Tydlose stories op Boschendal
Deur: Barend Groenewald
Dit is die laaste dag van die skoolvakansie – én ons (ek en my medekollega) laaste dag in die erfenisryke Kaap. Wat ’n besondere afsluiting: ’n besoek aan Boschendal, die tweede oudste wynplaas in Suid-Afrika, in 1685 gestig. Hier wag ’n voetslaan vol geskiedenis, waar elke tree ’n fluistering uit die verlede bring en ons nader aan die Kaapse natuurskoon, boerdery en erfenis bring.
Die groep is voltallig en ons staptog deur die geskiedenis skop af. Duskant die 1812-herehuis ontvang ons ’n boeiende geskiedkundige oorsig van die eeueoue plaas. Die eerste eienaar was ’n Franse Hugenoot, Jean le Long; sy twee opvolgers was ewe-eens Hugenote. Hierdie pioniers het oor meesterlike wynmaakvernuf beklee, wat die grondslag gelê het vir Suid-Afrika se smaakvolle en verfynde wynbedryf. Hul taal en tradisies is vandag afwesig maar hul magiese bydrae tot die Suid-Afrikaanse kultuur leef nog voort. Verder deel die kundige gidse inligting oor die ontwikkeling van die wynland – vanaf die Franse stigters tot die verskeie internasionale maatskappye wat die historiese plaas besit het. Só neem die groep ’n stap terug in tyd en verryk hul kennis en belewenis van hierdie erfenis.
Die groep beweeg aan en word begroet deur tarentale, wat tussen die nat gras wat nog vars is van die vroegoggenddou, skarrel. Onderdeur die hemelhoë, statige bome — reuse wat hul plek al vir jare hier inneem en sekerlik hul honderdtalle bereik het — beweeg ons rustig en gesellig voort omring deur die wind se sagte fluisteringe deur die blare. In die atmosfeer is daar ’n afwagting — ’n verrassing. Skielik ontdek ons die verrassing hoog op tussen die takke; ’n kaalwangvalk. So skelm soos die nag self vlieg ’n uil om ons aandag te probeer ontwyk. Die hele toneel speel af met Simonsberg wat hoog bo die plase uittoring — ’n oomblik van natuurbewondering.
Ons volgende ervaring is een van sosiale interaksie; vriendelike plaaswerkers in ’n trekkerwa vertel ons meer van die interessanthede van die plaas. Ons hoor meer oor die verskeie vrugte wat gekultiveer word en lei so onderlangs af dat dit sweet en bloed kos om die reuseplaas op koers te hou.
Ons sluit ons reis af by die statige herehuis uit 1812, ontwerp in die vorm van ’n H. Die gebou se spierwit mure bied ’n elegante kontras teen die groen vensterrame. Die herehuis dien vandag as ruimte vir ’n kunsuitstalling, wat ongelukkig nie veel insig bied in die oorspronklike binnekant van die huis nie. Die kamera kliek vir ’n laaste keer: ’n groepfoto om die dag se ontdekkingstog af te rond en die herinnering vas te vang.
Boschendal vertel ’n geskiedenisstorie wat nie morsdood is nie, maar groeiend en lewendig. Hier leer mens iets oor die Franse Hugenote se impak op die Suid-Afrikaanse wynbou, asook die voortlewende narratief van die plaas — alles in die teenwoordigheid van betowerende berge.