deur Marisha Hermann

Vanjaar is ek 21 jaar oud. Met elke Geloftefees trek ek my netjiese kerkklere aan en gaan ontmoet Afrikaners iewers in die land. Ek het al 19 verskillende Geloftefeeste bygewoon. Ek was twee keer by die Vegkop Geloftefees. Reitz, Bethlehem, Ermelo, Mosselbaai, Vegkop, Harrismith, Wonderboom, De Kuile, Virginia, Bronkhorstspruit, Brits, Rashoop, Orania, net om ’n paar te noem. Vanjaar vier ek Geloftefees by die Voortrekkermonument saam met duisende ander.

Ek onthou hoe ek al papnat gereën het, die son my gebrand het en ek amper weggewaai het. Elke fees het hulle eie besonderse atmosfeer.

By elke fees sal jy altyd drie goed kry:

’n Tradisie wat besonders is aan daardie fees.

Families wat saam Geloftedag vier. Soms families wat elke jaar by dieselfde Geloftefees bymekaar kom.

Kos, baie kos. Vleis word op die spyskaart gewaarborg en telkens maak pannekoek ook ’n verskyning.

By elke fees word ek opnuut herinner, die Afrikaners is gasvrye goeie mense.

Op 16 Desember 1838 verslaan die Voortrekkers die Zoeloemagte tydens die Slag van Bloedrivier. 464 Voortrekkermans teenoor 16 000 Zoeloes. Die vrees was groot, maar die geloof groter. Vanaf 9 Desember is die Gelofte afgelê in die laer by Bloedrivier en vandag, 185 jaar later, word hierdie Gelofte steeds deur duisende Afrikaners herdenk. ’n Spreekwoordelike laer word elke jaar regoor die land getrek. Ek is trots om saam laer te trek.

Elke jaar hoor ek die storie van die Slag van Bloedrivier uit verskillende perspektiewe. Nog nooit het ek die ander gebeure wat op 16 Desember plaasgevind het, gehoor nie.

Op 16 Desember 1904 lui die kerkklokke in Pretoria klokslag 06:00. Op dié dag word Stephanus Johannes Paulus Kruger, beter bekend as president Paul Kruger, begrawe. Die stad is in rou gedompel. ’n Buitelugdiens is op die oop terrein langs die Gereformeerde Kerk, regoor Krugerhuis gehou. Daarna het die begrafnisverrigtinge op Kerkplein plaasgevind. Ongeveer 15 000 mense het na sprekers soos genls. Schalk Burger, CR de Wet en Louis Botha geluister, wat hulde aan die ontslape president gebring het. President Paul Kruger is op hierdie somber dag in die Heldeakker begrawe.

Op 16 Desember 1913 word hulde gebring aan 26 370 vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog oorlede is. Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein is onthul. Die feesviering het begin met ’n diens in die Tweetoringkerk wat deur dr. Andrew Murray gelei is. Daarna is ’n indrukwekkende optog na die Vrouemonument gehou met vrolike musiekbegeleiding en kanongebulder. Die optog het bestaan uit gewapende burgers, waens met jong meisies in wit en pers geklee en ’n aantal berede burgers. Die onthulling van die monument is deur mev. Steyn waargeneem, omdat Emily Hobhouse te swak was om die geleentheid by te woon. Aan die voet van Anton van Wouw se beeld is ’n kranslegging gehou en feesredes gelewer.

Op 16 Desember 1921 word die Krugerstandbeeld in Rustenburg deur generaal JC Smuts onthul. Hierdie beeld is in Europa gemaak deur ’n Fransman, Jean George Archard. Hierdie beeldhouer het ’n groot bewondering vir pres. Kruger gehad en het die beeld reeds in 1900 gemaak. Tydens die vredesonderhandelings in 1919 het dr. FV Engelenburg, voormalige redakteur van De Volkstem, genls. Louis Botha en Jan Smuts Archard se ateljee besoek. Daar het hulle die gipsbeeld gevind en het dadelik gereël dat die beeld in brons gegiet moet word. Die beeld het in Oktober 1920 in Pretoria aangekom en eers was daar gedink om die beeld op Kerkplein te plaas. Daar is egter besluit om die beeld in Rustenburg op te rig. Die beeld is 2.44 m hoog en is gemonteer op ’n granietstuk van 3.05 m, waarop die woorde: Paul Kruger 1825-1904 uitgebeitel is. Die beeld stel die president in ’n ruim leunstoel voor waar hy met sy geboë hoof in diepe bepeinsing sit. Dis hoe die Archard hom in sy ballingskap gesien het. Hierdie beeld staan voor die stadsaal in Rustenburg.

Op 16 Desember 1938 word die hoeksteen van die Voortrekkermonument in Pretoria ingewy. Die Voortrekkers het met die Eeufeesherdenking van die Groot Trek die hoeksteenlegging met ’n fakkelloop gevier. Op 30 November is die feesfakkel in Kaapstad aangesteek en die aand van 15 Desember is dit by die Monumentkoppie in Pretoria ontvang. Hierdie fakkel is brandend by die Universiteit van Pretoria veilig bewaar.

Op 16 Desember 1949 word die Voortrekkermonument, onder leiding van dr. DF Malan, ingewy. Ongeveer 250 000 feesgangers het die inwyding van die Voortrekkermonument bygewoon. Die totale boukoste van sowat £359 600, vandag R8 400 880, is deur die Suid-Afrikaanse regering bygedra. 3 000 Voortrekkers het op die Monumentkoppie gekamp en die 1938-fakkelvlam is vanaf die Universiteit van Pretoria na die Senotaafsaal in die Voortrekkermonument gebring.

Op 16 Desember 1988 word 12 kanonskote om 12:00 afgevuur. Dis die 150ste Geloftefees. Hierdie Geloftedagvieringe het reeds 10 Desember 1988 begin. Daar is konserte gehou: klassieke musiek, serenadekonsert, massakoor en -orkesitems. Gé Korsten het die Alabama Sanggroep aangekondig vir hulle optrede. Die groep kon egter nie hulle volle program doen nie aangesien organiseerders bang was dat dit te lank gaan wees vir toeskouers. Daar was selfs valskermspring en in die week is ’n boodskap deur die staatspresident, meneer P.W. Botha, gelewer. Dominee R. Schmidt lei die Geloftediens. Honderde duiwe is losgelaat vanaf die verhoog. Die sekretaresse van ACVV Clanwilliam skryf ’n groeteboodskap vir die groot herdenkingsfees: “Net soos die Trekkers van 1838, glo ons steeds dat tye positief verander en dat ons die genade gegun mag word om aanpassings te maak by die eise van vandag en môre.”

Op 16 Desember brand die fakkel hoog vir verskeie redes. Hierdie dag is in die geskiedenis van die Afrikaner ingeëts.

Waar herdenk jy Geloftedag? Laat weet ons hier https://vtm.org.za/ek-is-een-van-185000/