Die FAK-VTM-Kunsgalery het op Donderdag 20 Maart ’n uitsonderlike seisoenopening in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument aangebied.
Die aand het afgeskop met ’n musiekitem deur tjellis, Erica Ball, BMus-student aan die Universiteit van Pretoria, met Betsie Schaap op die klavier. Ball is vanjaar die eerste ontvanger van die FAK/AON-Musiekstudiebeurs wat in 2024 ingestel is. Haar ma, Annalien Ball, is ’n wêreldberoemde pianis.
Hierdie item is met die bekendstelling van die FAK se produksie Merkers opgevolg, ’n uitvoering van musiek, prosa en verse, onder die regie van die internasionaal bekroonde rolprentmaker en musikant, Sallas de Jager. Daarna was dit die onthulling van ’n Pierneef-versameling se tuiste in die Monument.
Die FAK-VTM-Kunsgalery het sy ontstaan in 2022 gehad met die gedagte om Afrikaanse kunstenaars aan die wêreldwye mark bloot te stel. Die Senotaafsaal in die Voortrekkermonument het die ideale ruimte geskep, gegewe dat die Monument een van die toptoeristebestemmings in Suid-Afrika is en deur duisende internasionale toeriste besoek word.
Saam met die Sonop-Pierneef-versameling wat nou ’n nuwe tuiste in die galery gevind het, word werke van internasionaal erkende kunstenaars soos onder andere Kobus Möller, Gerrit Pitout en Elsa Cornelissen te koop aangebied. Werke deur Riaan Prinsloo, ’n nuwe naam wat kunsliefhebbers, versamelaars en kopers aan die gons het, is ook hier beskikbaar.
Die unieke aand het tydlose skilderkuns, musiek, prosa en digkuns, asook gasvryheid in die hart van die indrukwekkende Voortrekkermonument gekombineer om ’n eksklusiewe ervaring vir die gaste te gee.
“Dit is geweldig lekker om weer terug op die verhoog te wees ná jare agter die skerms en veral as deel van so ’n eiesoortige produksie”, sê Sallas de Jager, wat bekendheid in die Afrikaanse musiekbedryf verwerf het as lid van Klopjag in die vroeë 2000’s.
Volgens De Jager, wat ook die regie en samestelling gedoen het van soortgelyke vertonings vir KKNK, Aardklop, Innibos en die Woordfees soos Hier huil jy net twee keer, Baby, as ek verby ry (Dana Snyman en Klopjag) en Droogland (saam met Jan Blohm en Neil Sandilands), was die samestelling van Merkers ’n groot voorreg. Die produksie is saamgestel uit die woorde en musiek van onder andere Koos du Plessis, Lucas Maree, Jan Blohm, Breyten Breytenbach, Bibi Slippers, David Kramer, Ingrid Jonker, Koos Kombuis, Piet de Jager, Anton Goosen en Johannes Kerkorrel – werke wat werklik merkers was in ons samelewing.
“Dit is ook ’n voorreg om op my kitaar saam met die sangeres en vioolspeler Charmilé Strauss, Jaco van Staden op die Franse horing, en Rejeanne Kruger op die klavier te mag musiek maak,” sê hy.
Die unieke verwerkings van tydlose musiek is met bindingsteks vervleg wat deur die twee baie talentvolle opkomende akteurs Christo Beer en Kirstin Naudé voorgedra is.
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument, lei hierdie seisoenopening van die FAK-VTM-Kunsgalery, saam met die bekendstelling van Merkers, ’n nuwe seisoen van wêreldgehalte aanbiedings en uitstallings in wat by die Kultuurtuiste aangebied gaan word.
“Die FAK is reeds vir 96 jaar die beskermheer van die Afrikaanse kuns en kultuur en die kunstenaars wat dit skep en vernuwe. Dit is daarom belangrik dat die platvorm hier by die Kultuurtuiste geskep is en deurlopend uitgebou sal word om skeppende én uitvoerende kunstenaars se werk te vier en aan te bied,” sê Langner.
Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en Voortrekkermonument, oorhandig ’n oorkonde aan Erica Ball, 2025 se FAK/AON-Musiekstudiebeurswenner.
Die twee akteurs in die Merkers-produksie is Christo Beer en Kirstin Naudé.
Merkers se orkes bestaan uit Charmilé Strauss, Sallas de Jager en Jaco van Staden.
Rejeanne Kruger op klavier.