Ontdek ’n tuin vol geskiedkundige skatte

 Deur: Barend Groenewald

’n Skattejag het nog altyd ’n opwindende avontuur ingehou, en dis presies wat die Kompanjiestuin-skattejag in die hartjie van Kaapstad bied. Hierdie historiese tuin is in die 1600’s deur die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) aangelê met die belangrike doel om vars voedsel aan skepe te voorsien. Die toer bied ’n gulde geleentheid om die geskiedkundige verborge skatte in die plantryke tuin te soek.

Die oggend van ons avontuur was die hemelruim oop en het die son ons verwelkom. Ons het koers gekry na die ontmoetingsplek net bokant die historiese tuin. Daar is almal deur twee kundige gidse verwelkom wat eers ’n insiggewende oorsig gegee het. Onder die skadu van ’n statige geelhoutboom het die skattejag afgeskop. Die verskillende spanne het geesdriftig verskeie rigtings ingeslaan op soek na skatte. Nie fisieke skatte nie, maar eerder geskiedkundige skatte wat die ervaring van die VOC-geskiedenis lewendig gemaak het. Elke span het ’n lys vrae gehad en moes die antwoorde op fonteine, standbeelde en tussen plante soek. Met ’n mengsel van opgewondenheid en nuuskierigheid het ons vinnig deur die roostuin beweeg, en later die groente- en vrugtetuin betree waar plante, wat eeue gelede kos aan matrose verskaf het, steeds groei.

’n Hoogtepunt van ons besoek was die majestueuse saffraanpeerboom wat die oudste aangeplante boom in Suid-Afrika is. Dié 300 jaar oue boom word vanweë sy ouderdom en grootte met stutte gesteun. Die boom is voorwaar ’n toonbeeld van deursettingsvermoë en dra steeds vrugte! In die skadu van die saffraanpeerboom het ons die dag afgesluit met smullekker versnaperings – geïnspireer deur die vrugte en groente van die tuin. Lemoenkoek, wortelmuffins en druiwesap was ’n gepaste wyse om die oggend af te sluit.

Dit is wonderlik om te besef dat só ’n tuin – ryk in stories, geskiedenis en plante – ’n toevlug is in die Moederstad. ’n Herinnering aan die trotse geskiedenis en erfenis van ons Afrikaners.