Mediaverklaring

18 November 2023

Die vlam van kultuur en erfenis brand helder in die harte van dié bejaardes.

Persone ouer as 60 jaar van die Sewendedag-Adventistekerk in Vaaldriehoek, het 16 November ’n “Op die pad van Suid-Afrika” toer meegemaak. Hierdie toer is deur die Vaal-Kultuurnetwerk aangebied met Kobie Ströh as toergids.

Kobie Ströh, lid van die Vaal-Kultuurnetwerk, sê wat vir haar uitgestaan het, was die belangstelling en die meelewing van die groep. “Dit was so lekker as jarelange inwoners van die Vaaldriehoek skielik met nuwe oë begin rondkyk na hulle omgewing en tot die besef kom dat Vereeniging ’n dorp is waar groot geskiedkundige gebeure plaasgevind het wat die hele Suid-Afrika beïnvloed het.”

Tydens die toer is die vredesboom van 1902 onder andere besoek. Verder het hulle konsentrasiekampgrafte, die beeld “Gewond maar onoorwonne” van Coert Steynberg, die Vaal Teknorama Museum, die Maccao Vlei-gholfbaan, waar die grafte van Suid-Afrikaners en Britte is, en die Vrystaat-brug besoek. Die laaste stop was by Henley on Klip waar ’n verskriklike busramp plaasgevind het.

Deur hierdie toere word erfenis bewaar en weer lewend gemaak. Die ouer persone se nuuskierigheid word weer aangewakker en die geleentheid word geskep dat hulle vir hulle kleinkinders van die geskiedenis kan vertel. Dit is vir die FAK-Vaal-Kultuurnewerk van belang om moeite te doen met kultuurtoere vir bejaardes, juis om die vlam van geskiedenisoordrag by hulle aan te steek.

“Dit is baie belangrik vir gemeenskappe om weer hulle eie geskiedenis en hulle eie erfenis te ontdek en te verken, want dit gaan so maklik verlore in die gang van tyd en mense se gejaagde lewens. Die gevaar is dat die geslag wat weet en die stories ken op die ou end gaan uitsterf. Hierdie tipe gemeenskapstoere is baie belangrik vir erfenisbewaring om die stories en die gebeure van die verlede lewendig te hou,” sê Jaco Cilliers, kultuurnetwerkbestuurder van die FAK.

Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van die FAK in die sentrale streek, het saam met Cilliers die toer meegemaak en was verras oor die aangename geselskap. Malan sê dat persone ouer as 60 jaar gehelp het om die land op te bou en kan nie noodwendig meer by die terreine betrokke wees nie. “‘Op u almag vas vertrouend het ons vadere gebou, gee ook ons die krag o Here om te handhaaf en te hou.’ Hoe waar is die woorde nie? Hoe kan ek my voorgeslagte se gebed ignoreer en als aan die vernietiging van tyd oorlaat? Kom ons handhaaf weer standaard, kom ons hou weer die fakkel hoog!”

Die FAK is dankbaar om erfenisterreine, wat andersins ontoeganklik vir die groep sou wees, toeganklik te kon maak. Hierdie groep afgetrede persone gaan ook eersdaags die FAK se kultuurplaas Udolpho besoek.