deur Isabel Groesbeek
Tydens die Groot Trek was daar ’n aantal reisende skoolmeesters, soos Daniel Pfeffer by die Trichardt-trek, meesters Macdonald en Tielman Roos by die Potgieter-trek en eerwaarde Erasmus Smit (1778-1863), eggenoot van die suster van die Maritz-trekleier, Susanna Catharina Maritz (1799-1863), by die Maritz-trek.
Die pioniers in die binneland was van mening dat godsdiens en onderwys noodsaaklike aspekte is en nie verwaarloos moet word nie. Reeds in die tweede Voortrekkergrondwet van Oktober 1838 word in artikel 13 bepaal: “De Raad zal ook een wakend oog over den Godsdiens en Scholen moeten houden, en alles aanwenden tot bevordering derzelve.” Die vereistes was dat elke kind sy Bybel moet kon lees, uit sy geestelike liederebundels sing, eenvoudige korrespondensie voer: vyf dinge – lees, sing, skryf, syfer, godsdiens – het die grondslag en meestal ook die hele inhoud en inslag van die vroegste onderwys onder die trekkende en later gevestigde Boere gevorm.
Die verhuising van Hollanders na Transvaal is onder andere ’n gevolg van prof. Ulrich Gerard Lauts (1787-1865), Johan Arnold Smellekamp (1812-186) en ds. Dirk van der Hoff (1814-1881) wat hul beywer het om in die behoeftes van die Voortrekkers vir onderwysers en predikante te voorsien. In 1846 het Smellekamp hom tot prof. Lauts in Leiden, vroeër ook te Brussel, gewend na sy mislukte pogings om nog skepe, wel na Delagoabaai, met emigrante te stuur na sy eerste versending per handelskip, De Brazilië in 1842 en 1843 na Natal. Dit was bekend dat Lauts die probleme en wedervaringe van die Trekkers met groot belangstelling gevolg het en dat hy die saak van die Trekkers goedgesind was. Lauts het na sy besoeke ’n boek in 1847 uitgegee met die titel De Kaapsche Landverhuizers wat belangstelling uitgelok het. Die Nederlandse regering het, wat hierdie pogings aanbetref, heeltemal afsydig gestaan. Smellekamp het ook nie die reg gehad om namens die koning van Holland te handel nie. Smellekamp het intussen na Portugal vertrek en daar het hy hulp probeer verkry vir sy poging. Vanuit Lissabon, Portugal, het hy in ’n brief aan die Transvaalse Volksraad geskryf waarin hy van sy mislukte pogings vertel het. Ewe selfvoldaan het hy voortgegaan: “Ik heb my derhalve naar Portugal begeven, en uwe belangens aan dat Gouvernement voorgedragen, hetwelk de meeste belangstelling in uwe aangelegen heden aan de dag legt. Gij mijne waardige vrienden moogt dus met alIe reden verwachten mij binnen een half jaar na dato dezes by U.Ed. te zien terugkeeren, vergezeld van eene behoorlijk gevolmachtigde commissaris van Hare Majesteit de Koningin van Portugal, om eene behoorlijke overeenkomst met U.Ed. tot stand te brengen, dewelke zoowel op U.Ed. belangens als op die van Portugal gegrond zal zijn, terwyl ik gerugsteund door onze Hollandsche vrienden, alsdan alIe die ondersteuning en uitbreiding aan uwe handel en nyverheid zal kunnen geven dewelke dezelfe slechts behoeft, terwyl Hollandsche predikanten en schoolmeesters alsdan U.Ed. opgezonden worden, zooveel als er benoodigd.”
Deur die invloed van prof. Lauts is daar in 1847 weer ’n maatskappy opgerig. Hierdie maatskappy het in 1848 ’n skip, De Animo, na Delagoabaai gestuur. Smellekamp was weer die opperkoopman, maar dit was finansieel nie ’n sukses nie en geen onderwyser aan boord nie. In 1847 het die Kaapse Sinode ook meer betrokke geraak by die versorging van die emigrante en die Kaapse predikante, onder andere di. Andrew Murray jnr. en PK Albertyn, het daarna die inwoners jaarliks besoek. In 1850 is daar weer ’n nuwe maatskappy gestig en die skip Vasco da Gama is toegerus om na Delagoabaai te vertrek. Die skip het in Desember 1850 uit Nederland vertrek en op 29 Julie 1851 in Delagoabaai aangekom. Die jonger onderwysers Hendrik van der Linden en Jan Willem Landskroon Spruyt en die ouer en met meer lewenservaring Willem Poen was aan boord. Die onderwysers het eers in Lydenburg gebly om te wag vir die sitting van die Volksraad. Tydens die sitting te Lydenburg op 27 November 1851, is aanbevelingsbriewe van prof. Lauts en die Nederlandse Handelsmaatskappy voorgelê. Daar is versoek dat aan die emigrante vaste standplase op dorpe verskaf sou word om skole op te rig. Die Volksraad het nie tot ’n definitiewe besluit gekom nie en die saak is uitgestel, sodat eers vasgestel kon word of die mense begerig was om buite die distrik vaste skoolonderwys te verkry.
Volgens Ploeger was die aantal Nederlandse landverhuisers wat aan die begin van die vyftigerjare van die 19de eeu oorkant die Vaalrivier gegaan het, gering. Ploeger het omvattende navorsing oor die Nederlandse landverhuising in die 19de eeu oor die jare 1848 tot 1862 onderneem en sy bevindinge is in ’n aantal tydskrifte, ondere andere in FAMILIA, asook Historiese Studies gepubliseer. Navorsing is veral gebaseer op die aantekeninge deur prof. UG Lauts wat Nederlandse landverhuising na die jong Boererepublieke bepleit en probeer bevorder het en noukeurig aantekeninge in verband met vertrekkende Nederlandse skepe bygehou en onder meer korrespondensie met voornemende landverhuisers gevoer het. Vir die name van emigranten was Ploeger se vernaamste bron van inligting die amptelike lyste van vertrekkende Nederlanders in hierdie tydvak wat in die Algemeen Rijksarchief te Den Haag bewaar word.
Die landverhuising het grotendeels plaasgevind as gevolg van ongunstige ekonomiese faktore wat ’n redelike bestaan in Nederland onmoontlik of uiters moeilik gemaak het, terwyl andersyds in Nederland na aanleiding van versoeke van Suid-Afrikaanse kant ongeveer 1500 Nederlanders besluit het om na Suid-Afrika te gaan. Die landverhuising het van Nederlandse kant sonder owerheidsteun geskied. Sowel van Nederlandse as van Suid-Afrikaanse kant is bedrae ingesamel waardeur landverhuisers in staat gestel is om vir die verhuising te betaal.
In hierdie artikel word op die enkele Hollandse onderwysers gefokus, waarmee met hul aankoms ’n meer georganiseerde onderwysstelsel in die Transvaal ’n aanvang geneem het. Die onderwysers se genealogie word spesifiek belig en hulle word chronologies volgens geboortejaar bespreek.
Willem POEN (1811-1897)
Willem POEN is te Enkhuizen, Noord-Holland op 21.11.1811 as oudste seun van Hendrik POEN (1784-1846) & Dirkje KEMPEN (1789-1838) gebore en enkele dae later aldaar op 24.11.1811 gedoop. As oudste seun is Willem na sy oupa aan vaderskant vernoem. Hy dien as onderwyser te Wieringerwaard, Noord-Holland, waar hy kennis neem van die behoefte aan onderwysers in Transvaal. Poen se reisgeld per Vasco da Gama is deur die Amsterdamse kerkkommissie betaal. Hy arriveer in Julie 1851 as pionier-onderwyser saam met mede-emigrantonderwysers te Delagoabaai. Poen het, in afwagting vir ’n Volksraadsbesluit, intussen ’n persoonlike ooreenkoms met die Lydenburgse Kerkraad aangegaan en daar as onderwyser en voorleser by godsdiensoefeninge aangebly. Hy dien ook aanvanklik die geestelike belange van die gemeenskap deur katkisasieklasse en huisbesoek, weens die feit dat die nuwe gemeente te Lydenburg nog herderloos was. Transvaal het eers in 1853 sy eerste vaste predikant gekry. Poen is toe nie deur die Volksraad aangestel nie en die Kerkraad was vir sy salaris verantwoordelik. Poen het in die ontwikkeling van die Lydenburgse onderwys ’n belangrike rol gespeel. Dit blyk uit ’n uitgebreide positiewe verslag, wat in De Kerkbode van 30 April 1853 gepubliseer is, na ds. Andrew Murray jnr. van Bloemfontein en ds. Johannes Henoch Neethling van Prins Albert se besoek in Transvaal (o.a. Lydenburg,) asook deur die erenaam van ‘Meester’ wat deur die inwoners aan hom toegedien is. Weens misverstande en meningsverskille tussen Poen en ds. Petrus Arnoldus Coenradus Van Heyningen (1833-1904 en predikant te Lydenburg van 1859 tot 1866) het Poen in Julie 1864 die onderwys verlaat en met die instelling van ’n posdiens die posmeester te Lydenburg geword en ook as koster en notulehouer van die gemeente gedien en ook vir ’n periode as vendusie-afslaer diens gedoen.
Poen tree ongeveer 1854 in die huwelik met jongedogter, Hendrina Elsabe SPIES (* 3.08.1824 ≈ Swellendam 8.10.1824 (no.179)) d.v. Barend Jacobus SPIES en Hendrina Elsabe SWART van Duivenhoksrivier ten tye van doop. Doopgetuies: Hendrik Albertus SWART, Hendrina SWART, Jacobus Johannes SWART, Elisabeth Hermina SPIES, Anna Johanna Frederica SPIES.
Drie dogters, Hendrina Elsabe, Dirkje Wilhelmina en Susanna Maria Elizabeth is tussen 1855 en 1868 uit hul huwelik gebore met oudste en jongste wat met twee Franck-broers getrou het. Sy † Lydenburg op 15.10.1890. Sterfkennis deur veldkornet M.J. Schoeman onderteken. (TAB: MHG o/5816 (1890). Boedel van H.E. POEN née SPIES.)
Willem † Lydenburg 17.10.1897. Hy sterf as wewenaar en laat meerderjarige dogters en kleinkinders na wat in sy Testament vermeld word. Sterfkennis is te Lydenburg op 29.10.1897 deur oudste dogter, H.E. Franck née POEN, asook veldkornet M.J. Schoeman onderteken. Naam van oorledene se vader is foutiewelik as ‘Willem’ op Sterfkennis. (TAB: MHG o/13608 (1897). Boedel van W. POEN.)
Hendrik STIEMENS (1822-1894)
Hendrik STIEMENS is te Arnhem, Gelderland op 22.03.1822 as s.v. Hendrik STIEMENS en Cornelia VERMEER gebore. Sy eerste eggenote in moederland was Hendrika Johanna van der DUSSEN. Uit hul huwelik is vier kinders gebore met nageslag in Nederland. Hendrik tree weer te Voorbrug, Zuid-Holland, in Mei 1855 met Adriana (ook na verwys as Jeanne Marie) ZECHNER (1825-1917) d.v. Frits en Anna ZECHNER, in die huwelik. Die egpaar vertrek laat in 1856 uit die hawe van Den Helder (Nieuwediep) in Noord-Holland en arriveer per Prins Frederik op 22.04.1857 in Port Natal met hul babaseun, Frederik Caspar (Frits) STIEMENS (* 24.07.1856). Hendrik gee aanvanklik huisonderwys op verskeie plase in Natal.
Die onderwys in Pretoria het in die beginjare (1855-1859) nie bevoegde onderwysers gehad nie. Danksy die voortdurende pogings van landdros AF du Toit is Hendrik STIEMENS, as ’n opgeleide Hollander-onderwyser, in November 1859 as eerste staatsondersteunde onderwyser in Pretoria aangestel. Ploeger bestempel Stiemens se aanstelling as ’n mylpaal in die geskiedenis van onderwys en opvoeding in Pretoria. “Die nuwe onderwyser sou later sy land op velerlei wyse dien en die jeug van Pretoria ’n aantal jare met gunstige resultate dien en onderrig. Voor die koms van Stiemens het JHM Struben, ’n Hollander, ’n private skool gestig waar hy onderwys gegee het. Hier het Struben in ’n groot behoefte voorsien. Ongelukkig moes Struben sy werksaamhede staak omdat hy, vanweë sy lae inkomste, nie ’n bestaan kon maak nie. Stiemens se skool het op 1 November 1859 met 26 leerlinge in ’n hartbeeshuisie’n aanvang geneem. Die volgende jaar is ’n gebou bekom wat as skool gedien het. Hy het ter aanvulling van sy skrale salaris ook horlosies herstel, boeke gebind en testament opgestel om sy inkomste aan te vul.
Tydens die burgeronluste in die vroeë sestigerjare het Stiemens hom as ondersteuner met die partypolitiek van Stephanus Schoeman, tydens die Transvaalse Burgeroorlog, vereenselwig, waarna hy sy pos moes ontruim. Nadat rus en vrede herstel is, het Stiemens teruggekeer en sy werksaamhede hervat. Die plaaslike skoolkommissie het Stiemens weer benoem as goewermentsonderwyser. Sy benoeming is deur die regering bekragtig en die skool het op 4 Junie 1864 ’n aanvang geneem en ’n skoolgebou is ingerig. Hy word as sekretaris van die Transvaalse Volksraad in 1870 en daarna eerste Staatsklerk onder die Britse bestuur tot 1879 aangestel.
Uit Hendrik en tweede eggenote, Adriana (ook na verwys as Jeanne Marie) ZECHNER, se huwelik is, buiten hul oudste seun Frits wat in Nederland gebore is en plaaslik met Catharina Maria Anna BERGSMA, getroud is, die volgende kinders na emigrasie gebore: Adriana
(* 23.07.1858 ≈ Pietermaritzburg 26.12.1858 x Pretoria 11.08.1879 Francis/Francois Frederick ZEILER van Pretoria); Willem Johannes (x Rachel Jacoba SMIT dogter van genl. Nicolaas Jacobus SMIT); Anna (* 11.12.1862 ≈ NH Kerk Pretoria 25.12.1862 x Dirk TOM); Henriëtte
(x Jan DEBBES van Amsterdam, Noord-Holland) en Carolina Cornelia (x Robert Gerrit OCKERSE van Johannesburg).
Hy keer ongeveer 1879 met sy eggenote terug na Nederland en gaan tuis te Aalten, Gelderland, by sy oudste seun uit sy eerste huwelik. Hy kom egter op versoek van die driemanskap in 1882 terug en word eers sekretaris en daarna van 1888 tot 1891, waarnemende superintendent van onderwys.
Stiemens † Pretoria 25.11.1894 (TAB: MHG old/9474 (1894) en sy eggenote as Adriana STIEMENS née ZECHNER † Pretoria 1.11.1917 (TAB: MHG 33610 (1917). Boedel)
Jacob MIDDEL (1825-1912)
Jacob MIDDEL * Zaandam, Noord-Holland 15.07.1825 as s.v. Jacob Pieter MIDDEL & Elizabeth Gerrits HOUTZAGER. Sy voornaam is ook as ‘Jakob’ by die doop van sommige kinders gespel.
Stamvader van die MIDDEL-familie, ’n gekwalifiseerde veearts, arriveer 29.07.1851 aan boord van die Vasco da Gama te Delagoabaai. In 1853 word hy veldkornet van Lydenburg. Hy dien egter van 1859 tot 1864 as onderwyser en wy sy lewe aan die onderwys, terwyl hy ook boer. Gedurende die tydperk van onenigheid tussen die onderwyser Poen en predikant ds. Van Heyningen was Middel ’n groot steunpilaar vir die onderwys in Lydenburg. Middel was ook vir inskripsies en versiering op grafstene in die omgewing van Ohrigstad verantwoordelik.
Hy tree te Lydenburg op 3.11.1852 met Johanna Aletta Geertruyda SCHOEMAN
in die huwelik. Johanna is as d.v. Stefanus Johannes SCHOEMAN (1812-1865) & Isabella Elisabeth BEKKER (1815-1877) op 14.11.1834 gebore en te Uitenhage, Kaapkolonie, op 20.09.1835 (p.466) gedoop. Vier kinders, Isabella Elizabeth; Jacob; Stephanus Johannes en Elizabeth Johanna is uit dié huwelik gebore. Johanna † ‘Welgevonden’, dist. Lydenburg 9.05.1860 (25) en laat eggenoot en vier minderjariges, met jongste slegs nege maande, na.
Na die afsterwe van sy eerste eggenote tree Jacob weer ’n jaar later in die huwelik en volgens huwelikskontrak te NG Kerk Lydenburg op 4.05.1861 met Elizabeth Jacoba STOLTZ. Elf kinders is uit die tweede huwelik gebore: Anna Margaretha Elizabetta (1863-1943); Pieter Jacobus (1865-1942); Gabriel Gerrit Frederik (1867-1923); Johannes Cornelis (1869-1941); Coenraad Willem (1872-1937); Gabriel Coenraad Frederik (1873-?); Ockert Johannes (1875-1946); Hubert van der Stadt (1877-1901); Willem Pieter (1880-1948); Elizabeth Jacomina (1882-1971) en Hester Isabella Aletta (1884-1962).
Middel woon ook aantal jare te Biggarsberg, Natal. Met terugkeer na Transvaal dien hy in 1879 ook as posmeester. Middel vestig hom ongeveer 1871 op die plaas ‘Dalmanutha’, dist. Lydenburg, wat bekend is vir die groot slag tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy sterf op sy plaas op 8.10.1912. Sy Sterfkennis is te ‘Dalmanutha’ in Nov. 1912 deur sy tweede eggenote en weduwee EJ Middel née SCHOLTZ, onderteken. Hy word ook oorleef deur vyf meerderjarige dogters en agt meerderjarige seuns en hul gesinne. (TAB: MHG, 21390 (1912). Boedel van J. MIDDEL.)
Hendrik van der LINDEN (1825-1880)
Hendrik van der LINDEN * Haarlem, Zuid-Holland 28.07.1825 en volgens sy Sterfkennis die s.v. Hendricus Johannes van der LINDEN en Dina JANSEN. Hendrik kwalifiseer as onderwyser en gee in 1850 onderwys te Ter Aar, Nederland. Hy besluit op aanbeveling van prof. Lauts om na Transvaal te gaan en arriveer in Julie 1851 saam met mede-Hollandse onderwysers, Poen en Spruyt, per Vasco da Gama te Delagoabaai.
Tydens ’n uitgestelde Volksraadsitting te Rustenburg op 10 Maart 1852 is die aansoeke van Spruyt en Van der Linden in die vorm van ’n memorie ingedien. Daarin is versoek dat Spruyt in Rustenburg en Van der Linden in Potchefstroom as onderwysers geplaas moes word en die Volksraad het die versoek toegestaan. Gelyktydig met sy aansoek om plasing as onderwyser het Van der Linden ook ’n Onderwysreglement (samesteller onbekend) aan die Volksraad voorgelê. Op 15 Maart 1852 is dit deur die Volksraad aanvaar as die eerste wetlike reglement vir die onderwys in Transvaal
Hendrik het op 1 Julie 1852 op Potchefstroom aangekom, maar omdat die banke nog nie gereed was nie, kon hy eers op 19 Julie begin skoolhou. Aanvanklik het dit goed gegaan en die aantal leerlinge het gestyg tot 85. Spoedig egter het die gedagte dat ’n skoolopleiding van drie maande voldoende was weer begin kop uitsteek en verder het daar ’n maselepidemie uitgebreek wat veroorsaak het dat leerlingtal gedaal het. Omdat Van der Linden nie van owerheidsweë ’n salaris ontvang het nie, het hy van sy leerlinge skoolgeld gevorder en weens die daling van leerlinggetalle kon hy kwalik ‘n bes’aan voer. Met die koms van ds. Dirk van der Hoff in 1853 en sy bemoeienis met die onderwys het dit aanvanklik beter gegaan. Weens meningsverskille tussen ds. Van der Hoff en Van der Linden het hy egter in 1854 sy ontslag aangevra, met die gevolg dat Potchefstroom tot 1857 onderwyserloos was. Hendrik het toe van 1855 te Pietermaritzburg en van 1858 te Greytown onderwys gegee en wel in 1863 vir ’n kort periode na Potchefstroom teruggekeer. Hy dien in 1864 as Transvaalse staatsekretaris en in 1867 as tesourier-generaal van die ZAR. Van 1878 dien hy as skoolhoof te Middelburg, Transvaal. Een van sy bekende leerlinge is ds. Hermanus Stephanus Bosman (1848-1933), predikant van die NG Kerk. Op aanbeveling van Van der Linden is Bosman deur ds. Andrew Murray jnr., toe van Worcester Gemeente, tydens sy besoek aan Potchefstroom in 1862, genooi om in die Kaap as Evangeliebedienaar, met steun uit die Murrayfonds, opgelei te word (SABW, 1, p.107).
Hendrik x Potchefstroom 5.01.1853 (no.404, p.29) met Aletta Sophia STRYDOM (1833-1902),
d.v. Voortrekker Pieter Frederik STRYDOM (1800-1887) van Suikerbosrand en Cornelia Maria LINDEQUE (1802-1886).
Vyf kinders, Hendrika Sophia Fobia (1853; klein oorlede); Hendricus Johannes (1855-1891); Dina (1857-1888 x James RUSSELL); Paulus Johannes (1858; jonk oorlede) en Aletta Sophia Magdalena (1869-1952) is uit die Van der Linden-huwelik gebore.
Hendrik sterf op 54-jarige ouderdom te Middelburg op 18.06.1880. Sy Sterfkennis is te Middelburg op 21.6.1880 deur sy langslewende eggenote, AS van der Linden, asook die betrokke veldkornet onderteken. Hy word oorleef deur sy eggenote, twee meerderjarige kinders en een minderjarige dogter (TAB: MHG old/1563 (1880). Sterfkennis van H. van der LINDEN.)
Sy weduwee tree na sy afsterwe op 10.9. 1883 in die huwelik met Willem Lodewyk PRETORIUS. Haar tweede eggenoot sterf in dist. Heidelberg op 25.05.1891 en sy tree vir die derde keer in die huwelik en wel te Heidelberg op 30.01.1894 met wewenaar Stephanus Johannes van WYK (1838-1913). Aletta Sophia † Heidelberg 14.10.1902. Haar Sterfkennis te Heidelberg op 16.10.1902 deur skoonseun, JW Badenhorst, onderteken. (TAB: MHG old/1260 (1902). Boedel van A.S. van WYK voorheen Van der LINDEN née STRYDOM.)
Jan Willem Landskroon SPRUYT (1826-1908)
Jan Willem Landskroon SPRUIJT/SPRUYT * Scherpenzeel, Gelderland Julie 1826
s.v. Jacobus SPRUIJT (1796-1839) en Antje LANDSKROON.
Studeer aanvanklik regte te Leiden, maar dien as onderwyser in Oosterwolde, waar hy as onderwyser na Transvaal gewerf is. Spruyt arriveer ook per Vasco da Gama in Julie 1851 te Delagoabaai en reis saam Hendrik van der Linden en Willem Poen per ossewa na die Transvaal. In Maart 1852 is Spruyt in Rustenburg as onderwyser aangestel, alhoewel dit lank geneem het om ’n bevredigende ooreenkoms te bereik.
Spruyt het eers op 4 April 1853 ’n ooreenkoms met die Rustenburgse Kerkraad aangegaan. Weens onenighede onder die Nederlanders in Transvaal, spesifiek tussen ds. Dirk van der Hoff en Smellekamp, het Spruyt na die Oranje-Vrystaat verhuis waar hy homself in Bloemfontein gevestig het. Hy word as 30-jarige jongman te Bloemfontein op 31.12.1856 met 20-jarige jongedogter, Elizabeth Emma HANGER (1826-1917), deur ds. Andrew Murray Jnr. in die huwelik bevestig (no.317). Sy is d.v. Edward Henry HANGER en Eliza WEBBER van Engelse afkoms. Hy dien sedert 1856 as staatsekretaris van die Oranje-Vrystaat, asook sedert 1866 in die Zuid-Afrikaansche Republiek en ook as regsagent.
Elf kinders is tussen 1857 en 1880 uit die huwelik gebore en al die kinders het die familienaam ‘Landskroon’ as ’n derde voornaam: Emma Eliza L. (* 1857, klein oorlede); Willem Edward L. (1859-1940 x Christina Johanna JORDAAN); Gerard Frederik L. (* 1862, klein oorlede); Victor Andries L. (1863-1866); Bertha Emily L. (1864-1866); Henrietta Francisca L. (* 1866
† Amsterdam, Nederland 1937); George Lennert L. (* 1868-?); Rudolf Cornelis L. (* 1871, klein oorlede); Carolina Alicia L. (1873-1944 x Johannesburg 10.07.1899 Richard Ross Hector MUNRO; Elizabeth Jeanette L. (1876-1916). Hy woon voor sy afsterwe te Troyeville, Johannesburg. Hy sterf egter sonder ’n testament, tydens ’n besoek aan Natal, te Durban, Natal op 8.09.1908 (NAB: MSCE 33/240 (1908). Sy weduwee is te Pretoria in 1920 op 83-jarige leeftyd oorlede.
Is jy dalk ’n nasaat van een van die pionieronderwysers? Rig gerus genealogienavraag aan skrywer via www.genealogielessenaar.com of isabel@kultuurtuiste.org.za
Lees meer oor vroeë onderwys in Transvaal, asook oor agtergrond van pionieronderwysers in die vermelde bronne.
BIBLIOGRAFIE
Literatuur
BOT A.K. 1925. Honderd jaar onderwys in Transvaal, 1836-1936. Pretoria.
CILLIERS, B. 1985. Genealogieë van die Afrikanerfamilies in Natal. Pietermaritzburg.
COETZEE J. Chr. 1941. Onderwys in Transvaal, 1838-1937. Pretoria, J.L. van Schaik.
De KOCK W.J. (red.) 1976. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, Deel I. Kaapstad, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). (Biografie van Hermanus Stephanus Bosman, pp.107-108; biografie van Ulrich Gerard Lauts, pp.4 88-489; biografie van Johan Arnold Smellekamp, pp.759-760; biografie van Hendrik Stiemens, pp.807-808.
De KOCK W.J. & D.W. KRÜGER (reds.). Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek,
Deel II. Kaapstad, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). (Biografie van Willem Poen, pp.566-567); biografie van Jan Willem Landskroon Spruyt/Spruijt, p.720).
LABUSCHAGNE Renier Johannes. 1977. Die rol van die Hollander-onderwyser in die Transvaalse Skoolwese tot 1905. M-verhandeling, PU vir CHO, Potchefstroom.
KRÜGER D.W. & C.J. BEYERS (reds.). 1977. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek,
Deel III. Kaapstad, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). (Biografie van Jacob Middel, pp. 625-626; biografie van Hendrik van der Linden, pp.821-822.)
LUGTENBURG A.H. 1925. Geskiedenis van die Onderwys in die S.A. Republiek (1836-1900): Bydrae tot die kennis van onderwystoestande in die Transvaalse, 1836-1900. Pretoria, J.L. van Schaik.
Lydenburgse Eeufeesgedenkboek. 1950. Munisipaliteit van Lydenburg.
PLOEGER, J. 1965/65. Nederlandse landverhuisers na Suid-Afrika 1859-1861. In: FAMILIA: Kwartaalblad van die GGSA, 1, pp. 88-93.
PLOEGER Jan. 1985/1986. Nederlandse landverhuising na Suid-Afrika, 1849-1862.
In: Supplementa ad FAMILIA: Kwartaalblad van die GGSA, II & III Volume 22:3 & 23:1.
PLOEGER Jan met medewerking van Jan J. van Schaik, Otto Kraamwinkel, Jan Kromhout. 1994. Nederlanders in Transvaal, 1850-1950. Pretoria, J.L. van Schaik.
PLOEGER Jan. “Oude tijden in Natal en Transvaal’ IN: Africana Aantekeninge en Nuus, Des. 1951 Deel IX, No. 1, p.24. Navorsersnota: Onder hierdie titel het in twee agtereenvolgende aflewerings van die Nederlandse letterkundige tydskrif De Gids (1934) bydraes deur Hendrik Stiemens verskyn.
SMELLEKANP J.A. Brief aan die Volksraad, Lissabon, 1846-09-09. In: Transvaalse Volksraadsnotules 21/46).
Argivalia (via www.familysearch.org)
Boedels: Transvaal (TAB: MHG), Transvaalse Argiefbewaarplek, Nasionale Argief, Pretoria.
Estate files: Natal (NAB: MSCE), Natal Archives Depot, Pietermaritzburg.
Nederduitse Gereformeerde Kerk Bloemfontein huweliksregister.
Nederduitse Gereformeerde Kerk Kaapkolonie doop- en huweliksregisters.
GENEALOGIE SIMBOLE EN AFKORTINGS
* gebore
≈ gedoop
x getroud
† oorlede
d.v. dogter van
MHG Meester van die Hooggeregshof
MSCE Master of the Supreme Court Estates
NAB Natalse Argiefbewaarplek
s.v. seun van
TAB Transvaalse Argiefbewaarplek