Na die Slag van Blaauwberg in 1806 kom die Kaapkolonie onder Britse beheer. Die 19de eeu in die Kaap word ’n stryd tussen voorstanders en teenstanders van verengelsing. Dit kry beslag in onder meer gebruike, boustyle, kleredrag, eetkultuur en ook in onderwys. In hierdie klimaat besluit lede van die Genootskap van Regte Afrikaners om ’n plan te maak sodat hulle kinders vryelik in Afrikaans kan skoolgaan.

Met die ondersteuning van die boerderygemeenskap word op 14 Maart 1883 ’n skool in die ou wynkelder op die plaas De Kleyne Bosch in Daljosafat geopen sodat moedertaalonderrig aan Afrikaanse kinders in Daljosafat en Klein Drakenstein gegee kon word. Hierdie skool was die eerste amptelike Afrikaanse skool. Gebore as ’n inisiatief van lede van die GRA met Hugenote-herkoms, soos die voorsitter SJ du Toit, was die doel van hierdie skool verder ook om ’n egte Hugenote-skool te wees waar die waardes van Hugenote-voorouers in stand gehou sou word en hul nagedagtenis geëer word. Kinders moes eerbied vir voorgeslagte, liefde vir hul volk en kennis van hul volk se geskiedenis geleer word. Christelike beginsels het die grondslag van die skool gevorm. Die Hugenote Gedenkskool het gefunksioneer sonder regeringssubsidie en dus vry van regeringsinmenging.

’n Advertensie in die tydskrif, Ons Klyntji, in Maart 1904 verskaf interessante inligting oor hierdie skool se sillabus en fasiliteite op daardie stadium. Vakke wat aangebied is sluit in Bybelgeskiedenis, Kerkgeskiedenis, Algemene geskiedenis en Geskiedenis van Suid-Afrika en Brittanje. Daarmee saam ook Syferkunde, Algebra, Aardrykskunde en Meetkunde. Vier ander tale is ook as vakke aangebied, Latyn, Grieks, Hollands en Engels. Daar was ’n musiekonderwyseres, ene B Malherbe, wat leerlinge onderrig het in klavier, harmonium en viool.

Die skool het ’n koshuis gehad en beurse ter waarde van £12 vir behoefte kinders beskikbaar gestel. Die advertensie van 1904 spreek ook duidelik tot die doelstellings waarvoor hierdie skool jare tevore opgerig is wanneer dit praat van die Christelike toesig, dat dit opgerig is as gedenkteken vir die Franse Hugenote, dat ’n gerespekteerde boerehuisgesin-omgewing geskep word vir koshuiskinders en die leuse waarvolgens die skool bestuur word, “De vreeze des Heeren is het beginsel der wijsheid.”

Bekende oudleerlinge van hierdie skool is die digters AG Visser, Totius en DF Malherbe. Abraham Izak Perold, bekend as wynboukundige, het ook hier skoolgegaan. Teen die einde van die 19de eeu is toneelstukke deur die leerlinge van die skool aangebied. Een hiervan was, Een Misverstand, wat op 10 Desember 1898 opgevoer is en moontlik een van die eerste toneelstukke in Afrikaans was. AG Visser en Totius het ook, terwyl hulle nog leerlinge by hierdie skool was, toneelstukke vir die skool geskryf.

Een van die GRA-stigterslede, Oom Lokomotief (DF du Toit), was die eerste onderwyser van die skool. AG Visser het later vir ’n ruk hier skoolgehou. Die Hugenote Gedenkskool het ook as ’n normaalskool gedien vir die opleiding van Afrikaanssprekende onderwysers.

Weens ’n gebrek aan fondse was die skool genoodsaak om in November 1910 te sluit. Dit is later jare weer in ’n wynkelder omskep, het mettertyd in onbruik geraak en ’n pakkamer geword. Aangesien dit nie meer in stand gehou is nie, het dit bouvallig geraak en gevaar geloop om gesloop te word. ’n Skenking van die Kaaplandse Helpmekaar Studiefonds het dit moontlik gemaak om ’n serwituut oor die omliggende erf en murasie te registreer. In 1987 word die Hugenote Gedenkskool Trust gestig, ’n inisiatief van die skrywer en dramaturg Willem Abraham de Klerk. Fondse word ingesamel met die hulp van Naspers, Die Burger, KWV, FAK, Rapportryers en die publiek. Onder leiding van die argitek Gawie Fagan word die skool gerestoureer.

Die gerestoureerde gebou, in Georgiaanse styl uit die 1880-1910 era, is op 25 Maart 2002 ingewy met ’n lesinglokaal op die boonste verdieping wat vir die aanbied van slypskole en konferensies om Afrikaans te bevorder en as museum, wat die geskiedenis van die skool en die GRA uitbeeld, benut word. Die grondverdieping word vir gasteverblyf gebruik. ’n Versameling van WA de Klerk se boeke word ook hier gehuisves.

Die Hugenote Gedenkskool is tans gesluit vir besoekers onderwyl ’n omvattende restourasieprojek van die historiese plaas Kleinbosch, waarop die skool geleë is, aan die gang is.

Elizma Smith