“Ek is oneindig dankbaar dat ek my liefde vir my Skepper en vir kerkmusiek kon uitleef.” Aan die woord is die welbekende komponis, musiekverwerker en musikoloog Chris Lamprecht. Wanneer mens die voorreg ervaar om Oom Chris persoonlik te ontmoet kom jy onder die indruk van sy opregte nederigheid, vriendelikheid en fyn humorsin. Hy is ’n eietydse musieklegende wat gedurende sy lang, vrugbare loopbaan veral op die terrein van Afrikaanse kerk- en koormusiek ’n kultuurskat van onpeilbare waarde tot stand gebring het. Op byna 97-jarige leeftyd is Oom Chris steeds aan die komponeer, en bly hy en sy vrou Elza al vir geruime tyd in Heroldsbaai in die Suid-Kaap. Die egpaar verhuis later vanjaar na George.

Chris Lamprecht en sy vrou Elza (Foto George Herald)

Christian Engelbertus Lamprecht is op 1 Oktober 1927 in Bloemfontein gebore, waar hy aan die Hoërskool Sentraal gematrikuleer het. Hy het die BMus-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, en is later na Herford in Duitsland (’n stad bekend om sy kuns, kultuur en mooi kerke), waar hy aan die plaaslike Kirchenmusikschule opleiding ontvang het in komposisie, koorleiding en sang. In 1973 is die graad MMus deur die Universiteit van Pretoria aan hom toegeken.

Gedurende sy lang loopbaan was Chris Lamprecht onder meer direkteur van die NG Kerk se kerkmusiekskool wat later by die musiekdepartement van die Universiteit van Pretoria ingeskakel is, hoofkultuurbeampte vir musiek in die Departement Nasionale Opvoeding, direkteur van die Universiteit van Pretoria se kultuurburo asook hoof van dieselfde Universiteit se musiekdepartement, waar hy senior orreldosent was.

Benewens al sy verpligtinge was Oom Chris ook orrelis van die NG gemeente Pretoria-Oos (ook bekend as Ooskerk) en daarna van die NG gemeente Universiteitsoord. By Ooskerk was sy voorganger die bekende prof. Gerrit Bon, wat ’n besondere liefde vir Bach se musiek gehad het – ’n voorkeur wat nie oral byval gevind het nie. As die nuwe orrelis was Chris Lamprecht van hierdie weerstand bewus, en het hy gereeld Bach se musiek gespeel, maar gedagtig aan kritiese oë op die orrelgalery, die bladmusiek aanvanklik binne ’n ander omslag geplaas! Sy verbintenis met Universiteitsoord het meer as 25 jaar lank geduur, en is hy daar deur prof. Wim Viljoen opgevolg.

Oom Chris beskou ons kerkmusiek as ’n kosbare erfenis wat vanaf ons stamlande afkomstig is, maar hy is vandag besorg oor die stand daarvan. Hierdie erfenis sluit die gebruik van die kerkorrel in, wat hy as die koning van alle musiekinstrumente beskou. Volgens hom ly ’n groot deel van die repertorium wat met die orrel saamhang en al vir eeue deel van gelowiges se aanbidding is, skade, en is dit die kerk se plig om hierdie kleinood te bewaar.

Van Chris Lamprecht se bekendste komposisies wat oor die jare deel van vele kore se repertoriums was en steeds is, sluit in “Die Aandgesang”, “Aan U kom ’n lofsang toe”, “Immanuel”, “En deur Sy wonde” en “Wie het ek buiten U”. By geleentheid van die FAK se halfeeufeesviering het hy die koorsiklus Die maniere van diere gekomponeer, wat op NP van Wyk Louw se Klipwerk gebaseer is. Hierin kom onder meer “Oupa Skilpad”, “Die bobbejaan” en “Die terpentynstert-perd” aan die beurt. In 2022 het hy tydens die veelbewoë grendeltyd die roerende “Rein van hart” (gebaseer op Matteus 5:8–11) gekomponeer. Dit is deur ’n virtuele koor wat deur hom begelei is, uitgevoer.

Oom Chris en Renette Bouwer wat as solis en koorleier vele van sy verwerkings vertolk het, saam by ‘n ATKV-toekenningsgeleentheid. (Foto George Herald)

In 1996 het JNS Musiek ’n CD uitgereik met die titel Gewyde koorwerke van Chris Lamprecht soos gesing deur die Singkronies-kamerkoor onder leiding van Johann van der Sandt. In 2017 het Bybel-Media in samewerking met die FAK ’n dubbel-CD album ter herdenking van Chris Lamprecht se 90ste verjaardag die lig laat sien, wat in Ink (Flink se voorganger) van November 2017 deur ene Daantjie Dinamiet positief geresenseer is. Die uitvoerende kunstenaars wat opgeneem is, sluit homself in as orrelis en pianis, sy seun Charl (klassieke kitaar) asook universiteitskore en ’n kamer-, manne- en skoolkoor. Een van die soliste is Renette Bouwer, wat hierbenewens ook ’n aantal Lamprecht-volksmusiekverwerkings op ’n CD getiteld Dit kom van ver af sing.

Chris Lamprecht was lank lid van die FAK se musiekkomitee, wat onder meer vir die inhoud van die FAK-sangbundel verantwoordelik was. Medelede was ander vooraanstaande figure in die Afrikaanse musiekomgewing, waaronder Anton Hartman, Dirkie de Villiers, Pieter van der Westhuizen, Philip McClachlan en Gawie Cillié.

Oom Chris bedryf sy eie webwerf (https://chrislamprechtmusiek.co.za/) en sy bladmusiek word daar beskikbaar gestel. Die Suid-Afrikaanse kerkorreliste-vereniging (SAKOV) gaan later vanjaar ’n bundel met al sy orrelmusiek publiseer. Musiek vloei deur die Lamprecht-familie se are. Sy suster Marthie Driessen is ook ’n bekende in Afrikaanse musiekkringe, en hulle is verlede jaar beide met Legato-toekennings vereer vir hulle bydrae tot Suid-Afrikaanse koormusiek. Marthie het onder meer die immermooi tradisionele Boesmanlandse “Pryslied” vir kore verwerk. Al drie Oom Chris se kinders is musikaal. Charl bespeel die klassieke kitaar en het saam met sy pa ’n CD getitel Die hemele roem uitgereik. Charl gee onderrig aan die Pro Arte skool in Pretoria, sy broer Johan bespeel die mondfluitjie en Lize, ’n spraakterapeut, het in UP se universiteitskoor gesing, en is nou lid van Eden Camerata, ’n kamerkoor in George.

Die FAK se musiekkomitee

Flink salueer Chris Lamprecht, bedank hom vir sy musiekskatkis, en wens hom en sy familie goeie gesondheid en voorspoed toe.

Marius Ackermann, voorsitter van VTM-Direksie