George McCall Teal, Suid-Afrikaanse historikus, aktivis en genealoog, het Andries Pretorius beskryf as “die bekwaamste leier en mees perfekte verteenwoordiger van die emigrante boere”.
Dit is vanjaar 170 jaar sedert die afsterwe van hierdie formidabele man op 23 Julie 1853. Om hierdie datum te herdenk, het lede van die FAK-Graaff-Reinet-Kultuurnetwerk byeengekom vir ’n kranslegging by die Andries Pretorius-monument in die Kamdebo Nasionale Park buite Graaff-Reinet. Die geleentheid is ook bygewoon deur Voortrekkers van die Oos-Kaap wat hierdie standbeeld as embleem op hul gebiedsvlag en Voortrekkerdrag dra.
Hierdie 5 m hoë beeld, deur die beeldhouer Coert Steynberg, het nie altyd hier gestaan nie. Dit is op 27 November 1943 onthul net buite Graaff-Reinet langs die N9 Nasionale pad na Middelburg. Neil Schreuder, inwoner van Graaff-Reinet en lid van die kultuurnetwerk, het vertel dat vandalisering van die beeld dit nodig gemaak het om dit in 2012 te verskuif na sy huidige posisie. Nadat die nodige fondse ingesamel is en toestemming van die parkeraad verkry is om die beeld na die Kamdebo-park te verskuif, is ’n hyskraan gebruik om die verskillende blokke te lig en verskuif.
Die beeld kyk in dieselfde rigting as in sy oorspronklike posisie, die rigting waarheen weggetrek is. Op die basis van die beeld staan Andries Pretorius se woorde tydens sy samesprekings met Harry Smith in 1848: “Eenmaal sal daar wel ’n wiel oor ons wêreld rol wat vir u en vir my onkeerbaar is.”
Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius is op 17 November 1798 in Graaff-Reinet in die destydse Kaapkolonie gebore.
As jong man beleef hy die jare van grensoorloë aan die oosgrens en neem self deel aan talle van hierdie konfrontasies. Hier word hy voorberei vir die groot rol wat hy later as militêre leier en strateeg vir sy volk sou speel. Teen 1836 begin die eerste trekke van die Groot Trek noordwaarts. Andries Pretorius is op hierdie stadium nog op sy plaas Letskraal 60 km buite Graaff-Reinet. In 1837 onderneem hy ’n verkenningstrek na die noorde en doen aan by Voortrekkers op sy pad, maar keer weer terug na sy plaas.
In 1838 tref die een ramp na die ander die Voortrekkers en hulle word leierloos gelaat na die dood van trekleiers Gerrit Maritz, Piet Uys en Piet Retief, en Andries Potgieter wat wegtrek weens meningsverskille. Sarel Cilliers besoek Andries Pretorius op Letskraal en oortuig hom om te trek.
Op 22 November 1838 kom hy aan by die Voortrekkers. Hy wen vinnig die vertroue van die trekkers en word aangewys as hoofkommandant van ’n kommando van 470 Voortrekkers wat op 16 Desember 1838 by die Slag van Bloedrivier ’n Zoeloemag van 10 000 tot 15 000 krygers verslaan.
In Januarie 1840 ondersteun Pretorius met 400 trekkers vir Mpande, halfbroer van die Zoeloekoning Dingaan, in die Slag van Maqongqo, om Dingaan finaal te verslaan. Pretorius is op hierdie stadium gevestig in Natal waar hy die leier vir die trekkers is. Britse gesag in Natal lei uiteindelik daartoe dat hy Natal in 1848 verlaat en hom gaan vestig in die Magaliesberg, noord van Britse gebied. Hy word deur burgers aan beide kante van die Vaalrivier verkies tot kommandant-generaal. Vryheid van Britse oorheersing word bereik op 17 Januarie 1852 by Sandrivier toe Andries Pretorius Britse kommissarisse ontmoet en ’n konvensie onderteken is waarmee Brittanje die onafhanklikheid van die Transvaalse boere erken het.
Andries Pretorius sterf op 23 Julie 1853 by sy huis in Magaliesberg. Sy liggaam is begrawe in die Heldeakker in Pretoria, die stad wat na hom vernoem is.