Neutrale onderwys bestaan nie. Waardes, norme en geloof word tydens onderrig oorgedra en taal word gebruik om daardie waardes oor te dra.

Met die koms van Jan van Riebeeck in 1652 in die Kaap, het taalkontak met ander volke plaasgevind. Reisigers het vinnig agtergekom dat die Hollands wat aan die Kaap gepraat word, verskil van dit waaraan hulle gewoond is. Onderlinge kontak het veroorsaak dat noodwendige veranderings in tale plaasgevind het. Dieselfde het tydens die Groot Trek (1835-1854) gebeur. Omdat taal en geloof verweef is, kan die een nie sonder die ander gemeld word nie.

Die Trekkers het tydens die Groot Trek die belangrikheid van geloof gewys en hulle Bybels en ander geestelike boeke in die wakis, binne bereik, gebêre. Hulle het huisgodsdiens gehou, ongeag waar hulle was. Godsdiens was ’n gesinsaak. Dit is net Louis Tregardt wat Daniël Pfeffer as opgeleide onderwyser by sy trekgeselskap gehad het. Die ouers was die primêre opvoeders en het die kinders self onderrig. Die kinders moes die Bybel ken. Versies is voorgelees wat gememoriseer moes word en daar is hartlik saam gesing.

Die Bybel vorm ’n integrale deel van die ontwikkeling van Afrikaanse onderwys. Johann Boshoff sê in “Die Bybel in Afrikaans” (2008-09-08 – Litnet): “Sonder die Bybel in Afrikaans was geen uiteindelike standaardisering en amptelike erkenning van Afrikaans as’t ware moontlik nie, al het die letterkunde uiteindelik daartoe bygedra.”

Met Jan van Riebeeck se vertrek na die Kaap, het daar in Nederland reeds ’n Gereformeerde skoolstelsel bestaan. Christelik-nasionale beginsels is toegepas. Die VOC het dus aan die Kaap Christelike Nasionale Onderwys kom vestig, waar die Christelike leer en lewensbeskouing die grondslag vorm en die nasionale of vaderlandsgerigte karakter beklemtoon word. Onderwys was ten nouste aan die Nederlandse Gereformeerde kerk verbonde.

Tydens die Britse besetting van die Kaap van 1860 af, is onderwys toenemend beskou as middel om die Nederlanders te verengels. Engelse waardes en lewenswyse is oorgedra en gevestig. Skotse predikante en onderwysers is ingebring om die doel te bereik. Reeds in 1865 het wetgewing aan die Kaap bepaal dat godsdiensonderrig na skooltyd moet plaasvind. Die Hollandsprekende bevolking en twee Boererepublieke wat die Christelik-nasionale onderwys ondersteun het, het hulle sterk verset. Die klem van die onderwys het stelselmatig geskuif van die Christelike na die nasionale. Kinders moes opgevoed word om goeie staatsburgers te wees. Ouers het seggenskap oor die onderwys verloor.

Die doel van die Eerste Taalbeweging (1875-1899) was om Afrikaners daarvan bewus te maak dat Afrikaans hulle taal is.

Ds. Dirk Postma (Die Kerkblad, 1990) het hom beywer vir die verkondiging van die Evangelie in Nederland en in Suid-Afrika. Hy het ook hard gewerk ter bevordering van opvoedende onderwys. Dit is veral in Zwolle, Nederland, waar hy aktief betrokke geraak het by die onderwys van sy volk se kinders asook doeltreffender opleiding van teologiese studente. Hy het hom beywer vir die stigting van ’n Christelike skool ten gunste van Christelike onderwys in Nederland.

In die begin van die negentiende eeu het die ontkersting van die Nederlandse skool plaasgevind. Postma het hom deurlopend beywer vir die saak van Christelike onderwys. Met ’n onsimpatieke regering het sy aksies nie na konkrete sukses gelyk nie. Dit het hom egter aangemoedig en gemotiveer om ’n Christelike skool in Zwolle op te rig.

Postma het ’n suiwer siening gehad oor Christelike onderwys aangesien dit ’n voortsetting en vervulling van verbondsonderwys is. Sy doel was ’n lewende kennis van die Drie-enige God. Die onderwys moes ook nasionaal wees, want die vaderlandsgeskiedenis moes aan die jeug oorgedra word. Die nasionale/volkseie moes in diens van die Christelike staan sodat die jeug, net soos hulle voorvaders, hulle hoop op God alleen sal stel. Christelik nasionale onderwys is gevestig.

Postma het die volgende sake uitgelig:

  • Ouers bly verantwoordelik vir die opvoedende onderwys van hulle kinders onder toesig van die kerk.
  • Soveel skole moontlik moet opgerig word.
  • Die onderwys moet ’n positiewe Christelik Gereformeerde karakter hê.
  • Gods Woord moet onderrig word om die onderwys te rig en te bepaal.
  • Kenmerke van die skole moes Christelike opvoeding en tug wees.
  • Ouers moes die opvoedende onderwys finansieel onderhou om te voorkom dat die staat seggenskap oor die onderwys kry.
  • Belangrikheid van tweetaligheid, naamlik Hollands en Engels.

Die kerk en die volk moes hande vat om die kinders te onderrig.

Postma het besef dat een van dié belangrikste boustene van Christelike onderwys, Christelik-nasionaal opgeleide onderwysers is. Op sy beskeie manier het hy die fondamente gelê vir die Christelik-nasionale opleiding van onderwysers.

Na die Anglo-Boereoorlog het die CNO-beweging gehelp dat ’n groot aantal privaat skole gestig word. Met die oorname van die regeringsgesag, moes hierdie skole staatskole word en het baie CNO-skole, weens gebrek aan fondse, hulle aan die regering oorgegee.

Afrikanerleiers het hulle beywer vir moedertaalonderrig en gelyke taalregte. Die CNO-beweging wou Hollands as vak en voertaal tot sy reg laat kom. Predikante was gesagsfigure in die samelewing en het daartoe bygedra dat skole uitgebrei het waar kerke hulle gesteun het.

Dr. Tobie Muller en CJ Langenhoven het hulle aktief beywer vir onderrig in Afrikaans om selfrespek by die Afrikaner te verseker. Muller het Langenhoven aangespoor om Afrikaans ook in die politiek te bevorder.

Die eerste provinsie wat enkelmedium Afrikaanse skole in 1916 gekry het, was die Vrystaat. Transvaal het in 1920 gevolg en Kaapland in 1924.

Die doel van Christelike opvoeding en onderwys (Stoker, 1996) is om die kind te help en te begelei in sy opgroei tot selfstandige mens, wie God dienooreenkomstig Sy Woord en wie al die gawes, wat hy van God ontvang het, bestee tot eer van God en tot welsyn vir die geskape wêreld in alle lewensverbande, waarin God hom plaas. Die kind het kennis en vaardighede nodig om sy roeping as dienskneg van God uit te leef. Die primêre opvoeder is en bly die ouer, maar word deur die kerk en skool aangevul. Onderwys in die skool kan nie waardevry wees nie, maar moet kennis en vaardighede oordra wat kinders nodig sal hê vir praktiese omstandighede in hulle lewe en werk. Die kind moet tot verantwoordelike volwassenheid begelei word. Hulle moet kan onderskei tussen goed en kwaad en om by die waarheid te hou omdat hulle insig en ervaring gekry het.

Lucia van Wyk

Dit bly ons strewe en doel in die onderwys vandag.

Lucia van Wyk, Hoof- uitvoerende beampte, BCVO

 

Bronne geraadpleeg:

Boshoff, J.P. 2008. Die Bybel in Afrikaans

Coetzee, J. Christelike onderwys. PU vir CHO

Ecke.co.za. 2016. Christelik-Nasionale Onderwys

Milner se planne met taal begin in kampskole. Julie 2023. https://afrikanergeskiedenis.co.za/afrikanerjoernaal

Afrikaans word onderwysmedium. September 2023.

https://afrikanergeskiedenis.co.za/afrikanerjoernaal

Afrikaners rig eie skole op. Julie 2023. https://afrikanergeskiedenis.co.za/afrikanerjoernaal

Afrikaans vir Godsdiens en Onderwys. 2014. https://www.facebook.com/FAK01/posts/648325491905923

Langner, D. 2018. Maroela Media: 85 jaar van die Bybel in Afrikaans.

Postma, W. 1990. Die Kerkblad: Ds. Dirk Postma en Christelik-Nasionale Onderwys.

Stoker, P.H. 1996. Hoe moet Christelike onderwys in skoolvakke gestalte kry? PU vir CHO.

Van Wyk, W.C (jr.). 1996. Christelike norme en waardes in onderwys en opleiding. RAU.

Wikipedia: Onderwys (geskiedenis)

Wikipedia: Onderwys in Suid-Afrika

Yoko, G. 2023. Juig! Tydskrif: Integrasie van Bybelse beginsels in onderwys.