Die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jeugsimfonieorkes het ’n orkestoer na die Vrystaat tydens die Junie/Julie-vakansie aangepak. Die orkestoer is geïnspireer deur die wonderlike opkoms wat die jeugsimfonieorkes ervaar het met hul kampkonsert in Maart by die FAK se rivierplaas in Parys, Udolpho. Heelwat mense van die Parys-area en omliggende dele het die intieme konsert kom ondersteun en groot waardering getoon vir die wye verskeidenheid van klassieke musiek wat deur die jeugsimfonieorkes uitgevoer is. Dirigent Jaco van Staden het besluit dat die orkes met die orkestoer vir die mense op die platteland moes optree aangesien lewendige klassieke musiek ’n groot behoefte in hierdie gemeenskappe is.

NG Vredefort massaorkes

Die FAK Jeugsimfonieorkes se orkestoer was van Vrydag 28 Junie tot Maandag 1 Julie en was ’n gulde geleentheid om tyd saam op toer te spandeer en as ’n groep ’n groter eenheid te vorm. Die eerste toerkonsert het op 28 Junie by die NG Kerk Vredefort afgeskop. Hierdie konsert was ’n spesiale geleentheid, aangesien Erna Rademan, ’n gesogte musikus en onderwyser in die Vredefort- gemeenskap hierdie konsert gereël en die gemeenskap betrokke gekry het. By hierdie konsert het van Rademan se ensemblegroepe die konsert geopen en die jeugsimfonieorkes welkom laat voel. Die jeugsimfonieorkes het die program afgesluit met ’n weergawe van die tradisionele volkswysie, “My Sarie Marais”, waar ’n klomp kinders, asook ’n paar volwassenes vanuit hierdie gemeenskap, saam met die jeugsimfonieorkes ’n massaorkes gevorm het wat die konsert op ’n pragtige wyse tot ’n einde gebring het. Die gehoor het ook lekker saamgesing nadat Rademan ’n bietjie agtergrond gegee het oor hierdie bekende wysie. Daar was ook ’n hele paar kinders vanuit die “Mangaung” Strykersprogram wat spesifiek vir hierdie konsert saam musiekgemaak het. Volgens Rademan is hierdie kinders geweldig uitgehonger vir optreegeleenthede en was baie opgewonde om deel van hierdie konsert te wees.

FAK Jeugsimfonieorkes by die NG Moedergemeente Kroonstad

Die FAK Jeugsimfonieorkes het hul tweede konsert by die pragtige NG Moedergemeente Kroonstad op Sondag 30 Junie uitgevoer. Ds. Joe Müller, ’n leraar van die gemeente, het die jeugsimfonieorkes met oorgawe ontvang en die gemeentelede het die konsert na afloop van die oggenderediens bygewoon. Die gehoor het die jeugsimfonieorkes met hartlikheid ontvang en die orkes se pragtige klanke het in hierdie historiese kerkgebou weergalm. Die jeugsimfonieorkes het ’n besonderse konsert hier uitgevoer aangesien hierdie kerkgebou se akoestiek juis uiters gepas is vir hierdie tipe konserte. Die program van die jeugsimfonieorkes het heelwat diversiteit in die klassiekemusiekrepertoire getoon. Twee bewegings uit Joseph Haydn se 83ste Simfonie (“Die hoender”), die Slee-rit of “Sleigh Ride” deur Wolfgang Amadeus Mozart, die “Pastorale” uit Bizet se “L’Arlesienne” Suite no. 2, ’n verwerking deur Jaco van Staden uit die bekende “Gloria” uit Vivaldi se “Gloria in Excelsis Deo”, die Spaanse klanke van Albéniz se “Asturias”, temamusiek uit die film La La Land, ’n aangepaste weergawe deur Percy Faith van Alfvén se Sweedse Rapsodie, asook ’n interessante komposisie deur Peter Schickele met die titel “Eine Kleine Nichtmusik”, waar hy Mozart se bekende Eine Kleine Nachtmusik gebruik op ’n humoristiese wyse, waar baie ander bekende temas bo-oor Mozart se bekende werk gehoor kan word. Leónie de Lange, ’n inwoner van Kroonstad wat die konsert bygewoon het, was in vervoering oor die jeugsimfonieorkes se vermoëns. “Die hoogtepunt was die ‘wedstryd’ tussen die strykers en die blasers in die Nichtmusik. Ek dink nie iemand wat nog nooit musiek gemaak het in ’n orkes, sal besef watter konsentrasie, gehoorvernuf en dissipline dit verg om sulke kapperjolle met bekende musiek te waag nie. Ek het vergeet om asem te haal.” Die jeugsimfonieorkes het die konsert afgesluit met “My Sarie Marais” waar die gehoor heerlik saamgesing het.

FAK Jeugsimfonieorkes by die Etienne Rousseau-teater

Die orkes het hierna beweeg na Sasolburg en op dieselfde dag ’n middagvertoning by die Etienne Rousseau-teater uitgevoer. Hierdie teater, gebou in 1947 deur die maatskappy Sasol, is ’n hoë gehalte teater met ’n geweldige groot verhoog en kan ’n wye verskeidenheid produksies en konserte huisves. Baie gewilde musici het al by hierdie historiese teater opgetree, insluitend Mimi Coertze en die destydse Nasionale Simfonieorkes van die SAUK.

Op Maandag 1 Julie het die orkes vertrek na Bloemfontein waar die toer met ’n besoek aan die Nasionale Vrouemonument en die Boyden Observatory afgesluit is. By die Vrouemonument het die orkeslede ’n toer van die Anglo-Boereoorlog-uitstalling bygewoon en die aand van die 1ste Julie het hulle ’n aanbieding gehad by die Boyden Observatory, waar daar na sterre deur teleskope gekyk is, gepaard met ’n paar interessante feite oor sterrekunde.

Die orkestoer was ’n groot sukses met ’n kombinasie van musiek en geskiedenis. Hierdie toer het die jeugsimfonieorkes ’n breër perspektief gegee oor musiek en van die Vrystaat se historiese geboue en bakens.

Jaco van Staden

Luister gerus hier na die konsert: https://youtu.be/qH2hTWCFG9k