Deur: Barend Groenewald
“Elkeen van ons is in ons dag-tot-dag-lewe ’n kultuurdraer wat skeppend in die huidige tydsgewrig vir die nageslag bou.” – Bennie van Zyl
Met die Goudstad se glans in die truspieëltjie, maak die stad se gejaagde geroesemoes gou plek vir die geruis van grondpad, die vooruitsig van ’n vier dae lange avontuurbelaaide erfeniservaring sonder weerga wat op die horison wink. Kopskoonmaaktyd.
Tussen die uitgestrekte, golwende berge van Volksrust, waar diep geskiedenisspore van die Anglo-Boereoorlog met gras en grond vervleg is, wag ’n unieke 4×4-roete, aangebied deur die Suid-Afrikaanse Weermag Vereniging (SAWV) in samewerking met die FAK. Dié besonderse viertrekavontuur stel nie net jou bestuursvernuf op die proef nie, maar is ’n belewenisreis wat ’n mens diep raak.
Met ons aankoms op die plaas, skop die avontuur blitsvinnig sy stadskoene uit. Op pad plaashuis toe, word ek en my kollega onkant betrap en deur ’n modderpoel in ons spore gestuit. Danksy die gasvrye boer word die verkeersopeenhoping wat dié stadsjapies veroorsaak het, gelukkig gou ontknoop en kon ons en ons medereisigers na die kampplek beweeg, pragtig geleë teen ’n berghang met ’n panoramiese uitsig. Met die tente opgeslaan en boswaens in plek, het die groep twee opwindende aktiwiteite aangepak: kleiduifskiet en blinddoekbestuur. Een vir een het die skote geklap en kleiduiwe gespat! Ná die kleiduifskiet-ervaring het ons die ry met ’n blinddoek aangepak. In ’n oop, sopnat area met dik modder het die deelnemers, geblinddoek, die uitgewerkte roete aangepak. Die passasier moes gefokus die geblinddoekte bestuurder – ’n dapper vrou – lei. Dit was natuurlik gevul met groot vermaak, lag en spanning.
Op dag twee was ons vroeg uit die vere. Ná die vorige aand se reën was die roete seepglad en uitdagend – ideaal om 4×4-vernuf te toets. Modderige draaie en los klippe het elke meter interessant gemaak. Ons het generaal Piet Joubert se goedversorgde graf op sy plaas besoek en by die Allemansnek-slagveldgedenkteken stilgehou. ’n Mens kon sien dat die besoek aan die verskeie erfenisbakens elkeen diep geraak het.
Die aand het ons na ’n treffende toespraak deur Bennie van Zyl, voorsitter van die Transvaalse Landbou-unie (TLU), geluister. Van Zyl het gesels oor hedendaagse Suid-Afrika en hoe ons as Afrikaners ’n positiewe verskil kan maak. “Elkeen van ons is in ons dag-tot-dag-lewe ’n kultuurdraer wat skeppend in die huidige tydsgewrig vir die nageslag bou. Daar is talle trotse oomblikke in ons geskiedenis waaroor daar verskeie boeke geskryf is wat vir ons die nodige toeligting gee oor waar ons vandaan kom. Die vraag is hoe die boeke gaan lyk wat oor óns geslag geskryf word?” het Van Zyl vertel. Wat ’n voorreg is dit nie om vandag aktief aan ’n toekomsverhaal te skryf nie!
Dag drie was ’n besonderse verkenningstog. Die groep het ’n draai by ’n oop stuk aarde gemaak waar die Volksrust-konsentrasiekamp was. Hier moes vrou en kind die ondraagbare toestande van ysige weerstoestand en karige kos verduur. Bo-op ’n hoë, steil hang, het die groep die uitmergelende tog wat die vroue elke dag moes aflê om klere te was en drinkwater te kry, probeer verstaan. Van daar af het ons deur ’n donker 600 meter lange treintonnel gery wat in 1891 deur die Britte gebou is. Die aand het vir groot humor en pret gesorg met elke span wat ’n FAK-liedjie in ’n toneel moes opvoer.
Dag vier het die einde van die naweekavontuur aangekondig. Dit was tyd om (teësinnig) op te pak en huiswaarts te keer. In konvooi het die voertuie hul pad van grond na teer gevind, terwyl daar in byna gewyde stilte teruggedink is aan ’n besonderse onthounaweek gevul met betekenisvolle erfenisbelewenisse.
Vir vier dae het ’n gesellige groep mense met warm harte diep in ons kultuurerfenis gedelf – tussen uitgestrekte berge, oor grondpaaie, deur historiese plase en langs waardevolle erfenisbakens. Die SAWV het die naweek met uitsonderlike toewyding georganiseer, en dit was vir die FAK ’n voorreg om saam te werk en deel van dié gedenkwaardige ervaring te wees.