Huntington Hall, ’n herehuis van diepgaande historiese betekenis in die dorpie Sabie, is gisteraand tragies in ’n brand verwoes. Die oorsaak van die brand is steeds onbekend, maar vroeë berigte dui daarop dat die brand beide die hoofhuis en ’n aangrensende buitegebou verswelg het.

Huntington Hall was meer as net ’n struktuur; dit was ’n simbool van die ryk geskiedenis wat die dorpie Sabie gevorm het. Die herehuis, wat oorspronklik in die laat 1900’s gebou is, het eens gedien as die woning van HT Glynn, die stigter van Sabie en ’n deurslaggewende figuur in die streek se ontwikkeling. Glynn, saam met JC Ingle, het goud in die gebied ontdek, wat gelei het tot die stigting van die Glynns-Lydenburg Gold Mining Company. Die dorpie Sabie self is rondom hierdie mynonderneming gevestig, met Huntington Hall wat ’n bewys van die era se voorspoed en groei was.

In onlangse jare het Huntington Hall verval in ’n toestand van verval. Ten spyte van pogings deur erfenisbelangegroepe om die huis te red, kon geen geskikte koper gevind word om hierdie landmerk te restoureer en te bewaar nie. Die huis het ook ’n spilpunt vir kriminele aktiwiteite geword, wat sy agteruitgang verder vererger het.

Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK, het met ’n besorgde inwoner, Reenen Roets, gesels wat gesê het: “In die afgelope 3-4 jaar was hierdie huis se agteruitgang verskriklik. Daar was baie bendes, kriminele groepe, en sindikate wat in hierdie huis gebly het en ook diefstal vanaf die huis gedryf het. Die hele gemeenskap was bewus van hierdie kriminele aktiwiteite, terwyl hulle ook geweet het dat hierdie huis ’n erfenisterrein is en niemand het aandag gegee nie. Hier is ook nie ’n brandweer op die dorp nie, maar gelukkig het plaaslike boere ingespring en kom help om die brand te blus. Die brand was ongelukkig te groot vir die hoeveelheid mense en toerusting wat beskikbaar was.”

“Die kultuurnetwerk in die Noordelike streek het die afgelope week deur Balmoral, Belfast, Dullstroom, Lydenburg, Pelgrimsrus, Graskop en toe na Sabie getoer om ondersoek in te stel oor die toestand van erfenis in hierdie areas, toe ons die tragiese nuus hoor dat hierdie huis afgebrand het. Hierdie voorval is net weer ’n bewys van waarom gemeenskappe saam die FAK hande moet vat om enige toekomstige voorvalle soos hierdie een te voorkom,” sê Rademeyer.

Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, het sy hartseer oor die verlies uitgespreek en gesê: “Die tragedie van so ’n voorval is dat mens nie noodwendig iets daaraan kan doen of die skade kan herstel nie. Voor die FAK dit kan oorweeg om hierdie gebou te help herstel, gaan ons dus eers moet vasstel of die huis enigsins gerestoureer kan word. Sou mens die huis graag wou herstel, moet mens ook oorweeg waarvoor dit in die toekoms gebruik gaan word. Hartseer soos dit is, kan dit gebeur dat die huis herstel word en dan net verlate bly as die plaaslike munisipaliteit nie hul kant bring om te verseker dat die huis beskerm bly nie.”

“Ongelukkig is daar só baie erfenisbakens wat hulp nodig het en is daar ook net soveel hulpbronne beskikbaar om iets te kan doen. Dit is waarom dit só belangrik is om die plaaslike gemeenskappe se inkoop te kry om te help om bakens te beskerm, voordat dit hierdie punt bereik. Die FAK se kultuurnetwerke werk daagliks aan hierdie kleiner tipe opknappings- en beskermingsprojekte juis om te verseker dat daar deurlopend omgesien word na ons erfenisbakens, so om ’n enorme taak soos hierdie aan te pak, gaan baie verg,” meen Müller.

Die verlies van Huntington Hall dien as ’n skerp herinnering aan die behoefte aan proaktiewe maatreëls om die historiese landmerke wat ons met ons verlede verbind, te beskerm en te bewaar. Die toekoms van die terrein bly onseker, maar die historiese betekenis daarvan sal nie vergeet word nie.