, ’n man wie se nalatenskap diep ingeweef is in die weefsel van Afrikaanse musiek,” sê Müller.
Hy voeg by: “Sy werk het nie net ’n ryk spoor van klanke vir komende geslagte agtergelaat nie, maar ook ’n fondament gelê waarop ons vandag steeds bou. Prof. Lamprecht is meer as ’n musikale meester – hy is ’n baanbreker, ’n mentor en ’n inspirasie vir talle kunstenaars.
“Sy note praat met die siel, sy melodieë dra die geskiedenis van ons volk, en sy invloed sal nog lank voortklink in die harte van almal wat ’n liefde vir Afrikaanse musiek koester. Mag ons sy voorbeeld volg en die fakkel van ons musiekerfenis met trots dra.”
Lamprecht se nalatenskap is nie net een van uitnemendheid, toewyding én ’n toekomsvisie vir Afrikaanse musiek nie, dit blyk dat daar sélfs op die rype ouderdom van 97 nog geen keer aan hom is nie …
Dr. Langner het juis hierdie nalatenskap teen die einde van die aand perfék verwoord:
“Oom Chris sê ’n eeu is ’n lang tyd, waarin baie gebeur. In die eeu van sy lewe het hy vir Afrikaans ’n ongelooflike musiek- en koorerfenis nagelaat en met slégs drie jaar voor sy 100ste verjaardag, komponeer oom Chris steeds nuwe werke. Dit is voorwaar ’n eer en ’n voorreg om saam met die FAK deel te kon hê aan hierdie erfenis en die enigste gevoel waarmee dit mens laat, is dankbaarheid. Dankie, oom Chris, vir dit wat oom vir ons gebou het …”
Luister hier na die Aandgesang: https://youtu.be/lzE_-1p4RdE