Die FAK se Vrystaatse kultuurnetwerk het dié provinsie se toppresteerder in die 2024 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen onlangs vereer. Dit kom nadat Susan Bender van die Bethlehem Voortrekker Hoërskool (BVHS) in die Oos-Vrystaat die hoogste gemiddeld in die Vrystaat behaal het met ’n ongelooflike 96%. Susan se prestasie is egter nie by die onlangse prestigegeleentheid van die Departement van Onderwys erken nie, ’n besluit wat ons by die FAK glo nie die omvang van haar sukses verminder nie. Dit is ons eer om haar harde werk en toewyding te eer en te vier.
Dié toegewyde hokkiedoelwagter, debatteerder én leier glo buitemuurse aktiwiteite het haar broodnodige vaardighede geleer om haar akademiese doelwitte te bereik. “’n Wiskundevraestel lyk aansienlik minder gevaarlik as ’n hokkiebal wat teen 90km/h in jou rigting vlieg!” vertel sy met ’n breë glimlag.
Bender se boodskap aan ander matrieks is een van deursettingsvermoë, betrokkenheid en balans. “Moet nooit opgee nie. Doen elke dag jou deel, en jy sal die vordering sien en die vrugte pluk.”
Stuur ’n WhatsApp met die woord “Toekomsbou” na 081 586 7048 en help ons om vir die volgende generasie geleenthede te skep om hul toekomsdrome te bou.