Die graad 6-leerders van Orania CVO Skool het op 28 Augustus saam met hulle onderwyseresse en die FAK se Noord-Kaap Kultuurnetwerk ’n leersame geskiedenisuitstappie na Doornbult-konsentrasiekamp onderneem.

Hierdie kamp het van April 1901 tot November 1902 bestaan en vertel die verhale van boervroue, bejaardes en kinders se groot lyding en verliese gedurende hulle aanhouding. Volgens Britse aantekeninge was daar slegs 210 sterftes in die kamp, maar daar is 380 grafnommers op die terrein. Volgens navorsing was daar egter 1300 sterftes.

Cara Tomlinson, FAK-kultuurkoördineerder vir die Noord-Kaap, het in haar praatjie ’n algehele oorsig en konteks oor die Anglo-Boereoorlog aan die kinders gegee en toe ’n paar vrae gevra. Daarna het Rina Wiid (eienaar van Doornbult) in ’n vertelling die geskiedenis van Doornbult-konsentrasiekamp met die leerders gedeel; haar passie en kennis het weer ’n vlam in die jongspan aangesteek. Ons sal nie die offers van ons voorgeslagte vergeet nie. Cara vertel dat “die besoek nie net ’n leerervaring was nie, maar leerders het ook die geleentheid gehad om ons geskiedenis te eer en ’n krans aan die voet van die Doornbult-konsentrasiekampgedenkteken te lê.”

Rina vertel dat hulle in 1996 eintlik per ongeluk as nuwe eienaars van die plaas Doornbult op die konsentrasiekamp afgekom het. Hulle was op pad met hulle vee na ’n watergat en het op die stuk veld met geroeste blikke, glasskerwe en porseleinstukkies afgekom. Hulle eerste bevestiging van hulle vermoede dat dit ’n konsentrasiekamp is, is met ’n ou foto van ’n groepie verpleegsters in ’n konsentrasiekamphospitaal in die Kaapse Argief bevestig. Die rante agter die tente op die foto het presies ooreengestem met dié op hulle plaas.

Met verdere navorsing is hulle vermoede bevestig en bykans 100 jaar later kom hulle op die oorblyfsels van die eertydse Oranjerivier-konsentrasiekamp, oftewel Doornbult-konsentrasiekamp, af. Rina het baie navorsing gedoen en ook boeke oor die konsentrasiekamp geskryf. Haar bydrae tot die behoud van hierdie stuk geskiedenis is enorm.