DIE AFRIKAANSE LIEDJIETUIN
Die FAK se Liedjietuin is ’n spogtuin vol rose wat koning Rosekrans se paleis en die koningin van Harte se tuin vaal laat lyk.
Kom verkyk jou aan die Carike Keuzenkamp-roos of neem ’n foto van die Afrikaanse roos vir jou volgende profielfoto. Ons rose is uniek gekweek deur Ludwig Taschner en vernoem na legendariese Afrikaanse sangers en sangeresse. Toe Rina Hugo die eerste keer by Ludwig’s Rose instap om haar roos te kry, het die skelpienk pakkie wat sy aangehad het hulle so beïndruk dat hul daar-en-dan besluit het háár roos sal ook so lyk en vandag kleur die helderpienk rose die tuin by die Gerhard Moerdijk-huis mooi in.
Die Liedjietuin is meer as net ’n tuin vol rose. Dit is ’n kultuurtuin waar Afrikaans kan blom!
Is jy miskien op soek na ’n lekker Afrikaanse musiekspeellys vir die kar of soek jy Afrikaanse lirieke om in jou volgende Facebook-plasing te gebruik? Die Liedjietuin het oral plaatjies op met Afrikaanse liedjies en lirieke wat jy kan lees soos jy deur die tuin stap. Die Liedjietuin herinner ’n mens aan al die mooiste liedjies wat al in Afrikaans geskryf is. Sangers soos Chris Chameleon, Lukas Maree en Gé Korsten se musiek pryk in ons tuin. Terwyl Ma en Pa hulle aan die tuin verwonder, is daar ’n veilige speelarea om die jongspan besig te hou by die Kinderliedjietuin. Speel poppekas in die Lappop se rooi huisie of klim en klouter rond in die speelarea; die Liedjietuin is vir almal – oud en jonk!
CJ Langenhoven het van die Liedjietuin gepraat toe hy geskryf het dat Oktober die mooiste maand is. Ons pragtuin skitter in die lenteson. Die perfekte plek om matriekafskeidfoto’s te neem! Wil jy graag hê jou volgende funksie of onthaal moet ’n ander wysie sing? Dan is die Liedjietuin die ideale plek vir jou! Bespreek vroegtydig en die FAK dek vir jou ’n spogonthaal in die Liedjietuin. Daar is ook ’n bôma, braaigeriewe en ’n klein verhoog waar mense saam in Afrikaans kan sing. Wees trots Afrikaans en kom vier jou verjaarsdag, kombuistee of jou volgende funksie in die Liedjietuin.
Die Liedjietuin het al gasheer gespeel vir talle gewilde sangers soos Danie du Toit (Reënwolf) en Mathys Roets en is die perfekte plek vir jou om ’n buitelugkonsert aan te bied, ’n gesellige ooievaarstee te hou, ’n familie piekniek of ’n verjaarsdagpartytjie onder die bome.
Dit sal vir die FAK ’n lied in die hart wees om vir jou ons Liedjietuin te kan wys. Dit is immers ook jou tuin by jou kultuurtuiste. Kom wandel fluit-fluit saam met ons deur die mooiste Afrikaanse kultuurtuin wat daar is.
Stuur gerus ’n e-pos aan [email protected] om jou volgende funksie in die Liedjietuin te bespreek!
STOKKIESDRAAI
Dit is tyd om stokkies te draai en FAK wil vir jou nie beste “wegkruipplek” gee.
Stokkiesdraai se lapa- en braaigeriewe is die ideale plek om saam met jou vriende te kuier en van die sorge van die werksplek te vergeet. Kom vier jou volgende spesiale geleentheid by ons!
Stuur gerus ’n e-pos aan [email protected] om jou plek te boek en inligting oor die verskillende pakkette te ontvang.
DIE SAAILAER



Die Voortrekkermonument se splinternuwe fasiliteit, die Saailaer, is nou oop vir besprekings!
Kom beleef ’n besonderse oornagervaring in ons tradisionele ossewalaer, geleë net agter die Voortrekkermonument se kenmerkende rooi amfiteaterdakke. Of jy nou ’n uitstappie vir ’n skoolgroep, jeugorganisasie, kultuurgroep of familie beplan, die Saailaer bied ’n besonderse geleentheid om die geskiedenis op ’n oorspronklike en onvergeetlike manier te ervaar.
Besprekingsfooi: Vanaf R100 per persoon per nag. Die pakket sluit in: Slaapplek vir 38 persone en ‘n besoek aan die Voortrekkermonument.
Julle kan ook jul eie ervaring saamstel! Loer gerus hier na die lys van addisionele aktiwiteite wat beskikbaar is.
Die Saailaer beskik oor ’n braaiput met ’n groot braairooster, ’n klim-en-klouter-speelraam en groot, oop ruimtes rondom die laer waar kinders met hartelus kan baljaar, asook badkamers met stortgeriewe.
Vir meer inligting of om ’n bespreking te maak, stuur gerus ’n e-pos na [email protected]





















