Mediaverklaring

31 Mei 2024

In die hoofstraat van Carolina staan die standbeeld van veldkornet Adriaan Jacobus de Lange vandag weer trots sy plek vol, na dié beeld onlangs deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gerestoureer en verskuif is.

Die Carolina Burgermonument, wat sedert 1930 voor die NG Kerk staan, is in Junie 2021 gevandaliseer en na byna drie jaar is dié besonderse monument uiteindelik tot sy vorige glorie herstel en op 31 Mei, die herdenking van Republiekdag, weer amptelik deur die FAK onthul. Die monument staan nou op ’n ander deel van die kerk se gronde.

Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, sê hierdie projek is weereens ’n bewys van die kan-kultuur wat in ons land heers en sê hy is dankbaar vir elke gemeenskapslid wat by die projek betrokke geraak het.

“Lizelle van Aswegen, ’n plaaslike sakevrou en eienaar van verskeie gastehuise, het ’n ruk na die beeld aanvanklik gevandaliseer is, op die kop afgekom in die hoek van een van haar erwe. Sy het kontak gemaak met die FAK en uiteindelik kon ons met die proses begin om hierdie waardevolle stuk geskiedenis te herstel.”

“Dit is vir my ook gepas dat ons die beeld op Republiekdag onthul, want dit herbevestig hoe hierdie land met die deursettingsvermoë, durf en daad van ons voorouers gebou is en vandag is ek trots om te sê ons eer hierdie nalatenskap deur self, as Carolina-gemeenskap en die FAK, moue op te rol en ons erfenis die toekoms in te dra,” sê Müller.

Müller het voorts gesê die standbeeld het ’n ryk geskiedenis wat Ermelo en Carolina verbind en vertolk die verhaal van die Slag van Spioenkop, waartydens die Boere swaar verliese gely het.

De Lange was ’n Boerekryger wat van 1882 tot 1883 as deel van die Mapoch-kommando oorlog gevoer het, asook tydens die Anglo-Boereoorlog in 1899. Hy was op 24 Junie 1900 die held van die Slag van Spioenkop, waartydens hy kop- en armwonde opgedoen het.

“Ons moet altyd onthou van die opofferings wat ons voorouers gemaak het om vir ons ’n tuiste te bou én ons moet hierop voortbou,” sê Müller.

Die NG Kerk Carolina se geskiedenis is net so sterk deurweef met die geskiedenis van die oorlog met die hoeksteen wat reeds in 1888 gelê is.

Tydens die onthullingsgeleentheid het prof. Fransjohan Pretorius ’n interessante lesing gegee oor die rol van die Carolina-kommando in die Anglo-Boereoorlog, tog vertel hy staan die manne se ervaring vir hom meer uit as die historiese feite van die Slag van Spioenkop.

“Hierdie geleentheid en die geskiedenis wat dit voorafgegaan het, leer ons vandag om in ons geloof te verdiep. Die oorlog het die manne en vroue wat daaraan deelgeneem het, geleer om in geloof te verdiep en daarom is dit so belangrik om hierdie mense te eer en te onthou, want dit leer ons om vandag ook vas te klou aan ons geloof en die hoop vir ’n beter toekoms. Kmdt. Hendrik Prinsloo het dit self geskryf: ‘Ek moet sê dat in my hele lewe ek die hand van die Here nie so duidelik en sigbaar gevoel het as in die tyd wat ek op kommando was nie’,” sê Pretorius.

Hy is opgevolg deur dr. Tiaan Schutte wat op sy beurt gepraat het oor die ongevalle van die Carolina-kommando tydens die oorlog van 1899 tot 1902.

“Cornelis Potgieter (17) was die jongste wat gesneuwel het op kommando. 13 van die burgers wat gesneuwel het se name staan op die monument. Carolina kan trots wees op wat hul bydrae was vir die oorlog,” sê Schutte.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het ook die geleentheid bygewoon en vertel waarom dit belangrik is om in vandag se tye steeds die bydrae van dié wat voor ons gekom het, te onthou én getrou te onderhou.

“Vandag staan ons hier om ’n monument te onthul en ons erfenis te vier, tog dink ek is dit belangrik om te let hoeveel kinders en jongmense hier by ons is. Wat my betref, is hulle vandag die belangrike gaste, daarom wil ek hulle in die oë kyk en met hulle praat,” sê Langner.

“Ek was ’n paar weke gelede in die VSA waar jy oorweldig word deur museums en trots op hul museums. Dit het my weer laat dink aan die Bybelteks ‘my erfenis is vir my mooi’.”

Dié teks is vir Langner die rede waarom organisasies soos die FAK saam met gemeenskappe werk om hul erfenis te bewaar, tog vertel hy lê die betekenis daarvan veel dieper.

“My erfenis is vir my mooi. Vir my lê die sleutel hiér in die woord ‘my’. Hierdie storie wat hierdie monument vertel, is my storie, dis óns storie. Dit is stories van vasbyt, aanhou en deurdruk, en vriende wat huil as hul vriende sneuwel. Hierdie monument is nie net nog ’n monument nie, maar as jy hier in Carolina bly, is dit jóú monument en dit is mooi. Die monument vertel ons ook van die liefde van God – Selfs in die moeilike tye in ons geskiedenis was die Here by Carolina-kommando en so ook is hy vandag by ons en dit is mooi. Vandag het julle as Carolina-gemeenskap saamgekom en met ’n duidelike ‘ja’, met ’n uitroepteken, gesê: ‘Ons erfenis is vir ons mooi.’”