Hoendervleis, trane wat vlak lê, skouers wat op die maat van musiek wieg en luide applous. Dít was die emosiebelaaide skouspel wat hom op Saterdag 10 Mei in die Voortrekkermonument se Heldesaal afgespeel het tydens die jaarlikse Monumentale Koorfees.

Dit is die derde jaar wat die Monumentale Koorfees in samewerking met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en SingFonix aangebied word, en vanjaar het dié fees vir die eerste keer gasheer gespeel vir die geliefde groep Klopjag wat tydens die twee vertonings van hul bekendste treffers saam met ’n massakoor van hoër- en laerskoolsangers opgevoer het.

“Die Monumentale Koorfees is nie net ’n musiekfees nie; dit is ’n weerspieëling van die wonder van musiek,” sê Lieandri Ackermann, projekbeampte by die FAK.

“Die fees het oor die afgelope paar jaar een van dié geleenthede geword wat elke musiekliefhebber op hul kalenders neerpen en vanjaar het die 12 deelnemende kore weer bewys waarom dié besonderse koorgebeurtenis jaarliks deur honderde mense bygewoon word.”

Vanjaar, met die landswye viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal, het die kore ook Afrikaanse liedere deur die Monument laat eggo.

Die eerste vertoning is afgeskop deur Laerskool Garsfontein se seniorkoor, waarna Laerskool Tygerpoort se juniorkoor, Rietondale High School, Laerskool Lynnwood se seniorkoor, Laerskool Garsfontein se juniorkoor en Hoërskool Montana die gehoor gou aan’ t sing gehad en die voete behoorlik laat jeuk het.

Dié besonderse vertoning is opgevolg deur die bekende SingFonix-mansensemble onder leiding van Riekie van Aswegen wat ’n warm atmosfeer geskep het vir Laerskool Wonderboom se senior- en juniorkoor, Hoërskool Gerrit Maritz, die Magaliesberg Kinderkoor en Laerskool Elarduspark se juniorkoor.

Sallas de Jager, die FAK se hoof van kultuurprojekte, het as seremoniemeester opgetree en was in vervoering oor die talent en passie waarmee die jong sangers hul liefde vir koorsang uitleef.

“Die Engelse praat van FOMO, die sogenaamde ‘fear of missing out’, en ek glo vas dat enigiemand wat nie die geleentheid kon bywoon nie, beslis sal sorg dat hulle volgende jaar se Monumentale Koorfees bywoon,” sê De Jager.

“Vir die FAK is die ontwikkeling van ons land se jeug ’n hartsaak. Daarom is dit spesiaal om hierdie fees met ouers, onderwysers, dirigente en ondersteuners te deel wat saam met ons die vlam in hierdie jongmense lewend hou.”

De Jager het ook van die geleentheid gebruik gemaak om sy opregte dank uit te spreek aan Mont Pellier wynlandgoed en Yogurt Cheese wat gasheer gespeel het vir die eregaste tydens die koorfees.

Riekie van Aswegen, dirigent van SingFonix, het ná afloop van die twee vertonings haar dank uitgespreek aan almal wat hierdie aand moontlik gemaak het.

“Die Monumentale Koorfees is vir my elke jaar ’n mooi geleentheid, maar vanjaar was daar net iets anders. Dit was asof daar nuwe lewe in die Monument geblaas is. ’n Mens kon werklik die emosie in die Heldesaal voel,” sê sy.

Albei vertonings is afgesluit met ’n massakooropvoering saam met Sallas de Jager, Marie-Louise Diedericks en John-Henry Opperman, drie lede van die bekende groep Klopjag.

Die FAK hou ons taal kultuur en geskiedenis lewend met verskeie projekte vir oud en jonk. Stuur ’n e-pos na [email protected] as jy meer wil uitvind oor toekomstige funksies, feeste en geleenthede by die FAK.