Die bekende skrywer en joernalis Elize Parker het onlangs haar gewilde Laeveld-drieluik afgesluit met die derde en laaste boek, Waar die doringbome sing. Dié boek voltooi dan eindelik haar trilogie wat bestaan uit die eerste twee boeke – Stil vloei die Komati en Wanneer skaduwees kantel. Hierdie nuwe boek ondersoek kragtige temas soos verlies, geloof en familiebande. Parker se storievertelling speel af in die pragtige Laeveld en kombineer persoonlike stories met dieper refleksies oor verhoudings en die natuur.

Parker verduidelik dat haar skryfproses vir die trilogie reeds baie jare gelede al begin het terwyl sy in die Laeveld gewoon het. Sy het die stories van die drie boeke noukeurig oor ses maande beplan en verseker dat die karakters en temas verbind is. Die unieke skoonheid van die Laeveld, veral die goue lig by sonsondergang, het baie van die trilogie geïnspireer en gedien as ’n konstante draad deur die boeke.

Die storielyne is gebaseer op werklike ervarings en mense wat Parker tydens haar werk as joernalis teëgekom het, insluitend veldwagters, renosterversorgers en selfs regsake wat met stropery verband hou. Vir die laaste boek het sy daarop gefokus om al die los drade van die vroeëre boeke vas te bind terwyl sy dieselfde skryfstyl behou het waarvan haar lesers hou.

In die reeks besin Parker oor hoe verhoudings kan verbrokkel, hetsy tussen familielede of tussen mense en die natuur. Sy glo dat blaam en oordeel dikwels afstand tussen mense skep. Deur die stories hoop sy dat lesers sal dink oor vergifnis en genesing in hul eie gesinne.

“My wens is dat die boekreeks vergewensgesindheid onder gesinslede sal kweek en die gedagte tuisbring dat ons mekaar nie kan veroordeel of oordeel nie, asook nie blaam kan plaas nie,” sê Parker. “Ek wil so graag die boodskap oorbring dat Jesus die blaam aan die kruis geneem het en ons kan nie as gelowiges ’n lewe van veroordeling en blaamplasing lei en so ons verhoudings ruïneer nie.”

Terwyl sy geskryf het, het Parker humor in die storie gebring deur ’n muskeljaatkat genaamd Kataza in te sluit, wat ligter oomblikke byvoeg om die dieper temas te balanseer. Kataza vervang ’n vlakvark genaamd Snorkie, ’n gunstelingkarakter vroeër in die reeks.

Alhoewel hierdie die laaste boek in die trilogie is, meen Parker dat die Laeveld in die toekoms meer stories kan inspireer.

“Ek glo die Laeveld sal nog ’n boek by my inspireer, maar met ander vorme van uitbuiting wat daar teen diere is en met ander karakters. My kontrak vir ’n vierde trilogie is geteken en ek werk nou hard daaraan. Die reeks is die Orca-reeks en dit fokus – hoe anders? – op die uitbuiting van ons visbronne,” deel Parker opgewonde.

Met Waar die doringbome sing vertel Parker nie net ’n pragtige storie nie, maar deel ook die belangrike boodskap van vergifnis, familie en omgee vir ons pragtige natuur.

Gaan besoek gerus Elize Parker se sosialemediablaaie om meer uit te vind oor haar boek, Waar die doringbome sing, en om op hoogte te bly oor al haar nuwe projekte vir 2025.