In ’n reuse- tegnologiese sprong die toekoms in om die Afrikaanse taal, tradisies, kultuur en erfenis vir komende geslagte te bewaar, het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) op Vrydag 7 Maart ’n innoverende Erfenistoepassing (app) bekendgestel. Dié baanbrekerapp plaas erfenis in jou handpalm en stel individue in staat om nie net ambassadeurs en beskermhere van hul erfenis te wees nie, maar daadwerklik eienaarskap daarvan te neem.

Dié app, wat tans op Android-slimfone afgelaai kan word, maak dit vir gebruikers moontlik om aktief by die beskerming van Afrikanererfenis betrokke te raak deur waardevolle stories, tradisies en historiese data in te samel. Deur die app af te laai, word gebruikers bemagtig om op betekenisvolle maniere tot die toekoms van hul kulturele identiteitnalatenskap by te dra.

Volgens Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, is die bekendstelling van hierdie inisiatief in die hedendaagse vinnig veranderende wêreld monumentaal: “Die Erfenistoepassing is meer as net ’n gewone app; dit is ’n noodsaaklike instrument in ons stryd om ons erfenis lewend te hou. Die app bou ’n broodnodige brug tussen generasies, wat elkeen met ’n slimfoon ’n erfenisbouer maak.”

“Erfenis lééf veel wyer as die bladsybeperking van geskiedenisboeke,” voeg dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, by. “Dit is diepgewortelde verhale wat vandag nog geskryf word en ter wille van die generasies wat kom beleef, gedeel en bewaar moet word. Hierdie app is gegrondves in die gedagte dat ons nie net deelgenote in taal, kultuur, erfenis en geskiedenis is nie, maar aktief moet deelneem aan die bewaring van ons kulturele skatte.”

Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die FAK, beaam die belangrikheid van die app vir ’n tyd soos nou. “In ’n wêreld waar geskiedenis dikwels gerieflik opsy geskuif of selfs slinks verdraai word, gee hierdie app aan my en jou ’n kragtige hulpmiddel om die buitengewone te bewaar.

“Ek en jy is die barometers om die toestand van ons erfenis dop te hou en te dokumenteer. Deur dít te doen, word ons die behoeders van die verlede en bouers van die toekoms. Dit is nie net ons verantwoordelikheid en voorreg om te onthou nie, maar aktief die kwaadwillige uitwissing van ons kulturele spore te stuit,” sê Brand.

Vat die pad met splinternuwe Erfenisavonture Benewens die bekendstelling van die app, het die FAK ook ’n nuwe afdeling op sy webtuiste bekendgestel. Erfenisavonture bied insiggewende artikels en ’n verskeidenheid toere reg oor Suid-Afrika wat mense in staat stel om Afrikanergeskiedenis op ’n tasbare manier te ervaar. Daar is dagtoere asook geskiedkundige wegbreke wat jou na ikoniese bakens neem – van die Wes-Kaap en Noord-Kaap tot Gauteng en Limpopo. Die toere is geskik vir almal wat in erfenis belangstel, of dit nou families, jongmense of geskiedenisliefhebbers is.

Volgens Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, is Erfenisavonture ’n uitnodiging aan almal om nie net die verlede te lees nie, maar werklik te belééf. “Deur hierdie toere en spesiale inhoud word geskiedenis lewend en tasbaar – van vroeë oggendkoffie by Bloedrivier tot die knetterende klanke van ’n kampvuur onder ’n sterrehemel in die veld. Ons nooi almal uit om saam met ons op hierdie ontdekkingsreise te gaan en ons erfenis met al hul sintuie te ervaar.”