Op 31 Mei het die gemeenskap van Orania by die historiese Doornbult-konsentrasiekampterrein byeengekom om Bittereinderdag te herdenk. Hierdie dag, wat ’n openbare vakansiedag in Orania is, gedenk die einde van die Tweede Vryheidsoorlog en die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902.
Die herdenking is afgeskop met Skriflesing en gebed deur ds. Willem Boshoff, waarna dr. Wynand Boshoff die geskiedkundige konteks van die oorlog en die gebeure wat tot die vredesluiting gelei het, in perspektief geplaas het. Hy het verwys na sleutelfigure soos generaals Christiaan de Wet en Koos de la Rey en gedeel hoe swaar die besluit vir vrede op die Boereleiers gerus het.
“In die onderhandelings het een van die offisiere opgestaan en gesê: ‘Ons het gesê ons sal veg tot die bitter einde’,” het Boshoff vertel, wat die atmosfeer van die tyd op ’n roerende wyse vasgevang het.
Die hoogtepunt van die dag was die oorhandiging van ’n ere-toekenning deur die FAK-kultuurnetwerk in die Noord-Kaap aan Rina Wiid. Wiid is die eienaar van die Doornbult-plaas en het haar lewe gewy aan die bewaring van hierdie belangrike geskiedkundige terrein. Sy het nie net ’n museum en gedenksteen op die terrein opgerig nie, maar ook deur deeglike navorsing daarin geslaag om die ware omvang van die lyding hier weer te gee.
Hoewel die Britse owerhede destyds 210 sterftes in die kamp aangeteken het, het Wiid met grafnommers en navorsing bewys dat daar waarskynlik sowat 1 300 sterftes was.
Volgens Cara Tomlinson, FAK-kultuurkoördineerder in die Noord-Kaap, is ’n besoek aan die Doornbult-konsentrasiekamp ’n ervaring wat ’n mens tot in jou diepste wese aangryp. “Die swaarkry en verlies wat mense hiér beleef het, is enorm. Dit het my net weer laat besef dat die prys vir vryheid duur is, baie duur. Is ons vandag bereid om te offer en te ly vir vryheid?”
Sy het verder verwys na Jan F.E. Celliers se gedig “Dis al” en gesê dat dit nou nuwe betekenis het: “Dis ’n graf in die gras, dis ’n vallende traan – dis al.”
Ná afloop van die formele program het die sowat 150 gaste die geleentheid gehad om die terrein te besigtig en verder insig te kry in die geskiedenis van die kamp. “Die dag was nie net ’n herdenking van ’n pynlike verlede nie, maar ook ’n oproep tot bewaring en volharding. Mag Bittereinderdag aanhou om ’n geleentheid te wees waar ons onthou, leer en eer. En mag die Here ons genadig wees dat ons nooit weer sulke bitter tye hoef te beleef nie,” het Tomlinson gesê.