In ’n gehoor van meer as 50 mense sit ’n klein laerskoolseun en dirigeer geesdriftig saam met Jaco van Staden, dirigent van die FAK se jeugsimfonieorkes (JSO) asof hy sélf die baton in die hand het. Musiek straal uit sy glimlag soos hy hom vergaap aan die klanke van die jong FAK-musikante …

Dít is die gesig wat hom afgespeel het toe die JSO op 25 April saam met Ovie-Vibz hul eerste werksessie in orkesmusiek aangebied het om musiekliefhebbers van reg oor Pretoria meer te leer oor die kuns van orkesmusiek.

Met die eerste note van Eine Kleine Nichtmusik, ‘n prettige vertolking deur Peter Schickele van Mozart se Eine Kleine Nachtmusik, twee dele uit Bartók se Romeense Volksdanse, dele uit Tchaikovsky se Dans van die Suikerfeetjie, Bizet se triomfantlike mars uit L’Arlessiene no. 2, Mozart se Sleigh Ride en Johann Strauss II se Pizzicato Polka, wat uit die saal van Hoërskool Overkruin gestroom het, was dit reeds duidelik dat besoekers groot opwinding te wagte kon wees met dié unieke werksessie.

Van Staden, een van Suid-Afrika se topdirigente, het die JSO begelei met ’n interaktiewe werksessie, waartydens kort beskrywings van die instrumente én hul doel in die orkes aan die gehoor verduidelik is.

Die gehoor, wat bestaan het uit gesoute musikante, aspirantmusici en “nootnuuskieriges” het die rare geleentheid gekry om ’n simfonieorkes van naby te ervaar. Om insig en kennis van ’n wêreldklas dirigent te ontvang, het ’n praktiese leerervaring gebied en die gehoor se musikale kennis werklik verryk.

Die FAK se nasionale hoof: taal, kuns en musiek, Sallas de Jager, sê hy is baie opgewonde dat die JSO die geleentheid gekry het om saam met topmusikante van Ovie-Vibz hul talent en kennis met Jan Alleman te kon deel.

“Dit is van kardinale belang dat nie net beginnermusikante nie, maar ook musiekliefhebbers die geleentheid kry om soveel as moontlik aan die ervaring asook ontleding van klassieke orkeste blootgestel word,” sê De Jager.

“Simfonieorkeste bly steeds die fondasie van alle moderne musiek. In die digitale era het dit belangriker as ooit geword om nie net as skeppers van musiek nie, maar ook as luisteraars, die kernbeginsels van instrumentale musiek te ervaar en beleef sodat elkeen hul eie luisterervaring van musiek in die algemeen kan verbreed.”

Volgens De Jager was hierdie geleentheid ’n groot mylpaal vir die FAK en hy is baie dankbaar teenoor Van Staden en die jong musikante van die JSO vir die uitsonderlike wyse waarop hulle die musiek aangebied het.

“Dit was werklik ’n riem onder die hart om te sien hoe passievol hulle hul musiek kan verduidelik en alle tegniese aspekte van ’n simfonieorkes so kon oordra dat enige een, van jonk tot oud, daarby kon aanklank vind.”
Lerina van Rensburg, hoof van Ovie-Vibz, het op haar beurt gesê: “Musiek het die vermoë om mense aan te raak, harte oop te maak en drome aan te wakker.”

Daarom, sê sy, sien hulle hierdie werksessie as ’n geleentheid om nie net kennis oor te dra nie, maar ook om ’n vlam van inspirasie aan te steek in elkeen wat dit bywoon.

“Ons is baie dankbaar dat ons saam met die FAK-Jeugsimfonieorkes elke gehoorlid se verbeelding aan die sing kon kry.”

Dit was werklik ’n geleentheid wat nie elke dag op ’n mens se voorstoep beland nie en die FAK hoop om in die toekoms nog vele geleenthede soos hierdie aan te bied.