Mediaverklaring

22 September 2023

Vanjaar merk 58 jaar sedert die geliefde digteres Ingrid Jonker die see ingestap het by Drieankerbaai in die Kaap. Op 19 September 2023, 90 jaar na Jonker se geboortedag, het die FAK haar vereer met ’n grafbesoek en op 16 September is ’n gedenklesing gehou om haar lewe en werk in die bevordering van Afrikaanse digkuns te vier.

Jonker was ’n geliefde digteres wat mense vandag nog steeds inspireer. Die FAK se gedenklesing, in samewerking met die Suid-Afrikaanse sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) van Jonker op die 16de September, het hierdie stelling bevestig toe van die bywoners Jonker huldig met hul kleredrag. Jeanette Reilly het die geleentheid bygewoon in ’n romp wat sy self gemaak het met verse uit Jonker se gedigte daarop geverf. Sy het ook die tipiese Sestigershoedjie en baadjie gedra waaraan Jonker gekenmerk was. Margarita Celeste, kleindogter van Ingrid Jonker, het haar ouma gehuldig deur haar uitrusting, wat van kop tot tone, die hangertjie ingesluit, klere was wat aan haar ouma Ingrid behoort het.

Die FAK wil met geleenthede soos hierdie mense met ’n liefde vir die Afrikaanse kultuur en taal saambring om ons erfenis te vier. “Ek het hierdie geleentheid bygewoon om tyd te spandeer saam met mense wat soos ek ’n liefde vir die digkuns van Ingrid Jonker het en lief is vir Afrikaans en ons kultuur,” sê Reilly.

Emeritusprofessor Dorothea van Zyl het die gehoor geboei met haar gedenklesing oor die kort lewe van Ingrid Jonker, die mense in haar lewe en hoe hulle haar lewe beïnvloed het. Amory Smith, 2021 se wenner in die poësie-afdeling van die FAK se Internasionale Afrikaans-Ekspo, het drie Ingrid Jonker-gedigte voorgelees.

“Dit is vir my ’n voorreg om Ingrid Jonker se gedigte by hierdie geleentheid te kan voorlees. My eie digkuns word ook deur Jonker geïnspireer,” sê Smith.

Op 19 September 2023 het ’n groep van die FAK en familie van Jonker by Jonker se graf in Maitland-begraafplaas bymekaargekom. Jonker se graf is opgehelder met geel, oranje, groen, pienk en wit blomme.

Die FAK is dankbaar vir elkeen wat deelgeneem het om Jonker se lewe te herdenk. Dit maak Jonker se grafwoorde, uit haar gedig “Korreltjie sand”, “Niks is my dood” byna segloos. “Haar dood het skokgolwe gestuur deur die Afrikaanse literêre beweging van die Sestigers,” sê Van Zyl.

Solank daar organisasies soos die FAK is wat onthou, sal baanbrekers soos Ingrid Jonker steeds onthou word en steeds talentvolle jongmense inspireer.

Ondersteun die FAK en sluit vandag aan as ’n vriend om deel te wees van ons ryk kulturele erfenis en ’n verskil te maak.