Op 23 Junie 1905, vandag 120 jaar gelede, verskyn ’n gedig, “Winternag”, in die koerant ‎𝘓𝘢𝘯𝘥 𝘦𝘯 𝘝𝘰𝘭𝘬. Die stigter en redakteur van die koerant was Eugène Marais; hy was ook die ‎digter van “Winternag”.‎
‎“Winternag” verskyn in ’n tyd toe die Tweede Afrikaanse Taalbeweging na die Anglo-‎Boereoorlog begin momentum kry. Die gedig word beskou as die eerste letterkundig ‎betekenisvolle gedig in Afrikaans en 23 Junie 1905 word beskou as die mondigwording van ‎Afrikaanse poësie. ‎

Op Saterdagaand 21 Junie 2025 het die FAK se Kaapse kantoor ’n geleentheid by die Othello-‎aftreeoord in Brackenfell aangebied om die lewe van Eugène Marais en “Winternag” se ‎‎120ste bestaansjaar op ’n besondere wyse saam met die bekroonde aktrise en rolprentmaker ‎Katinka Heyns te vier.‎

In 2012 word die rolprent, 𝘋𝘪𝘦 𝘞𝘰𝘯𝘥𝘦𝘳𝘸𝘦𝘳𝘬𝘦𝘳, met Chris Barnard as draaiboekskrywer en ‎Katinka Heyns as regisseur, vrygestel. Die rolprent handel oor die tyd in Eugène Marais se ‎lewe toe hy in 1908 op die plaas Rietfontein in die Waterberge by die Van Rooyen-familie ‎ingewoon het.‎

Katinka gesels oor ’n besoek aan prof. Erik Holm wat destyds daartoe gelei het dat sy en haar ‎oorlede man, Chris Barnard, die rolprent oor Eugène Marais se lewe gemaak het. Sy vertel ‎van die soek na ’n mak bobbejaan wat in die rolprent gebruik is, oudisies en rolverdelings en ‎die ooreenkomste in gelaatstrekke tussen Eugène Marais en Dawid Minnaar wat die hoofrol ‎in 𝘋𝘪𝘦 𝘞𝘰𝘯𝘥𝘦𝘳𝘸𝘦𝘳𝘬𝘦𝘳 gespeel het.‎

Na ’n gesellige saamkuier met ’n koppie koffie of tee en gesprekke met Katinka, neem almal ‎weer hul plekke in en kyk ons almal saam die rolprent 𝘋𝘪𝘦 𝘞𝘰𝘯𝘥𝘦𝘳𝘸𝘦𝘳𝘬𝘦𝘳. Die rolprent boei ‎die gehoor, en so af en toe is daar ’n spontane gelag vir komiese insidente of kwinkslae in ‎die storie.‎

Op my vraag of Erik Holm destyds tevrede was en van die rolprent gehou het, antwoord ‎Katinka, “Hy was in trane.” Katinka Heyns se eie terugvoer na ’n heerlike aand van samesyn ‎met Afrikaanse digkuns en rolprent was: “Baie, baie dankie vir 𝘋𝘪𝘦 𝘞𝘰𝘯𝘥𝘦𝘳𝘸𝘦𝘳𝘬𝘦𝘳-‎geleentheid. Dis die eerste keer wat ek objektief kon kyk en ek het dit baie geniet!”‎

By die Silwerskermfees in 2012 is 𝘋𝘪𝘦 𝘞𝘰𝘯𝘥𝘦𝘳𝘸𝘦𝘳𝘬𝘦𝘳 met ses toekennings bekroon: Beste ‎film; Beste regisseur – Katinka Heyns; Beste draaiboek – Chris Barnard; Beste redigering –‎Ronelle Loots; Beste aktrise – Elize Cawood en Beste vroulike byspeler – Sandra Kotzé.‎

Die bekende rolprentresensent, Leon van Nierop, het van 𝘋𝘪𝘦 𝘞𝘰𝘯𝘥𝘦𝘳𝘸𝘦𝘳𝘬𝘦𝘳 gesê: “So ’n ‎meesleurende, beeldskone en aangrypende Afrikaanse rolprent sien jy dalk net een maal per ‎jaar. 𝘋𝘪𝘦 𝘞𝘰𝘯𝘥𝘦𝘳𝘸𝘦𝘳𝘬𝘦𝘳 moet ten alle koste gesien word.”‎