Mediaverklaring

11 Januarie 2023

Vir byna ’n eeu kan die Afrikanergemeenskap op die FAK staatmaak vir die ontwikkeling en beskerming van Afrikanergeskiedenis, -erfenis en Afrikaans as taal.

95 jaar gelede het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) die taak aangepak om die Afrikanerkultuur te bevorder. 95 jaar later floreer die FAK en groei Afrikanererfenis van krag tot krag.

Vandag, op Erfenisskattedag, spog die FAK as die oudste bestaande kultuurorganisasie in Suid-Afrika. Vandag vier ons Afrikanergeskiedenis, ons pragtige Afrikaanse taal, ons kultuurerfenis, Afrikaanse musiek en ons voorgangers wat die weg vir ons gebaan het. Ons herdenk ook die suksesse wat die uitnemende organisasie al vermag het.

Stigting van die FAK

Tydens ’n konferensie op 17 en 18 Desember 1929 is die FAK tot stand gebring en is dr. NJ van der Merwe as die eerste voorsitter verkies.

Byna 300 afgevaardigdes van verskillende kultuurorganisasies oor die hele land en selfs uit Namibië (destyds Suidwes-Afrika) het die kongres, genaamd die Afrikaanse Taal- en Kultuurkonferensie, bygewoon.

Ek heet u welkom tot ’n kongres wat ’n verdere skof op die trekpad van die Afrikaner beteken. Daar lê ’n lang en swaar skof tog agter die rug, en ons bring hulde aan die manne en vroue wat in die verlede gelei en gedryf en volhard het. Ons eer God, wat ons volk bewaar en gelouter het.”

Só het dr. NJ van der Merwe die kongres geopen. Dr. Van der Merwe het die fondasie gelê waarop die FAK vandag voortbou.

Historiese datums in die FAK se geskiedenis

  • In 1931 word die Sentrale Volksmonumentekommissie as eerste komitee van die FAK gestig wat die Voortrekkermonument tot gevolg gehad het. Ook die Ossewabeeld by die Bloedrivier-erfenisterrein, die Voortrekkermonument in Winburg en die Retief-standbeeld by die Geloftekerk in Pietermaritzburg het deur hierdie komitee die lig gesien.
  • Op 7 Maart 1931 word die eerste komitee vir die FAK-Sangbundel aangestel.
  • Ook het “Die Stem van Suid-Afrika” die volkslied geword. Die FAK het ’n gedigtekompetisie van stapel gestuur om ’n geskikte lied te vind. CJ Langenhoven het sy gedig ook in die hoed gegooi en dit is eenparig deur die keuringskomitee gekies.
  • Op 7 Junie 1937, tydens die FAK se Algemene Vergadering is die eerste eksemplaar van die Volksangbundel aan die voorsitter, dr. NJ van der Merwe, oorhandig. Toe die Hersiene Sangbundel in 1961 verskyn het, is reeds 60 000 eksemplare verkoop.
  • Tydens die Groot Trek se eeufeesviering in 1938 het die FAK ook ’n sleutelrol gespeel in die vieringe.
  • ’n Christelike fondasie in onderwys is in 1939 tydens die CNO- (Christelike Nasionale Onderwys-) kongres bespreek.
  • 1949 het die FAK ook sy aandeel gehad in die inhuldiging van die Voortrekkermonument.

Onlangse geskiedenis

  • In onlangse geskiedenis het die FAK weereens ’n kritiese rol in die beskerming van die Voortrekkermonument ingeneem. In 2021 het die FAK as bestuur van die Voortrekkermonument oorgeneem om die Monument vanuit ’n finansiële krisis te red.
  • Dit is ’n eer en ’n voorreg om die Voortrekkermonument te beskerm en broodnodige kulturele ontwikkelinge en herlewing aan die publiek te verskaf.
  • Die stryd om beskerming en bewaring van Afrikanererfenis is groot. Daarom steun die FAK op gewillige hande vanuit gemeenskappe om die voortbestaan van historiese bakens te verseker. In Desember 2020 het FAK-Kultuurnetwerke posgevat. Verlede jaar het die FAK die Ermelo-Kultuurnetwerk trots as sy 35ste kultuurnetwerk gestig. Elke week in verskeie gemeenskappe regoor Suid-Afrika kom doodgewone landsburgers byeen en stel hulself diensbaar vir hierdie groot taak.

Noemenswaardige impak van die FAK-kultuurnetwerke:

    • Die Carolina Burgermonument – na die Zuma-optogte twee jaar gelede waar die monument erg beskadig is, kan die monument se restourasie vanjaar voortgaan.
    • Die FAK het, nadat die beeld en grafblad by Paul Kruger se graf gevandaliseer is, ’n nuwe beeld laat oprig en die stukkende beeld gerestoureer.
    • De la Rey se graf is ook gerestoureer nadat die bronsbeeld gesteel en die graf gevandaliseer is. ’n Nuwe beeld is opgerig, ’n presiese replika van die vorige een.
    • Springs Wêreldoorlogmonument is deur die FAK-Oosrand-Kultuurnetwerk opgeknap. Hierdie projek het ’n trots in die gemeenskap geskep, en die dorp is vandag pragtig skoon en die monument is weer tot die vorige glorie herstel.
    • Die Heldeakker-samewerkingsinisiatief. Quentin Meyer is die voorsitter van die FAK se Noord-van-die-Berg-Kultuurnetwerk en is deur die Tshwane-metroraad aangewys as die opsigter van die Heldeakker. Verskeie organisasies het byeen gekom en sorg dat die Heldeakker skoon en netjies bly en dat die geskiedenis bewaar word.
    • Brits 100: Die dorp het sy eeufeesviering in 2023 gevier. Die FAK se Kultuurnetwerk het die Eeufeesmonument by Laerskool Brits opgerig.
    • Deur die skoonmaak van grafte binne die verskeie netwerke volg bewusmaking van die figure wat diep spore in Suid-Afrika se geskiedenis getrap het. So volg nuwe belangstelling in die geskiedenis.
  • Die FAK se Jeugsimfonieorkes is tot stand gebring in 2022 en het in 2023 reeds verskeie suksesse behaal met opvoerings saam met kore regoor die land.
  • Die FAK het teenstand gebied teen die voorstel om die Afrikaanse Taalmonument se naam te verander om meer “inklusief” te wees.
  • Vir die FAK is die ontwikkeling van ons Afrikaanse jeug ook belangrik. Die FAK bied vanjaar vir die 11de jaar die FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo aan, waar die jeug en selfs studente kreatief kan raak in Afrikaans.
  • Die bevordering van Geskiedenis onder die jeug is ook ’n prioriteit en word die FAK Internasionale Geskiedenisolimpiade vanjaar vir die vyfde keer aangebied aan skoolleerlinge. Belangrike geskiedkundige gebeure vanuit Suid-Afrikaanse geskiedenis, veral Afrikanergeskiedenis, is die fokus van hierdie olimpiade, aangesien dit grotendeels nie by die skoolkurrikulum ingesluit word nie.
  • Die FAK het ook begin met 3D-skaderings van standbeelde en monumente sodat daar ’n digitale kopie is in die geval van vandalisasie of verwoesting daarvan.
  • KUNDRAMUS – Kuns, drama en musiek word gevier in samewerking met die Voortrekkermonument. Die KUNDRAMUS-galery is in 2023 geskep vir die ontwikkeling en bevordering van kuns, drama en musiek in Afrikaans.
  • Die FAK het in 2013 die FAK Afrikaanse Liedjietuin tot stand gebring en vereer jaarliks verskeie Afrikaanse kunstenaars met ’n liedjiebord in dié pragtige rosetuin.
  • Die FAK het einde 2023 ’n nuwe jeugbeweging aangekondig, die FAK Jeug.

Die FAK het diep spore in ons geskiedenis getrap. Van die begin af het die FAK gebou aan ’n tuiste vir Afrikanerkultuur en ons het die voorreg om daardie werk voort te sit en daarin te volhard. Toe dr. NJ van der Merwe die taak aangeneem het, het hy geweet hoe groot die werk is. Ons skryf die volgende hoofstuk in Afrikanergeskiedenis en doen so met trots, geanker in ons geloof,” sê Danie Langner, besturende direkteur van die FAK.

Tuiste. Trots. Toekoms.

Dít is die FAK. Die FAK se geskiedenis en die geskiedenis van Suid-Afrika is nie net inmekaar gevleg nie, maar onafskeidbaar van mekaar.

Met dankbaarheid kyk ons vorentoe en weet dat dit elke dag vir die FAK ’n Erfenisskattedag is.

Deur die volgehoue ondersteuning van die vriende van die FAK, word die werk getrou voortgesit in 2024 en sal die FAK voortgaan om te bou aan ons gemeenskap, erfenis en taal.