Verlede naweek het aspirant-kunstenaars en kunsstudente bymekaargekom vir ’n wonderlike leerervaring by die Teoretiese Kunsslypskool, aangebied deur die bekroonde kunstenaar Kobus Möller by die Voortrekkermonument se Kruger-galery.
Hierdie unieke geleentheid het ’n kans vir opkomende kunstenaars gegee om by ’n wêreldbekende meester te leer.
Marize Möller, kurator van die FAK-VTM Kunsgalery, het die galery se toewyding aan die handhawing van die waarde van oorspronklike kuns beklemtoon, en deel dat dit by die FAK-VTM Kunsgalery uiters belangrik is om die waarde van oorspronklike kuns sover as moontlik te beskerm en behou.
“Die galery is toegewyd aan die uitstalling van oorspronklike werke, en ons wil graag hierdie beginsel oordra aan jong studente en opkomende kunstenaars. Ons primêre doel is om ’n grondige waarderingskultuur vir goeie kuns te hervestig, en die beste manier om dit te bereik, is om bestaande meesters te nooi om hul kennis te deel,” sê Möller.
Kobus Möller het kunstenaars aangemoedig om hulself voortdurend uit te daag, en gesê:
“Kunstenaars moet altyd daarna streef om te groei in hul kuns en groot te droom, nuwe tegnieke probeer en beoefen, en aspireer om ’n erfenis na te laat deur hul kuns.”
Vir Emmie Fouché, een van die studente wat bygewoon het, was die ervaring transformerend. “Baie dankie vir die aanbieding! Dit het my met nuwe oë laat kyk en ek het tot die besef gekom, dat dit nie net is om ’n mooi prentjie te skilder nie, maar om die kunswerk werklik uniek te maak en jou eie stempel af te druk.”
Die FAK-VTM Kunsgalery bly daartoe verbind om die toekoms van kuns te koester deur kreatiewe uitnemendheid te bevorder en die kulturele nalatenskap van oorspronklike kunstenaars te bewaar.