“Ons hoort hier” eggo die woorde van die Afrikaner-verklaring, soos dit in April vanjaar vir die eerste keer nasionaal bekend gestel is.
Die Afrikaner-verklaring is by die 30-jarige herdenking van Suid-Afrika se grondwet, in die Voortrekkermonument in Pretoria, bekend gestel.
Tydens die bekendstelling van dié geskiedkundige verklaring, op 22 April, het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, gesê dat die Afrikaner se geskiedenis gebou is op verhoudings en daarom maan hy moet daar met die aflegging van so ’n verklaring na historiese kontinuïteit gesoek word.
“As ons vandag praat oor ’n verklaring, dan sê ons vir mekaar, ons beweeg in ’n baie ou tradisie van verklarings, van manifeste, van dokumente, van traktate. Dit is hoe ons dit doen. In krisistye, in onseker tye verwoord ons waar ons staan op papier.”
Die Afrikaner, verduidelik hy het nooit in isolasie geleef, getrek of gewerk nie en was altyd in verhouding met ander.
“Hier in die monument word hierdie besondere verhoudings ook op die friese uitgebeeld,” sê Langner.
Die Afrikaner-verklaring eggo dié woorde van Langner en verduidelik: “Ons wil in ’n gees van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe in Suid-Afrika praat en werk om oplossings te kry vir die veelvuldige krisisse wat ons almal se toekoms bedreig.”
In ’n plasing op sosiale media skryf Flip Buys, hoof van die Solidariteit Beweging (SB), dat dit die eerste keer sedert 1994 is dat Afrikaners oor so wye spektrum ’n gesamentlike standpunt stel.
“Ons stel dit duidelik dat ons nie van plan is om te berus by die verval in die land en die ANC se vyandige en hopelose regering nie. Ons spel ons doelwitte vir die toekoms uit, en sê ‘ons sal self’, maar is bereid om saam te werk as ons regmatige strewes respekteer word.”
Hierdie verklaring spruit uit ernstige kommer oor die versnelde verval in Suid-Afrika.
Luidens ’n verklaring op afrikanerverklaring.co.za reik “’n leiersnetwerk van verskeie Afrikaner-organisasies, -netwerke en -individue hierdie gesamentlike verklaring uit om ’n pad vorentoe uit te stippel in die lig van die ernstige krisis waarin die land en die Afrikaner-gemeenskap verkeer.”
“Die Afrikaner-verklaring spruit uit ernstige kommer oor die versnelde staatsverval in die land, ons ervaring dat die ANC belangrike dele van die 1994-skikking verbreek, en die voorneme van Afrikaners oor ’n wye spektrum om saam opbouend aan oplossings vir ons eie gemeenskap én vir die land te werk.”
Die bekendstelling van die Afrikaner-verklaring het sedert dit bekend gestel is verskeie uiteenlopende reaksies ontlok, tog vertel Werner Human, operasionele hoof van SB, “bly dit belangrik dat die Afrikaner sy strewes kan verwoord.”
“Dit is natuurlik te wagte dat hierdie verklaring verskeie reaksies sal ontlok: verklarings, manifeste, oktrooie, akkoorde – al die verskillende vorme van dokumente, gebeur nie dikwels nie. Tot ’n sekere mate kan die bekendstelling as geskiedkundig beskryf word,” skryf Human op sy sosiale media.
“In die konteks van onder andere ’n mislukkende regeringsorde is dit belangrik dat die Afrikaner sy strewes kan verwoord, en na binne en buite oordra – wat insluit die internasionale gemeenskap.”
“Die uitreik van ’n verklaring vorm ook deel van goeie en gesonde kulturele selfvertroue: Ons gaan hier bly, as Afrikaners, ons neem die verantwoordelikheid op om ’n toekoms vir die volgende geslag te skep, as Afrikaners, en ons wil goeie samewerking en verhoudings met alle groepe hê, op die basis van wedersydse erkenning en respek.”
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) definieer ’n verklaring as “uitlegging, verduideliking, opheldering, uitspraak, mededeling, skriftelike bewys of getuienis,” en met hierdie verklaring kom duisende Afrikanerstemme saam en verklaar “Ons hoort hier.”
Die Afrikaner-verklaring in ’n neutedop:
- Afrikaners is ’n inheemse kultuurgemeenskap verbind aan Afrika.
- Ons wil hier bly en bydra tot die welstand van die land en al sy mense.
- Samewerking is in die belang van almal se vryheid, veiligheid en voorspoed.
- Ons bou om te bly.
- Kulturele vryheid is ’n voorwaarde vir demokratiese vryheid.
- Ons onderskryf die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe.
- Die verlede moenie ons almal se toekoms vernietig nie.
- Die Grondwet erken die strewe na grondgebied.
- Ons soek eenheid in verskeidenheid.
- Die Afrikaner vra owerheidsinspraak.
- Ons wil bydra tot ekonomiese bemagtiging.
- Ons wil ’n kultuurverdrag hê wat ’n kanaal vir skakeling met die owerhede skep om knelpunte betyds te takel, ooreenkomste daaroor te bemiddel, en vertroue te herstel en op te bou.
Leer meer oor Die Afrikaner-verklaring: https://afrikanerverklaring.co.za/
FC Pelser