Die FAK Afrikaanse Liedjietuin is ’n geliefde bestemming vir Afrikaanse musiekliefhebbers. Hierdie tuin is ’n monument vir Afrikaanse musiek en is geleë in Pretoria by die FAK-Huis wat aan die voet van die Voortrekkermonument staan.

Die Liedjietuin kan net beskryf word as ’n buitelugmusiekmuseum en vertoon wat ons “Liedjeborde” noem – woorde vanuit ons mees geliefde Afrikaanse liedjies.

Die Liedjietuin is in 2013 geopen en ons is dus nou in dié unieke tuin se tiende bestaansjaar.

’n Paar vinnige vrae oor die Liedjietuin:

Hoeveel borde is in die Liedjietuin?

Daar is tans 52 liedjieborde in die rosetuin, maar ons is nog ver van klaar af.

Is die tuin oop vir die publiek?

Besoeke aan die FAK Afrikaanse Liedjietuin is gratis en oop vir die publiek. Daar is wel ’n klein fooi vir parkering wat by die Voortrekkermonument-ontvangs betaalbaar is. Hier kan jy ’n verskeidenheid van musiekgenres geniet, insluitend volksmusiek, kerklike musiek en populêre musiek. Besoekers kan op die groen gras sit en luister na die musiek of rondloop en die pragtige tuin verken.

Is die Liedjietuin beskikbaar vir privaat funksies?

Beslis ja!

Die Liedjietuin is die perfekte bestemming vir enige soort funksie. Hier is al babatees en kombuistees gehou, familiebraaie en selfs klein intieme troues.

Daar is toeganklike badkamers, ’n speelarea vir kinders en dekoropsies om te help om jou funksie onvergeetlik te maak.

Waar kan ek na die liedjies luister?

Ons het ’n Spotify speellys gemaak met al die liedjies wat in die Liedjietuin opgeneem is. Gaan luister gerus daarna.