“As die FAK Jeug, is ons trots daarop om ’n dinamiese en energieke groep jongmense te wees wat ons kultuur en tradisies lewendig hou.”

Só vertel Reagan Smith wat vanjaar die leisels oorgeneem het as ondervoorsitter van die FAK Jeug.

Die FAK Jeug is in Desember 2023 deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge gestig. Sedertdien het dié jong mense al groot opspraak gemaak en bewys dat hulle gereed is om die fakkel van kulturele ontwikkeling oor te neem en die toekoms in te dra.

“Ons doel is om ’n ruimte te skep waar die jeug mekaar kan leer ken, saam kan kuier en kan groei in ’n omgewing wat ons waardes en erfenis respekteer en vier,” sê Smith.

“Ons organiseer gereeld verskeie sosiale byeenkomste en geleenthede wat daarop gemik is om gesonde verhoudings en ’n sterk gemeenskapsgevoel te bevorder. Van sokkies en braai tot cantus en nog baie meer – ons sorg vir pret en genot terwyl ons ook die geleentheid bied om nuwe vriendskappe te smee en lewenslange herinneringe te skep.”

Die FAK jeug is vroeg vanjaar al uit die wegspringblokke en het sedert hul ontstaan al ’n Cantus aangebied en saam met die sangeres Mitha Lubbe, beter bekend as The Catarina, hande gevat om die bekende FAK-Sangbundel nuwe lewe te gee met ’n opwindende musiekvasvra-aand by Rep en Roer in Pretoria.

In Februarie vanjaar het hulle hul stemme laat hoor toe die minister van justisie en korrektiewe dienste op die tyd, Ronald Lamola, verklaar het dat die Vierkleurvlag “Haatspraak” is. Die Jeug het hul platform gebruik en jong studente van regoor die land saam gekry om hierteen op te staan.

In Maart vanjaar het die jeug ook skouers geskuur met dinamiese jong leiers uit Amerika wat in Suid-Afrika kom kuier het as deel van ’n uitruilprogram. Met ’n “gesonde toekomsvisie” soos dit deur die destydse voorsitter Frans de Klerk beskryf is, het hulle nie net die Amerikaners blootgestel aan die Afrikaner se ryk kulturele erfenis tydens ’n toer en kuier by die Voortrekkermonument nie, maar het hulle ook die geleentheid gehad om idees te ruil met eendersdenkende jongmense uit die vreemde om ook só hul eie idees uit te bou en ’n beter toekoms te bou.

Meer onlangs het die jeug ook kragte saamgespan met die Erfenisstigting (ES) om ’n waardevolle erfenisterrein, die Ossewabrandwag-ereakker in Centurion op te knap. Hierdie skoonmaakaksie is die eerste van ’n deurlopende projek wat die FAK Jeug en ES saam aanpak.

Timothy Dingle, ’n lid van die FAK Jeug, het tydens dié projek gesê hy hoop die FAK Jeug se pogings inspireer meer jong mense om eienaarskap van hul kulturele erfenis te neem.

“Dit is vir ons regtig goed om ook die FAK Jeug by hierdie projek te kon betrek, omdat dit vir ons belangrik is om ons jong mense te bemagtig én te inspireer om hul moue op te rol en eienaarskap te neem van hul erfenis,” sê Dingle.

Charles Rademeyer, voorsitter van die FAK Jeug, sê hy is baie opgewonde oor wat die toekoms vir dié jeugbeweging inhou.

“Die FAK jeug is ’n klein groep jongmense wat ’n verskil wil maak en as die afgelope paar maande enige iets bewys het, is dat ’n klein vonkie uiteindelik ’n veldbrand kan word; die dat ons sê ‘Wees die vonk,’” sê Rademeyer.

Die volgende groot gebeurtenis op die FAK Jeug se kalender is ’n lekker kaalvoetsokkie wat op 23 Augustus by die Voortrekkermonument aangebied word.

Kontak vir reagansmith@kultuurtuiste.org.za vir meer inligting oor die FAK Jeug en hul doen en late.

FC Pelser