Mediaverklaring

15 Januarie 2024

Die Heldeakker-Samewerkingsinisiatief gaan in 2024 van krag tot krag groei.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), tesame met 17 ander instellings en organisasies, het reeds die afgelope naweek hul eerste opedag van die jaar gehad.

Dié samewerking is in Julie 2023 bewerkstellig nadat Quentin Meyer, die voorsitter van die FAK-Noord-van-die-Berg-Kultuurnetwerk, in Junie deur die Tshwane-metroraad as die opsigter van die Heldeakker aanvaar is. Dié aansoek is deur Meyer reeds twee jaar vantevore ingedien as deel van die metroraad se “Adopt-a-Spot”-inisiatief, waar lede van die publiek eienaarskap kan neem oor ’n bepaalde area en dan daarvoor verantwoordelik is.

“Vir baie jare lank was die Heldeakker geplunder, vernietig en onversorgd. Ons erfenis was in groot gedrang. Die FAK het ’n roepstem uitgestuur waarna agttien instansies geantwoord het om die Heldeakker na sy vorige glorie te herstel en te bewaar.”

Só sê Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike streke van Suid-Afrika.

Tesame met instellings soos die Krugergenootskap, die Voortrekkermonument, die Erfenisstigting, AfriForum, die FAK Jeug, CVO Skool Pretoria, Laerskool Pierneef, die Rapportryerbeweging en die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA), om maar net ’n paar te noem, is die Heldeakker in veilige bewaring.

Oor die afgelope ses maande is maandeliks skoonmaakaksies gereël om die oorlog teen onkruid te oorwin, is planne in plek gesit vir begeleide toere en is die muur wat verlede jaar in Januarie omgery is, uiteindelik reggemaak. Dit is ’n oorwinning vir Afrikanererfenis.

In die pyplyn is planne vir verdere vernuwing en verfraaiing. ’n Aansoek gaan ingedien word by die Suid-Afrikaanse Erfenisraad (SAER) om permitte te bekom sodat die grafte, sowel as die kerkie op die terrein, gerestoureer kan word. Die kerkie word in ’n museum omskep. Daar word ook ’n QR-kode-projek van stapel gestuur wat vir besoekers meer inligting sal gee van die persone wat daar begrawe is.

“Mens kan net dankie sê vir die gemeenskap se ingrype. Dit is eietydse helde wat hulself diensbaar stel ter wille van ons Afrikanererfenis en nalatenskap,” gaan Rademeyer voort.

Hierdie instansies skep hoop vir die toekoms van Afrikanererfenis.

Die publiek kan ook betrokke raak by hierdie projek.

Op die eerste Saterdag van elke maand is die Heldeakker oop vir die publiek om te besoek. Op hierdie dag kom die kultuurnetwerk en instansies bymekaar om verdere werk en opgraderings te doen.

Die FAK nooi ook ander organisasies en instellings uit om deel te word van die Heldeakker-Samewerkingsinisiatief en ’n aandeel te hê in die skryf van hierdie hoofstuk in die geskiedenis.

Kontak gerus vir Charles Rademeyer om betrokke te raak: charles@kultuurtuiste.org.za.