Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Skryf’it-liedjieskryfkompetisie is nou in die volgende opwindende fase. Tot 20 Junie vind fase 2 van die kompetisie plaas, waartydens die beoordelaarspaneel en kundige ghoeroes saamkom om die ingeskrewe liedjies te bespreek en te evalueer.
Hierdie intense proses stel die beoordelaars in staat om saam te besin, gedagtes uit te ruil en elke liedjie deeglik te oorweeg. Die doel is om eerlike, goed deurdagte insigte oor die potensiaal en kreatiewe kwaliteit van elke inskrywing te lewer, sodat die sterkste liedjies na die volgende fase kan deurdring.
Volgens Sallas de Jager, nasionale hoof: taal, kuns en musiek by die FAK, is hierdie stadium van groot belang vir die toekoms van Afrikaanse musiek. “Skryf’it is nie net ’n kompetisie nie, dit is ’n kreatiewe kwekery,” sê hy. “Ons sien in hierdie fase hoe woorde en melodieë begin blom.”
Deelnemers is intussen besig om kort video’s van hul ingeskrewe liedjies oral op sosiale media te deel. Een van die deelnemers, Logan Pietersen, sê: “My inskrywing vir die kompetisie se naam is ‘Afrikaans, my Taal’ – my liefdesbrief aan Afrikaans. Dit is ’n lied wat gebore is uit trots, herinneringe en die diepe waardering vir die taal wat my gevorm het. Hierdie lied is vir elkeen wat weet dat Afrikaans nie net ’n manier is om te praat nie – dis hoe ons voel, liefhê, bid en hoop.”
Die publiek kry vanaf 23 Junie die geleentheid om deel te neem wanneer aanlyn stemme oopmaak. Musiekliefhebbers sal dan hul stem kan laat hoor vir hul gunstelingliedjies, en só help bepaal watter wysies na die finale rondte deurdring.
Skryf’it is deel van die FAK se Afrikaans 100-projekte en dien as ’n platform om vars Afrikaanse musiektalent te ontdek en te vier. Die kompetisie lewer ’n belangrike bydrae tot die bewaring en bevordering van ’n lewende Afrikaanse musiekerfenis.