Die Pretoria Eisteddfod Gala-aand het gisteraand plaasgevind by die Affies Ouditorium – ‘n aand gevul met talent en toekennings!
Die FAK het met trots die wisseltrofee vir “Mees belowende blaser (10–14 jaar)” aan Mikayla Venter oorhandig, ’n talentvolle trompetspeler van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. FAK projekbeamte van skole, musiek en kuns, Lieandri Ackermann, het die toekenning oorhandig.
“Ek is baie dankbaar vir hierdie trofee, ek het baie hard geoefen hiervoor. Ek sou enige musikant sterk aanraai om aan hierdie kompetisie deel te neem – dit bou regtig jou selfvertroue,” deel Mikayla met opgewondenheid.
Lieandri het ook haar trots gedeel: “Ek is baie trots op Mikayla wat so goed gevaar het. Hierdie tipe gesonde kompetisies help kinders regtig om hulself te ontwikkel. Ons sien baie uit daarna om Mikayla, GRATIS, as lid van die FAK Jeugsimfonieorkes vir die volgende jaar te verwelkom!”