Mediaverklaring

27 Maart 2024

Eugène Marais word 88 jaar ná sy dood steeds beskou as een van die mees merkwaardige mense wat ons land nog opgelewer het.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en Die Koersvas-Voortrekkerkommando het ter herdenking van sy dood ’n krans gelê by die plek in Hartebeespoort waar hy sy lewe geneem het.

Die buitengewone en uiteenlopende bydrae wat hy in sy leeftyd van 65 jaar gelewer het, word dalk vandag eers behoorlik na waarde geskat, maar is in sy tyd reeds as buitengewoon beskou.

Hy was ’n merkwaardige digter, ’n politieke rebel, invloedryke joernalis, kenner van dieregedrag, prokureur, kampvegter vir Afrikaans, sterrekundige, “wonderdokter”, prospekteerder, storieverteller en swerwer.

Ten spyte van min formele opleiding, ’n totale gebrek aan fondse en geen ondersteuningsbasis nie, het hy wetenskaplike navorsingsresultate gelewer wat eietydse natuurkenners steeds verstom.

“Hy was iemand wat ten spyte van sy persoonlike uitdagings, steeds op die voorpunt van Afrikaans ’n rol gespeel het en onbeskaamd homself was.”

Só sê Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike streke van die land.

“Dit is belangrik om figure soos Eugène se storie lewendig te hou en hierdie roerende lewensverhaal oor te dra sodat hy nie vergete gaan nie,” sê Rademeyer.

Op 29 Maart 1936 het die digter Eugène Marais ’n haelgeweer by Lood Pretorius se huis gaan haal om ’n slang in sy rondawel te skiet, maar het homself op sy vriend Gustav Preller se plaas, Pelindaba, geskiet. Daarmee het ’n einde gekom aan die tragiese lewe van een van die briljantste Afrikaners van sy tyd.

Hy het homself afgesonder in die veld en homself onder ’n boom, op ’n reënerige dag, geskiet. Dit was ’n spieël van sy laaste lewensjare en ook ’n soort logiese gevolgtrekking van sy verval in hierdie jare.

Hiermee een van die mees roerende gedigte van Eugène Marais.

𝐷𝑖𝑒 𝑇𝑜𝑤𝑒𝑛𝑎𝑟𝑒𝑠
Wat word van die meisie wat altyd alleen bly?
Sy wag nie meer vir die kom van die jagters nie;
sy maak nie meer die vuur van swart-doringhout nie.
Die wind waai verby haar ore;
sy hoor nie meer die danslied nie;
die stem van die storie-verteller is dood.
G’neen roep haar van ver nie
om mooi woorde te praat.
Sy hoor net die stem van die wind alleen,
en die wind treur altyd
omdat hy alleen is.