Plato, die bekende filosoof, het eens gesê: “Musiek gee ’n siel aan die heelal, vlerke aan die gees, vlug aan die verbeelding en lewe aan alles.”
Só is musiek ook die hartklop van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) wat die afgelope week toekennings oorhandig het aan twee ware legendes in Afrikaanse musiek, Richard van der Westhuizen en Valiant Swart, tydens die Vonk Erkenningsaand wat op 18 Februarie in Wellington plaasgevind het.
“Die FAK het deur die jare bekend geword as die voorlopers in erfenisbewaring én die uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur, en ’n groot deel van dié nalatenskap is die tuiste wat ons gebou het vir Afrikaanse musiek,” sê Lieandri Ackermann, FAK-projekbeampte.
“In die verlede het ons al verskeie toekennings aan mense oorhandig wat ’n groot bydrae in die Afrikaanse musiekbedryf lewer, en daarom het ons nie gehuiwer om hande te vat met Vonk Musiek om twee van ons land se beste liedjieskrywers en musikante te vereer nie.”
Tydens die Vonk Erkenningsaand het Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van kuns en musiek, die voorreg gehad om hierdie toekennings aan Van der Westhuizen en Swart te oorhandig, en sê dit is bemoedigend om saam met Vonk te kon werk om uitnemendheid in Afrikaans te vier.
“Dit is werklik ’n voorreg om die Vonk Erkenningsaand namens die FAK te kon bywoon,” sê De Jager.
“Vir die FAK is dit ’n riem onder die hart om te sien hoe Vonk ’n volhoubare platform skep vir Afrikaanse kunstenaars, maar veral liedjieskrywers.”
Van der Westhuizen se liedere “Kinders van Afrika”, “Tussen treine”, “Wintersprokie” en “Ballade vir ’n enkeling”, en Swart se treffer “Sonvanger” verskyn in twee uitgawes van die bekende FAK-Sangbundel.
Ashley du Toit, sosiale bestuurder van Vonk, het op haar beurt haar dank uitgespreek en sê sy waardeer die FAK se bydrae tot die musiekbedryf.
“Vonk is baie dankbaar vir die FAK se betrokkenheid by die projek. Julle (die FAK) het ’n verskil gemaak vir die kunstenaars.”