Die tjello is ’n strykinstrument met vier snare wat met ’n strykstok bespeel kan word of gepluk kan word.
Die naam van die tjello is afkomstig van die laaste deel van die Italiaanse woord viloncello, wat “klein viooltjie” beteken. Die term violone word vandag gebruik vir die vioolinstrumente met die laagste toonhoogtes wat aan die einde van die 17de eeu uit die mode geraak het, behalwe in Engeland en veral Frankryk. Dit het nog ’n halfeeu in Frankryk voortgeleef totdat die viol, met ’n harder klank, groter byval begin vind het. In die moderne simfonieorkes is die tjello die tweede grootste snaarinstrument met net die basviool wat groter is. Die modern benaming het teen die vorige eeuwending ontstaan, met ’n afkappingsteken aan die begin wat die verkorting van viloncello na ‘cello aangedui het. Die afkappingsteken het egter mettertyd weggeval.
Die tjello word in vyfdes gestem, ’n oktaaf laer as die altviool. Soos die basviool, beskik die tjello oor ’n pen aan die onderkant wat sy massa ondersteun wanneer dit regop geplaas word om gespeel te word. Dit is deel van die strykinstrumente van ’n gewone simfonieorkes en hoewel dit gewoonlik as die basinstrument vir ’n strykkwartet gebruik word, word dit soms ook as melodie-instrument ingespan.
Die tjello word gewoonlik van hout gemaak, maar aluminium en koolvesel word ook soms gebruik. Die bokant word gewoonlik van sparhout gemaak terwyl esdoringhout vir die nek, die agterkant en die kante gebruik word. Wilger- of populierhout word ook soms vir die agterkant en kante gebruik. Goedkoper tjello’s het soms gelamineerde hout. Omdat hulle meer duursaam en goedkoper is, word hulle gebruik vir laer- en hoërskoolorkeste. Dit is minder waarskynlik dat hulle beskadig sal word wanneer daar per abuis teen hulle gestamp word of as hulle dalk laat val word. Die bokant en agterkant word gewoonlik met die hand vervaardig, maar die goedkoper tjello’s word deur masjiene vervaardig. Die kante word gemaak deur hout te verhit en in vorms te buig. Die bo- en agterkant van die tjello het ’n dekoratiewe ranginlegsel wat as “purfling” bekendstaan. Dit is nie net aantreklik nie, maar ook funksioneel aangesien dit keer dat die hout dalk kan kraak wanneer daar per abuis daarteen gestamp word. Selfs wanneer ’n kraak aan die rand van die instrument kan vorm, versprei dit nie verder nie; sonder “purfling” kan krake aan die bokant of agterkant versprei. Gereelde gebruik, asook reis en weersomstandighede kan die instrument beïnvloed en as “purfling” nie in plek is nie, kan krake vererger. In die geval van goedkoper instrumente word “purfling” daarop geverf. Die vingerbord en penne word gewoonlik van ebbehout vervaardig; dit is duursaam en verweer nie so maklik nie. Rooshout kan egter ook hiervoor gebruik word. Die strykstok word gewoonlik van Brasiliaanse hout gemaak en perdehare word tussen die twee punte van die strykstok gerek. Sintetiese hare kan ook vir die strykstok gebruik word. Die spanning van die strykstok word verslap wanneer die instrument nie gebruik word nie.
Onder die bekendste barok-werk vir die tjello is die ses onbegeleide suites van Johann Sebastian Bach. Ander noemenswaardige werke is sonates en konserte van Antonio Vivaldi asook solo-sonates deur Francesco Geminiani en Giovanni Bononcini. Domencio Gabrielli was een van die eerste komponiste wat die tjello as ’n solo-instrument gebruik het. Onder die bekende werke uit die romantiese era was die Robert Schumann Concerto, die Antonin Dvorak Concerto, die eerste Camille Saint-Saëns Concerto asook die twee sonates en die Double Concerto deur Johannes Brahms. Daarby moet ’n oorsig van die komposisies vir die tjello uit die romantiese era die werk van die Duitse komponis Fanny Mendelssohn insluit; onder meer Fantasia in G-mineur vir tjello en klavier en Capriccio in A-mol vir tjello. Die veelsydigheid van die tjello het gemaak dat dit in die laat negentiende- en vroeë twintigste eeu deur komponiste soos Sergei Prokofiev, Benjamin Britten en Henri Duttileux gebruik is. Daar was verskeie sonates vir tjello en klavier, deur komponiste soos Beethoven, Mendelssohn, Chopin, Brahms, Grieg, Rachmaninoff, Prokofiev en Britten. In die 1970’s is dit selfs vir pop- en diskomusiek gebruik.
Die tjello word nie so gereeld in kontemporêre musiek soos in klassieke musiek gebruik nie. Nogtans was daar ’n aantal kontemporêre treffers waarin die tjello voorgekom het, onder meer “Yesterday”, “Eleanor Rigby” en “Strawberry fields forever” van The Beatles, “Good vibrations” van The Beach Boys en “Bang bang (my baby shot me down)” van Cher. In die 1970’s het Electric Light Orchestra groot sukses met hul kombinasie van rock- en klassieke musiek behaal en die viool en tjello het gereeld in hul musiek voorgekom. Mike Rutherford, wat deel van die popgroepe Genesis en Mike and the Mechanics was, het eers die tjello bespeel voordat hy na die baskitaar oorgeskakel het. Onder die meer onlangse groepe wat die tjello in hul musiek ingesluit het, was Aerosmith, One Republic, Clean Bandit , The Verve en Smashing Pumpkins. In Suid-Afrika het Soweto String Quartet groot sukses met hul vermenging van kontemporêre en klassieke musiek, wat onder meer ’n tjello insluit, behaal. Interessant genoeg het die “heavy metal” groep System of a Down ook van die tjello se ryk klank gebruik gemaak terwyl The Stiletto Formal, ’n alternatiewe rock-groep, gereeld ’n tjello in hul musiek gebruik. Jimmy Page, die kitaarspeler van die rock-groep Led Zeppelin, het baanbrekerswerk gedoen deur ’n elektriese kitaar op die groep se treffer “Dazed and confused” met behulp van die strykstok van ’n tjello te bespeel.
Die tjello word in ’n sittende posisie gespeel; dit word op die vloer staangemaak met ’n pen wat die instrument se massa ondersteun. Die snare word met die linkerhand gedruk terwyl die regterhand vir die strykstok gebruik word, of om die snare te pluk indien die musiek dit vereis. In die 1930’s is die eerste elektriese tjello ontwikkel en die eerste elektriese weergawe is in 1959 vervaardig. Die elektriese tjello verskil van die gewone weergawe deurdat dit kleiner en ligter is en soms glad nie oor ’n klankkas beskik nie. Die belangrikste verskil is egter dat dit deur ’n klankversterker wat soos dié van ’n elektriese kitaar werk, ondersteun word. Die klank word elektronies versterk en daar is geen resonante kamer nie. Daar is elektriese weergawes met vyf of ses snare teenoor die gewone tjello se vier. Dit maak dat ’n groter klankreikwydte moontlik is.
Die elektriese tjello het nog nie die gewildheid van die elektriese kitaar of die elektriese viool nagedoen nie.
Deur Daantjie Badenhorst