Sedert hy in 2022 sy buiging in die plaaslike vermaakbedryf gemaak het, sien die sanger, liedjieskrywer en akteur, Ilán van Staden, se bewonderaars al uit na sy eerste vollengte album.
Nou, na meer as ’n jaar se harde werk en beplanning, is die wag uiteindelik verby, want MY MENSE is pas vrygestel en beloof om musiekliefhebbers se grootste verwagtinge te oortref.
Dié twaalfsnitalbum bestaan uit ’n kombinasie van goedvoel- en country-musiek wat sorgvuldig uitgesoek is om almal wat daarna luister, tuis en gemaklik te laat voel.
“Hierdie album bestaan uit stukke. Stukke van my, stukke van al die kosbare mense na aan my en ’n stuk van ’n groot droom wat uiteindelik waar geword het,” deel Van Staden.
Verskeie gesoute vervaardigers, waaronder Dirk van Niekerk, Robin Kylie en Arnold de Wet, en liedjieskrywers soos Johan Vorster, Jacomien de Wet, Arnold de Wet en Ilán self, het saamgewerk om ’n volmaakte eindproduk te skep waarop die kunstenaar besonders trots is.
“Die meeste van die liedjies is in ’n kreatiewe span-opset geskryf op verskillende plekke, van Johan se TV-kamer en Jacomien se eetkamertafel tot in Namibië se Hentiesbaai,” verklap hy oor sy ervaring agter die skerms. “Dis ’n smeltpot van goeie herinneringe, drome, gedagtes en ervarings wat vasgevang is op papier. Ek was heeltemal verstom oor die proses en dit was wonderlik om te sien hoe elke lied lewe kry in die ateljee. Dit was ’n baie opwindende tyd en ek sien uit om aan te hou groei en leer.”
Hoewel dit vir hom moeilik is om ’n gunstelingtreffer te kies, erken hy dat “SMK”, “Wannelaas” en “My Mense” hom na aan die hart lê en daarom is hulle ook die eerste drie snitte wat jy hoor wanneer jy eers begin luister.
’n Paar spesiale vertonings word beplan om die album amptelik aan die publiek bekend te stel en meer inligting hieroor sal op sy sosialemediaplatforms gedeel word.
Ilán het in 2022 vir homself naam gemaak as deel van die suksesvolle teaterproduksie, Die Gelofte: ’n Musiekblyspel, waarna hy in 2023 een van die hoofrolle in nog ’n musiekblyspel, Die Kaplyn, vertolk het en ’n platekontrak losgeslaan het by Inhoud Huis Musiek.
Hy het reeds vier suksesvolle enkelsnitte, waarvan “Ontlaai”, die temalied is van die kykNET-program Safari Roetes, en ’n duet met Bernice West uitgereik wat almal deel uitmaak van sy nuwe vrystelling.
Vandat hy kan onthou, wou dié 26-jarige Pretorianer nog altyd musiek maak. Hy het as tiener begin musiek skryf en saam met sy skoolorkes opgetree. Verder was hy ook dromspeler en medekomponis van verskeie Sêr-groepe op universiteit – hy het sy meestersgraad in omgewings- en biologiese wetenskappe aan Noordwes-Universiteit behaal in 2019 – terwyl hy op elke geleentheid wat hy kon kry saam met musiekgroepe opgetree het in Potchefstroom.
Sedertdien werk hy hard daaraan om sy musiekvaardighede op te skerp en die beste te maak van elke geleentheid wat hy kry en daarom het hy ook aan die derde seisoen van The Voice SA deelgeneem.
Wanneer hy nie op die verhoog is nie, bestuur hy sy eie musiekskool Ilán’s Music Academy (IMA) in Muldersdrif, wat vanjaar reeds vyf jaar bestaan en sang-, drom-, en kitaarlesse aanbied vir enigiemand bo die ouderdom van vyf.
MY MENSE is ’n lekkerluister-album wat sal aanklank vind by enigiemand met ’n liefde en passie vir Afrikaanse musiek en is ’n opwindende nuwe hoofstuk in hierdie begaafde musikant se baie belowende loopbaan.
Dit is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://IlanvanStaden.lnk.to/MyMense