Afrikaners in Australië stig Afrikaanse kerk en vier vanjaar met trots saam die 185ste Geloftefees.

Die FAK het uitgereik na Geloftefeeste in die buiteland en deel graag die verhaal van Kerneels Olivier. Dis vir die FAK ’n riem onder die hart om te sien hoe internasionale Geloftefeeste steeds voortgaan en groei.

Van kindsbeen af het die Olivier-gesin (pa, ma en sewe kinders), Geloftedienste in Ermelo en omgewing bygewoon. Later jare het hulle dit in Pretoria voortgesit.

Kerneels Olivier en sy vrou Elna het gereeld die Kloof Geloftediens bygewoon. “Soms het ons die vorige aand al daar bymekaargekom en oorgeslaap, een of ander opvoering gehad, en dan die volgende oggend eers na die erediens en dan na ’n Gelofterede geluister. Ons het ons kinders baie patrioties grootgemaak, wat gereeld volksbyeenkomste bygewoon het. Ons was ook al ’n keer of wat by Bloedrivier; een keer juis met ’n Geloftedag. Dit was altyd vir my iets spesiaal!” sê Olivier.

Kerneels en sy gesin het min of meer 15 jaar terug na Brisbane, Australië, verhuis. Hulle het dadelik ’n Gereformeerde kerk gesoek en by die Christian Reformed Church in die suide van Brisbane aangesluit. Die geskiedenis van die kerk is opsigself besonders. Dit is ’n kerk wat deur die Nederlanders net na die Tweede Wêreldoorlog gestig is. Die Nederlanders kon nie ’n soortgelyke kerk aan hulle s’n vind nie en het besluit om hulle eie een te stig. Die kerk het egter later Engels geword, want die jonger geslag kon nie meer Nederlands verstaan nie.

Met dié dat Afrikaners na Australië verhuis het, het meer Afrikaners by die Christian Reformed Church in die suide van Brisbane aangesluit. Die kerk het besluit om as ’n proeflopie een keer ’n maand in die middag ’n Afrikaanse diens te hou. Dit het tot gevolg gehad dat daar later elke Sondagoggend ’n Afrikaanse en dan ’n Engelse diens gehou is. Olivier sê dat die gemeente op ’n stadium 85% Afrikaans was, asook albei leraars.

Daar het ongelukkig ’n klip in die pad verskyn. Een van die predikante het afgetree en die ander een het bedank. Dit was tyd om ’n nuwe predikant te beroep. Die kerkraad was eensgesind dat die nuwe predikant beide die Afrikaanse en Engelse gedeeltes van die gemeente moet kan bedien. Sommige gemeentelede was van mening dat die predikant die Australiese agtergrond moet verstaan. Die beroepingskomitee het toe besluit dat dit dan ’n Gereformeerde Afrikaanse predikant uit Australië moes wees.

Daar is nie baie van dié predikante in daardie deel van Australië nie. Die gemeente het die ideale persoon in sy laat 50’s beroep. Die persoon was egter nie deel van die Reformed Church-groep met sy 50+ gemeentes nie, maar van die Afrikaanse Evangeliese Gereformeerde groep. Nadat hy reeds beroep is, het die Ring sy kandidatuur afgekeur. Die kerkraad het met reg besluit dat die kerk dan eerder moet vermenigvuldig en twee aparte gemeentes vorm, een met Afrikaanse dienste en een met Engelse dienste.

In Februarie 2020 is die Brisbane Afrikaanse Kerk (BAK) onafhanklik van die Reformed Churches gestig. Aanvanklik oudpredikante van verskeie denominasies gebruik om die dienste te lei. ’n Maand later het Covid ingetree en moes die in-persoon dienste tydelik gestaak word. Later het die gemeente vir dieselfde predikant gevra om sy aanlyn dienste aan hulle beskikbaar te stel. “Ons het baie van sy dienste gehou en hom toe self beroep. So het die spreekwoordelike klip wat die bouers afgekeer het die fondament van ons kerk geword,” sê Olivier.

“Ons is baie gelukkig met ds. Gawie (Cloete). In die eerste plek bedien hy die gemeente met die suiwer Woord van God. Hy is ook baie musikaal en ’n mense-mens, wat nog gereeld huisbesoek doen. Van die ouens woon ver, maar hy volg hulle op of bel hulle met hul verjaardag.” Die gemeente is stelselmatig besig om te groei. “Ons het nou al meer as 220 lidmate; van hulle woon so ver as Adelaide en Emeralds en skakel Sondae aanlyn in. Daar is ook maandelikse uitreikdienste na Gladstone (550 km) en die Sunshine Coast (110 km), met ten minste die Gladstone-diens wat al oorweeg om ’n gemeente te stig,” sê Olivier verder.

Geloftedienste

Die Christian Reformed Church het nie Geloftedienste gehou nie. Olivier sê dat die groep Afrikaners wat hulleself as deel van die Gelofte beskou het na ander plekke gesoek het om Geloftefees te vier. Vir etlike jare, tot voor Covid, het die groep Geloftedienste by Runcon bygewoon. “’n Afrikaner was destyds die opsigter by ’n groot skool en kon vir ons die fasiliteite reël. Daar het hulle die ou tradisie van ’n erediens en Gelofterede gevolg, met na die tyd braai en boeresport. Daar was gewoonlik so 150 mense daar met heelwat jongmense,” sê Olivier.

BAK het besluit om ’n spesiale Geloftedag-erediens die Sondag die naaste aan Geloftedag te hou. Dominee Gawie Cloete is ’n Suidwester van Namibië. “Daar was die Geloftedae nie so algemeen in gebruik soos in Suid-Afrika nie. Hy moes toe maar gaan oplees. Verlede jaar het hy ’n skitterende diens met die gelofte so in een gehou.”

In een van BAK se vorige Geloftedienste het Chris Landman, sy oer-oupagrootjie, Karel Andreas Petrus Landman (vier geslagte terug) se Bybel daar gehad. Die Bybel is ’n besonderse Bybel wat by die Slag van Bloedrivier was. Grootoupa Karel Landman was een van die senior figure daar. “Die Bybel het heelwat aandag getrek en die dag vir my iets besonders gemaak. Selfs klein kindertjies het na die groot ou Bybel, nog in Hollands geskryf, gaan kyk,” deel Olivier sy ervaring. Chris Landman het ook vertel dat volgens oorlewering die oorspronklike Gelofte nog per hand voor in die Bybel geskryf was. Die Gelofte is ongelukkig gedurende 1988 by die groot 150-jarige feesvieringe uit die Bybel geskeur en nooit weer gevind nie.

Die Gelofte word vanjaar vir die 185ste keer herdenk. Die FAK wil graag in samewerking met die Voortrekkermonument 185 000 Afrikaners kry wat die Gelofte herbevestig. Selfs in die uithoeke van die wêreld. Die name van die persone wat die Gelofte herbevestig sal in ’n tydkapsule geplaas word en weer op die 200-jaar-viering van die Gelofte oopgemaak word.