Deur Seugnet van Zyl

JuneBé du Preez, ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Vredenburg aan die Weskus in die Wes-Kaap, het vanjaar vir die eerste keer aan die FAK Internasionale Afrikaans-ekspo deelgeneem. Sy het nie net die kunsafdeling met haar skildery van die Taalmonument gewen nie, maar is ook as algehele wenner van dié ekspo gekroon.

“Dit voel ongelooflik. Ek kon dit nie glo nie! Nie eens toe die bewyse voor my op my ma se foon was nie. Ek voel ok so geëerd om nie net die wenner van die kunsafdeling te wees nie, maar om die algehele wenner te wees!”

JuneBé sê sy is van kleins af lief vir kleure en om kreatief te wees.

“My belangstelling het in gr.6 begin ná my onderwyser my vir die kunseisteddfod ingeskryf het. Van daar af was ek versot op kuns en wou ek konstant aan enige geleentheid om my kuns te beoefen, deelneem.”

Sy verkies om meestal met olieverf te skilder, omdat dit sy met dié verf makliker kan kleure meng as akriel. Olieverf vat wel langer as akrielverf om droog te word.

“Vir my kunswerk vir die ekspo het ek wel akrielverf gebruik, omdat ek effens gedruk vir tyd was.”

Waaruit put sy inspirasie?

“Nogal uit enigiets! Dit hang meestal af wanneer ek ’n idee kry. Vir die blommeseisoen in Namakwaland het ek hesssian-sakke met blomtonele beskilder. Daarvoor het ek inspirasie gekry uit ons gesinsfoto’s van vakansies daar. Vir die ekspo was ek weer geÏnspireer deur my herinneringe van besoeke aan die Taalmonument in die Paarl. Dit hang maar net af van die oomblik.”

JuneBé vertel sy het het juis op die Taalmonument as onderwerp vir haar ekspo-inskrywing besluit omdat sy van jongs af saam met haar ouers en jonger boetie, Thiedu (12)  dié monument besoek het.

“Ek onthou hoe my ouers altyd vertel het dat die Taalmonument die enigste monument in die wêreld vir taal is. Daar is heelwat foto’s in ons gesin se albums waar ek iewers by dié monument teen trappies afloop of op die muur staan en opkyk na die toring. Ons woon in die Weskus, maar reis gereeld deur die hele land. Ons het vroeër ’n tradisie gehad dat as ons roete terug huis toe verby die Paarl gaan, ons altyd ons vakansie met ’n koeldrank by die Taalmonument afsluit.”

Sy beskryf dié wenskildery, Taalmonument tot Toekoms, as volg: “So vas soos die Afrikaanse Taalmonument bokant die Paarl geanker is, so vas sal dié taal die toekoms kan ingaan. Afrikaans put sy krag uit sy gemengde geskiedenis waaraan almal wat dit praat en lees deel gehad het. Waar dit kan groei tot een van Suid-Afrika se mengelmoes van tale. En solank die mense wat dit praat, lees, skryf, sing en bid dit help om te groei, sal dit trots een van die tale van die land se toekoms wees. Al wat ons moet doen, is om aan te hou dit te gebruik – as ons gedeelde erfenis, maar ook as die taal van volgende geslagte. Hou die fakkel van Afrikaans aan die brand en skyn lig op die pad na die toekoms van ons taal.”

JuneBé sê sy het gekies om ’n fakkel in dié kunswerk te sit, omdat die simbool van die FAK is.

“Net soos wat ’n fakkel lig gee in die donker simboliseer die Taalmonument ’n lig vir Afrikaans as taal, op pad na die toekoms.”

Die lekkerste vir haar van dié ekspo is die verskeie kategorieë.

“Gewoonlik is die meeste kompetisies slegs op een aspek gerig, maar die keer kon ek my liefde vir kuns en woorde in en kompetisie uitleef.”