FAK-Mediaverklaring

13 Mei 2024

Daar word gesê mens moenie jou talente onder ’n maatemmer versteek nie. As daar nou een mens is wat bewys het dat dié eeueoue waarheid water dra, is dit die 24-jarige Pretoriase skrywer en sommer nou ook filantroop Anneke Langner!

Die veelsydige jong vrou se woorde verf nie net egalig oor ’n skilderdoek soos ’n kunstenaar se bekwame bestendige hand nie, sy verskuif grense in haar beskrywingsvermoë wat die jeug bladsy na bladsy vasgenael sal hou.

Langner wie se debuutroman, Platsak maak ’n plan, in April vanjaar deur NB-Uitgewers bekendgestel is, het groot opspraak gemaak, nie net omdat sy die derde jongste skrywer is wat ooit deur NB gepubliseer is nie, maar omdat sy haar talent gebruik het om jonk en oud te inspireer. Dit boonop als ook vir ’n goeie doel, om harte oop te maak aan dié wat soms nie hulself kan help nie; ons viervoetige vriende.

Na sy as jong student ’n nuusartikel raakgelees het oor ’n seun wat moet geld insamel om sy geliefde hond saam met hom oorsee te neem, was Langner, ’n selferkende diereliefhebber en “katmens,” geïnspireer om dié verhaal te vertel én deur haar skryfwerk lig te werp op die nood onder baie troeteldiere in Suid-Afrika.

Tydens die bekendstelling van haar boek het Langner gaste gevra om broodnodige items soos blikkieskos en hondepille te skenk en op Sondag 12 Mei kon sy saam met haar verloofde Johan van Zijl, met ’n warm hart dié skenking aan Wollies Animal Project oorhandig.

Langner het op sosiale media haar dank uitgespreek aan elke ondersteuner van dié projek.

“Ek en Johan het vanoggend die skenkings wat ons gekry het vir Platsak maak ’n plan se boekbekendstelling by Wollies Animal Project gaan aflaai en kon 10% van die verkope aan hulle oorbetaal,” sê sy trots.

“Elkeen van hierdie diere sê vandag dankie! Ek het vandag weer geleer, al wat elkeen soek, mens of dier, is net ’n bietjie liefde.”

Langner is nie net ’n skrywer en filantroop nie, maar werk ook tans as mediabeampte van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) waar sy elke dag haar liefde vir taal en kultuur kan uitleef en met die hele land kan deel.

Tydens die 99-jarige viering van Afrikaans as amptelike taal het sy ’n eksemplaar van haar boek aan André Alkema, voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) oorhandig en só weer die belangrikheid van Afrikaans as inheemse taal in die kalklig geplaas.

Barry Müller, die FAK se hoof van nasionale projekte, sê hierdie gebaar het net weereens bewys dat mens baie kan vermag as jy jou talente met dié rondom jou deel.

“By die FAK ken ons Anneke as ’n baie passievolle skrywer en dit is werklik prysenswaardig om te sien hoe sy met ’n eenvoudige gebaar soos die oorhandiging van ’n boek dit regkry om soveel mense se harte te raak,” sê hy.

“In April het sy mense geïnspireer om hul harte en hande oop te maak vir ons land se troeteldiere tydens haar boekbekendstelling en op 8 Mei het ons weer gesien hoe sy mense geïnspireer het om te woeker met hul taal en talente.”

André Alkema het op sy beurt gesê hierdie oorhandiging beteken vir hom baie omdat dit ’n simbool is van die voortbestaan van Afrikaans.

“Erkenning bring motivering,” sê hy. “Vandag voel ek baie trots dat ’n jong skrywer op haar manier wou hulde bring aan my en my oorlede vrou Nelie, en ek voel nederig want ek hoop dié erkenning sal ander jong mense motiveer om ook, soos Anneke, hul talente te gebruik om terug te ploeg in hul gemeenskappe én hul taal en kultuur.”

“Anneke Langner is werklik ’n inspirasie vir die jong Afrikaners om hul deel te doen om ’n beter toekoms te bou!”