Die dwarsfluit is deel van die familie van houtblaasinstrumente.

Hoewel die silwer weergawe die bekendste is, is dit oorspronklik uit hout vervaardig, vandaar die klassifisering daarvan as ’n houtblaasinstrument. Dit kan ’n variasie van toonkleure skep, soos sag, rustig of hartseer deur middel van lae note of lewendig en opgewek deur middel van hoë note. Die naam word afgelei van die posisie waarin dit gespeel word, van horisontaal na regs van die mond.

Die geskiedenis kan teruggedateer word na die ontstaan van die mensdom van die eerste instrumentgroep waarvan ons weet. Dit het in verskillende dele van die wêreld in verskillende variasies ontstaan, en ’n fluit met drie gate, wat uit die tand van ’n olifant gekerf is en na bewering duisende jare oud is, is in 2004 in die Geißenklösterle-grot in Duitsland ontdek. Twee ander fluite wat uit swaanbene vervaardig is, is onder die oudstes wat bekend is. Die eerste verwysing van ’n fluit in die Bybel is in Genesis 4:21, waar Jubal, die stamvader van almal wat die ugab (fluit) en kinnor (harp) bespeel het, genoem is. Ugab is ’n Hebreeuse term wat na ’n blaasinstrument in die algemeen verwys. Jubal word tradisioneel as die ontdekker van die fluit beskou. Die fluit is ook deel van sekere kulture se geloof en mitologie.

Oor die gleuf van die mondstuk word ’n lugstroom geblaas wat maak dat die lug in twee gesny word. Die deel van die lug wat in die pyp ingaan, resoneer teen die kante en glip by die oop kleppies uit om sodoende ’n sekere noot te vorm, soos 440 vibrasies per sekonde om die A net bokant middel C te skep. Die noot kom dan in sy volledige vorm by die oop kant van die fluit uit. Om daardie lugstroom met jou mond te vorm, is dit nodig om jou lippe “tussen ’n soen en ’n glimlag” te hou en te blaas asof jy ’n vuur stook. Die fluit word geblaas tot die tweede of derde harmonie deur ’n kombinasie van verhoogde lugstroomsnelheid en om die gaping tussen die speler se lippe en die kant te verklein.

Die moderne fluit is in die vorm van ’n oop silindriese lugkolom en ongeveer 66 cm lank met ’n deursnee van twee sentimeter. Die basisnoot is middel C en daar is ’n reeks van drie oktawe tot by C7. Die fluit kan van verskillende materiale of mengsels daarvan vervaardig word, onder meer hout, silwer, nikkelsilwer of goud. Die gewildste is egter ’n kombinasie van nikkel en silwer. Die kleppe funksioneer deur middel van ’n ingewikkelde verskeidenheid van vere en konneksies. Die moderne fluit is ontwikkel deur Theobald Boehem, wat van 1832 tot 1847 daarmee geëksperimenteer het met die doel om dit ’n groter toonvariasie te gee. Hy het eindelik ’n paraboliese kopstuk aan die lyf van die fluit met klepopeninge waar daar voorheen vingeropeninge was, ontwikkel, waarna ander klein verbeteringe aangebring is. Die moderne fluit het hoofsaaklik ’n reikwydte van middel C opwaarts vir omtrent vier oktawe.

Daar word in die Bybel gereeld na die fluit as musiekinstrument verwys, en die bekendste verwysing is seker in Psalm 150:4 waarin Dawid geskryf het: “Prys Hom met die snaarinstrumente en fluite!” Die inleiding van Psalm 5, wat Dawid ook geskryf het, was: “Vir die koorleier met fluitspel.” Die fluit word ook meer as een keer in Daniël 3 genoem. In Mattheus 11:17 staan daar geskrywe: “Ons het vir julle op die fluit gespeel maar julle het nie gedans nie.”

Die fluit is gereeld in klassieke musiek gebruik, onder meer in die vierde beweging van Beethoven se derde simfonie, wat ook as Eroica bekendstaan. Nog ’n bekende klassieke stuk waarin die fluit prominent voorkom, is Nikolai Rimsky-Korsakov se Russiese Paasfees-overture, wat tussen Augustus 1887 en April 1888 gekomponeer is.

Dit is egter nie net in klassieke musiek wat die dwarsfluit gebruik word nie. Die Britse rock-groep Jethro Tull, wat reeds in 1967 ontstaan het, vermeng klassieke en progressiewe rock-musiek en hul hoofsanger, Ian Anderson, bespeel ook die dwarsfluit. Nog ’n groep wat hierdie twee musiekgenres met mekaar kombineer en jare lank op die toneel is, is The Moody Blues, wie se fluitspeler Ray Thomas van 1964 tot 2002 deel van die groep was. Hul bekendste treffer, waarop sy fluitspel duidelik gehoor kan word, is “Nights in white satin”. Die Beatles het in 1965 ’n treffer met “You’ve got to hide your love away”, waarop John Scott die fluit bespeel het, gehad, en The Mamas and the Papas se treffer “California dreaming”, ook met ’n dwarsfluit, het die volgende jaar ’n treffer geword. Nog drie treffers van die 1960’s waarin ’n fluit gebruik is, was “Ruby Tuesday” van The Rolling Stones en “There is a mountain” van Donovan in 1967 en “Mighty Quinn” van Manfred Mann die volgende jaar. In 1975 het die Nederlandse popgroep George Baker Selection ’n nr. 1-treffer met “Paloma blanca” gehad, met die fluit wat in die instrumentale inleiding voorgekom het. Seker die laaste groot treffer waarin ’n fluit voorgekom het, was “Down under”, waarmee die Australiese groep Men at Work in 1982 internasionaal sukses behaal het.

Seker die mees bisarre gebruik van die fluit in hedendaagse musiek was seker toe die rymkletsgroep The Beastie Boys dit in hul treffer “Flute” loop gebruik het; daar word egter gesê dat dit gereeld in hip-hop-musiek gehoor kan word.