Die afgelope naweek het boeremusiekliefhebbers van oral oor saamgekom om hulle liefde vir tradisionele boeremusiek by ’n musiekslypskool te vier. Gaste het geleer om tradisionele instrumente soos die konsertina, banjo, traporrel, kitaar en kontrabas te speel.

Een van die mentors van die dag vol pret op 5 Oktober, Stephaan van Zyl, sê dat hy opgewonde is oor die belangstelling vanaf die jonger mense.

“Daar was lekker belangstelling gewees vandag. Ek het ’n groot passie vir boeremusiek en ek kom agter dat hierdie passie ook groei onder die jong klomp, en dit maak my regtig baie bly,” sê Van Zyl.

Die geleentheid is met trots deur die Federasie van Afrikaanse kultuurvereniginge (FAK) en die Tradisionele Boeremusiekklub van Suid-Afrika (TBK) gereël en aangebied. Die geleentheid het ’n platform gebied vir die uitruil van wenke en kennis vir mense van alle ouderdomme en die vreugde en tegnieke van boeremusiek, onder al sy liefhebbers, gedeel.

Wilando Ferreira, een van die gaste wat die slypskool bygewoon het, meen dat mens nooit ophou leer nie.

“Ek speel trekklavier en ek het vandag gekom om te kyk wat ek kan leer, want mens kan altyd iets nuut leer. Ek het spesifiek vandag geleer hoe mens begin leer aan ’n stuk musiek en hoe mens te werk gaan om ’n stuk onder die knie te kry. Ek sal die slypskool aan enige iemand voorstel, dit was regtig baie leersaam,” sê Ferreira.

Lieandri Ackermann, projekbeampte van die FAK, was baie beïndruk met die talent.

“Dit was lekker om te sien watter verskillende instrumente in ’n boereorkes voorkom en die talent en passie in ons land vir boeremusiek. Selfs die kitaar het ’n plek. Boeremusiek is ’n vorm van musiek wat ’n plek het en wat ons hier by die FAK verseker wil bevorder,” sê Ackermann.

Die FAK bedank die TBK en almal wat aangesluit het by die heerlike dag, en sien daarna uit om meer geleenthede aan te bied wat tradisionele boeremusiek vier en bevorder.