Die FAK/VTM Kunsgalery het met trots sy eerste skoolgroep, Mokopane Destiny Academy, vir ’n spesiale besoek verwelkom. Die akademie se kunsstudente het die unieke geleentheid gehad om die galery te verken en betrokke te raak by die werke wat uitgestal is, wat ’n belangrike mylpaal vir beide die galery en die skool was.

Elsa Cornelissen, ’n talentvolle kunstenaar wie se werke tans in die galery uitgestal word, het die toer waargeneem en haar vreugde oor die ervaring gedeel. “Dit is so belangrik om kinders van kuns te leer, en ek het die geleentheid met ope arms aangegryp,” sê Cornelissen. “Die kinders was ongelooflik nuuskierig en het baie insiggewende vrae gevra.”

Marize Möller, die kurator van die FAK/VTM Kunsgalery, was ewe entoesiasties oor die besoek. “Die skool het al die pad uit Limpopo gekom! Die entoesiasme van die Mokopane Destiny Academy-studente was aansteeklik. Ons sal graag wil sien dat ander skole hul voorbeeld volg en ons kunsgalery kom besoek,” het Möller opgemerk.

Die FAK/VTM Kunsgalery moedig ander opvoedkundige instellings aan om hul studente te bring vir ’n verrykende ervaring wat ’n liefde vir kuns en kultuur kweek. Die galery bied ’n unieke omgewing waar jong geeste kan verken, leer en geïnspireer word deur Suid-Afrikaanse kuns.

 

Lesiso Metsudi, ‘n leering in graad 7 meen dat sy dit baie geniet het: “Hierdie ervaring was ongelooflik omdat ek van al die verskillende kunsmediums geleer het. Ek het vandag baie kuns en beeldhouwerke gesien. Dit was ook ‘n ongelooflike ervaring om die historiese artefakte te sien.”