“Woorde is almal s’n, nie net myne nie … al wat myne is, is my sinne; in sinne is alle woorde myne waar ek my in kan verdiep …” So skryf prof. Jaap Steyn in sy debuutbundel (en ook sy enigste poësiebundel), Die grammatika van liefhê.
Dié onsterflike woorde van Steyn verwoord die wese van taal – ’n taal, ’n moedertaal is iets wat deur baie gedeel word en daarom het die FAK in die Noord-Kaap besluit om vanjaar, in die jaar wat die nasionale Afrikaans100-fees gevier word, ’n insiggewende simposium aan te bied om Afrikaans se Komvandaan én haar “Quo Vadis”, haar toekoms, te bespreek.
Die FAK-Noord-Kaap-kultuurnetwerke in samewerking met die Vryheidstigting het die Jaap Steyn-simposium op Saterdag 10 Mei aangebied met die tema “Orania én Afrikaans amptelik100.”
Lees hier meer Steyn se lewe en werk.
“Die Jaap Steyn-simposium was ’n gespreksgeleentheid oor Afrikaans se herkoms en ons wortels in die verre verlede, die amptelik wording van Afrikaans, die standaardisering van ’n taal en die tekens van die vierde taalbeweging wat reeds sigbaar is,” vertel Cara Tomlinson, FAK-kultuurkoördineerder in die Noord-Kaap.
“Dit is wonderlik dat Afrikaans en die toekoms van ons taal weer vanjaar op almal se lippe is. Mag ons die insigte van hierdie dag ook weer verder deel en gesprekke in hierdie verband stimuleer om ons pragtige taal te laat voortleef.”
Gedurende die geleentheid het dr. Burgert Senekal verwys na ons Afrikaners se oorspronge en herkoms in die verre verlede. Hy verduidelik in sy toespraak waar Afrikaans vandaan kom en verwys dan na ons Germaanse/Europese wortels. Hy verduidelik meer oor gebruike en tradisies wat ons geërf het by die Grieke en Romeine, soos die indeling van ons kalender en benaming van ons weke/maande. Hy trek ook verskeie verbande vanaf die verlede en hoe ons vandag steeds leef en gebruike het wat steeds gevestig is in ons alledaagse lewens.
Dr. Carel Boshoff (voorsitter van die FAK-direksie) praat oor Afrikaans se amptelike status en die taalnasionalisme waarop dit gebou is. Hy verduidelik dat Jaap Steyn ’n taalkundige en taalsosioloog was wat ook sy boekery aan Orania geskenk het. Sy boeke Tuiste in eie taal en Ons gaan ’n taal maak was die rede en die motief vir die benaming vir die simposium. Hy verwys na die taalbewegings en die stryd wat daar was om Afrikaans ’n amptelike status te gee. ’n Taal moet verskeie funksies soos spel- en skryfreëls, woordeskat, ensovoorts hê voordat die taal gestandaardiseer kan word. Afrikaans het in 1925 begin vorm aanneem, en die vraag wat in daardie tyd ontstaan het, was: waarmee gaan ons Engels tegemoet? Dan word daar besluit dat ons dieselfde taal moet kan skryf as wat ons praat en dan begin Afrikaans momentum kry. Jy ontmagtig jouself as jy in ’n ander taal moet handel. Taal is die middel tot die doel.
Dr. Wynand Boshoff gesels oor eenheid, veelheid en die taalstandaardisering van Afrikaans. Hy verwys na die maniere hoe tale ontwikkel en dan ook standaardiseer; drie historiese vorms (Oosgrens- (blanke nedersetters van Europa), Kaaps- (dan kom hulle in kontak met Kapenaars) en Oranjerivier-Afrikaans (Transvaal)). Kaaps het ’n sterk invloed van Maleis, Engels en die inheemse volkere. S.J. du Toit is dan die een wat sê ons moet ’n norm kry sodat ons nie geheel van mekaar verwyder nie. Dan ontwikkel die taal wat almal kan verstaan, nie ’n dialek nie, ’n taal, ons gebruik die “dialek” wat die meeste mag het en skryf en standaardiseer hierdie taal.
Dr. Wikus Buys verwys na die vierde Afrikaanse taalbeweging en die tekens wat reeds daarvan sigbaar is. Hy lig die kenmerke van ’n taalbeweging uit, naamlik bewusmaking, stryd en handhawing van ons taal. Die Eerste taalbeweging (1877 tot 1899) sê skryf soos jy praat. Die Tweede taalbeweging is in twee fases verdeel: fase 1 (1905 tot 1925) en fase 2 (1925 tot 1966). Derde taalbeweging word ook in twee fases verdeel, naamlik 1966 tot 2005 en 2006 tot 2024.
Ons moet nou oorgaan in die Vierde taalbeweging. Neem nou die besluit om geweld te vermy. Ons kort nuwe woorde, nuwe oorde, geopolitieke mobiliteit, taal en grond. Dus herken, erken, beken en verken.
Eie aan ons Afrikanerkultuur was daar ook geleentheid vir kuier oor ietsie te ete en te drinke. Daar was geleentheid om gedagtes te wissel oor die toekoms van ons taal. Die geleentheid was insiggewend en baie leersaam. Dit is goed om gesprekke te voer oor die toekoms, dit is goed om te praat oor bou en die uitbou van ons taal en volk.
Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, sê hierdie inisiatief van die FAK en die Vryheidstigting is ’n belangrike oproep om ons moedertaal die toekoms in te dra en hy hoop dat daar nog vele van hierdie funksies in die toekoms aangebied kan word.
“Die Jaap Steyn-simposium was nie net ’n insiggewende praatjie oor die Afrikaanse taal nie, maar het opnuut vir ons as sprekers van die taal die opdrag daargestel om Afrikaans te koester en die toekoms in te dra,” sê Van Huyssteen.
“Die FAK is al jare besig om dié opdrag getrou uit te voer en veral vanjaar wanneer ons saam Afrikaans 100 vier, wil ek oud en jonk aanmoedig om ons taal, kultuur en geskiedenis in ons eie hande te neem en dit die toekoms in te dra.
Die FAK het werklik baie geleenthede vir Jan Alleman om sélf die fakkel van bewaring op te neem en ’n vlam van hoop die toekoms in te stuur.”
Word vandag ’n vriend van die FAK en bou saam aan die toekoms!