Op Saterdag 24 Mei het ’n groep FAK-lede en -vriende ’n besonderse staptoer deur die hart van Stellenbosch onderneem – nie bloot om die dorp se argitektuur of geskiedenis te bewonder nie, maar om Jan Marais, ook bekend as die Goeie Gewer, van nader te leer ken.
Die toer, aangebied deur die FAK se Kaap-kantoor, het by die Onder-Papegaaiberg-begraafplaas afgeskop, waar Jan Marais saam met sy familie in ’n afgebakende Marais-akker rus. “Om by sy graf stil te staan en die name van sy geliefdes om hom te sien, bring perspektief op wie hy werklik was – ’n nederige man met ’n groot hart vir sy gemeenskap,” vertel Elizma Smith, kultuurkoördineerder van die Kaapprovinsies.
Een van die deelnemers aan die toer, Eduan Naudé, verwoord dit só: “Vir ’n Matie is Jan Marais meestal net ’n naam – die oom op die Rooiplein en die park bo in Victoriastraat. Hierdie toer het my egter weer herinner hoe indrukwekkend hy werklik was. Dit was ’n belewenis om nader aan Marais as mens te kom – van koffie by sy graf, sap in sy voortuin, tot middagete by sy nalatenskap in die botaniese tuin. Ons het selfs die Universiteit Stellenbosch (US) se argief en spesiale versamelings besoek – wat ek so liefhet – en dit was ’n voorreg om ander se verwondering te sien wat dit vir die eerste keer beleef.”
Die groep het al langs die paadjies deur die dorp gestap en stilgestaan by plekke wat direk met Marais geassosieer word. Die besoek aan sy standbeeld op die Rooiplein, geskep deur beeldhouer Coert Steynberg, was een van die hoogtepunte. Daar is met deernis vertel van Jan en sy vrou Elizabeth (“tante Bes”) se onbaatsugtige betrokkenheid by studente – hoe hulle huis op Coetzenburg ’n tuiste en toevlug vir vele jongmense geword het. “Tante Bes het studente aangemoedig en geïnspireer – iets waarvan ons nog vandag die uitwerking sien,” sê Smith.
Daarna het die toerlede ’n draai gaan maak by die US se argief en biblioteek, waar oorspronklike dokumente en artefakte uit Marais se lewe hul stories begin vertel het. Die dag is afgesluit met ’n rustige middagete in die Jannie Marais Botaniese Tuin – ’n gepaste plek om te besin oor ’n lewe van gee.
Sy onbaatsugtigheid het gesorg dat die US, Die Burger, die Jan Marais Stigting en soveel meer in sy naam gedoen en gebou is.
Presies 110 jaar ná sy afsterwe op 30 Mei 1915, het hierdie staptoer nie net ’n geskiedkundige figuur geëer nie, maar ’n man met visie, empatie en ’n liefde vir sy volk. ’n Ware goeie gewer – wie se nalatenskap vandag steeds harte aanraak.