28 Maart skep die geleentheid vir ’n unieke viering.

Dit is Internasionale Klavierdag én dit is Internasionale Vroue in Musiekdag.

Dus is 28 Maart ’n dag waar ons waarlik kan eer gee aan ons Suid-Afrikaanse vrouepianiste. So min van ons ken die werke van talentvolle pianiste en komponiste soos Christa Steyn, alhoewel sy wêreldklastalent en vaardigheid gehad het.

Vier saam met ons hierdie unieke dag.

Christa Steyn

Christa Steyn (1958-2012) was ’n bekende pianis, komponis, liedjieskrywer, musiekverwerker en vervaardiger wat oor meer as dertig jaar ’n geweldige impak gemaak het in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Haar komposisies en musiekverwerkings is oor die radio, TV, gehoorsale en by kunstefeeste uitgevoer en ook self as pianis. Sy was bekend vir haar besonderse vermoë as pianis, asook as komponis en het self ook lirieke van haar eie liedjies geskryf. Christa is in 2011 gediagnoseer met terminale kanker en is in Junie 2012 oorlede. Haar nalatenskap het ’n geweldige impak gemaak, veral in die Afrikaanse ligtemusiekstyl en sy word as ’n legende beskou op hierdie gebied. Van haar bekende liedjies is in die FAK Sangbundel Vol 2 opgeneem, nl. “Geel Madeliefies”, “Ek wil vir jou”, “Vlieg hoog”, “Eerste liefde”, “Aan die einde van die reënboog”, “Daarom skryf ek” en vele ander. Sy het ook talle instrumentale werke gekomponeer onder andere “Rondo”, “Fuga”, “Burlesque” en “Spirit of Ecstasy”.

Tessa Uys

Tessa Uys word beskou as een van Suid-Afrika se vooruitstaande konsertpianiste. Sy is gebore in Kaapstad en het haar konsert debuut op die ouderdom van sewe gemaak en het op dertienjarige ouderdom haar eerste concerto uitgevoer saam met die Kaapstadse Munisipale Orkes onder leiding van David Tidboald. Tessa het by die Koninklike Akademie vir Musiek in Londen studeer onder Gordon Green en het ook talle pryse verower as pianis, onder meer die Macfarren Medal. Uys verskyn as pianis in opnames van die Godowsky-transkripsies van 12 liedere deur Franz Schubert vir BBC Radio 3 en Radio Hilversum in Holland en sy het ook J.S. Bach se Goldberg Variasies vir BBC Radio 3 en GSE Claremont Records opgeneem. Sy het onder bekende dirigente, onder meer Sir Neville Marriner en Matthias Bamert, opgetree. Tessa is in 1994 gekies as assosiaat by die Koninklike Akademie vir Musiek in Londen. Sy verskyn ook saam met mede-Suid-Afrikaanse pianis Ben Schoeman in opnames van veral Beethoven se Simfonieë vir twee klaviere.

Nina Schumann

Nina Schumann is ’n Suid-Afrikaanse konsertpianis en professor by die Universiteit van Stellenbosch. Haar loopbaan as pianis het op ’n vroeë ouderdom begin toe sy op vyftienjarige ouderdom vir die eerste keer as solis saam met ’n orkes opgetree het. Schumann het talle pryse by kompetisies en kunstefeeste verower, onder andere die beste Suid-Afrikaanse pianis by die 1993 UNISA Internasionale Klavierkompetisie, finalis en spesiale pryswenner by die Shreveport Concerto Kompetisie in 1996 en derde prys by die Casablanca Internasionale Klavierkompetisie in 1997. Sy het haar doktorsgraadstudies voltooi by die Universiteit van Noord-Texas onder Vladimir Viardo. Schumann tree op as solis saam met die meeste van Suid-Afrika se top orkeste en het ook haar verskyning gemaak as solis in Duitsland, Portugal, Skotland, Armenië en die VSA. Sy het al heelwat werke opgeneem onder meer die handelsmerk TwoPianists en is ook die artistieke direkteur van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees waar sy as kamermusikus, samesteller en onderwyser dien.