Mediaverklaring

11 Maart 2024

Op Brandfort waak ’n engel ter nagedagtenis van die vroue en kinders wat in konsentrasiekampe gesterf het. Hierdie is die eerste vrouemonument en is in 1906 voor die NG Kerk Brandfort onthul.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en lede van die gemeenskap in Brandfort neem die beskerming van hierdie unieke erfenisbaken en nog meer in die omgewing in eie hande.

“Dit is veral by die konsentrasiekamp waar die kultuurnetwerk wil inklim en ’n daadwerklike verskil maak. Ons weet dat ons met die krag van die gemeenskap enige iets kan vermag en die ryk geskiedenis weer in ere kan herstel.”

Só sê Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder in die sentrale streek van die land.

Die konsentrasiekamp in Brandfort is die laaste konsentrasiekamp wat gesluit is na afloop van die Anglo-Boereoorlog. Teen Maart 1903 was daar steeds 343 mense in die kamp, want hulle het nie ’n heenkome gehad nie.

Daar word beweer dat 1021 kinders onder die ouderdom van 15 in hierdie kamp gesterf het, met die totale sterftesyfer tussen 1263 en 1550.

Die splinternuwe FAK-Brandfort-kultuurnetwerk is ywerig om die erfenis in hul omgewing op te knap. Nie net om dit te bevorder nie, maar om hierdie kosbare skatte vir ons nageslagte te kan bewaar.

Soos die engel oor die stad waak, waak die kultuurnetwerk nou ook oor die gemeenskap. Saam bou ons aan ’n beter toekoms, deur saam te span en die werk te doen wat so dikwels deur die plaaslike regerings agtergelaat word.

Jy kan ook ’n verskil maak.

In byna 40 gemeenskappe regoor die land bou, beskerm, bewaar en bevorder die FAK ons kultuurerfenis en geskiedenis. Deur betrokke te raak by die kultuurnetwerk in jou area, kan jy help sorg dat ons erfenis nie vergaan nie. Jy kan ook ’n vriend van die FAK word en so met ’n klein bydrae elke maand, ’n groot verskil maak.