Mediaverklaring

09 Oktober 2023

President Paul Kruger is vir alle Afrikaners ’n held en inspirasie.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerk in Rustenburg herdenk jaarliks die nalatenskap van Paul Kruger rondom Heldedag wat op 10 Oktober plaasvind. In besonder word Paul Kruger en die spore wat hy in Rustenburg getrap het met ’n geskiedenistoer herdenk wat deur meer as 40 mense van verskeie organisasies bygewoon is.

Alhoewel Pretoria as die setel van Kruger se regeringstydperk was, het Kruger homself in Rustenburg gevestig en is dié dorp se geskiedenis verweef met dié van Kruger.

“Mense soos Paul Kruger het ’n ideaal gevestig wat van geslag tot geslag selfrespek en godsvrug kan voortbring, mits ons tyd maak om na die ou stemme te luister.”

Só sê ds. Stephan Botha, die voorsitter van die FAK-Rustenburg-Kultuurnetwerk.

“Dit was vir my ’n voorreg om saam met vele ander, en veral kinders en jongmense, die nalatenskap van President Paul Kruger te gedenk.”

Die historiese roete het meer as 40 mense van die FAK-Rustenburg-Kultuurnetwerk, die Magalieskruin Voortrekkers, die Peglerae Damesklub, die Dameskring en die Vroue Landbou-unie by Kruger se eerste woning op die plaas Waterkloof byeengebring, waar die toer ook afgeskop het. Die toer besoek belangrike geskiedkundige bakens, soos die monument wat Potgieter en Pretorius se versoening gedenk, die Krugerstandbeeld in Rustenburg asook die seringstompmonument wat die stigting van die Gereformeerde Kerk verteenwoordig.

Die verrigtinge is afgesluit by Boekenhoutsfontein, die plaas wat Kruger buite Rustenburg gekoop het.

Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK in die Noordelike streek, ag dit belangrik om geskiedkundige bakens te bewaar.

“Dít is hoekom dit so belangrik is om ons Afrikanererfenisbakens te beskerm en behou. Nie net nou vir ons nie, maar om ook vir ons nageslagte die voorreg te gee om ons geskiedenis te geniet en beleef soos wat ons tans kan. Elke verlore baken is ’n deel van ons geskiedenis wat verlore raak en ’n stukkie van ons Afrikaneridentiteit wat weggevat word.”

Dis toere soos dié wat geskiedenis tasbaar en lewendig maak.

Die publiek word uitgenooi om op Krugerdag hulde te bring aan Paul Kruger deur self ’n blom te lê by sy standbeeld in Rustenburg, of om 14:00 by die Heldeakker in Pretoria ְ’n krans te lê by sy graf tydens die amptelike Krugerdagvieringe wat deur die Krugergenootskap aangebied word.

’n Spesiale woord van dank aan oom Human Jordaan van President Paul Kruger Lodge en Sarah Forsyth van Boekenhoutsfontein en Kedar Lodge, wat hierdie toer ekstra spesiaal gemaak het! Asook die Kultuurnetwerk se sekretaresse, Leandri Pretorius van die Magaliesburgse Voortrekkerkommando, wat die ongelooflike toer gereël het.